Reis

5 lekker doendinge in Harties

1. Ry die kabelkar

Dis 'n totaal anderster ervaring as Tafelberg se kabelkar. Die karretjies is kleiner - elkeen van die 14 karretjies kan net 6 mense vervoer - en jy voel nooit so ingedruk in 'n blik soos Tafelberg s'n soms kan voel nie. Op pad op (of af) is dit so stil dat jy selfs die voëltjies in die bos onder jou kan hoor.

Bo gekom is hier netjiese wandelpaadjies met uitkykpunte waar borde vir jou vertel watter bakens jy in die verte kan sien. Hier is speelplek vir kinders, 'n restaurant, kroeg, roomyswinkel en pizzaplek.

Hartbeespoort se sweefspoor.
Hartbeespoort se sweefspoor.

Waar? Teen die Magaliesberg naby Schoemansville

GPS S25.71995 E27.88467

Koste: R195 p.p. en R115 vir kinders 4-14 jaar oud (gratis vir kinders jonger as 4). Pryse vir retoerkaartjies. Skoolgroepe kry afslag.

Kontak: 012 253 9910; www.hartiescableway.co.za

2. Stap 'n draai

Soos die naam aandui, lê Hennops Trails op die oewer van die Hennopsrivier. Dis die eerste, beste plek vir ordentlik bene rek as jy 'n staphonger Johannesburger is.

Hier is drie staproetes. Vat die kinders saam op die maklike 2,5 km-Dassieroete. Op die 6 km-Sebraroete kan jy wild soos sebra, blesbok en koedoe sien en die langer 11 km-Krokodilbergroete is vir die fikser geeste.

Hier's ook 'n bergfietsroete (16 km) en 4x4-roete (9 km). Basiese blyplek is beskikbaar, asook 'n piekniekplek langs die rivier vir die dagbesoekers.

Toast Coetzer op die hangbrug by Hennops Trails.
Toast Coetzer op die hangbrug by Hennops Trails.

Waar? Hennops Trails is langs die R511 suid van die dam.

GPS S25.79783 E27.98715

Koste: R60 p.p. en R30 per laerskoolkind. (Vir stap en/of piekniek.)

Oop Oor naweke kan jy bloot inry (vanaf 7 vm.-1 nm.), maar op weeksdae moet jy die plaas vooraf skakel om te reël.

Kontak: 086 152 2262 (blyplek-besprekings); 082 825 9205 (plaas); www.hennopstrails.co.za

3. Vaar op die dam

Indien jy nie jou eie bootjie het nie, kan jy altyd saam met ouens gaan vaar wat die dam goed ken. Water Freaks bied als van rustige vaarte tot jet-bootvaarte, waterski en kniebordry, of jy kan aan 'n binneband vasklou en natword op allerhande kreatiewe maniere. Hulle het 'n boot met plek vir 12 mense en een met plek vir 6 mense.

Toro Ya Me se groot boot het plek vir tot 35 mense, en vaarte wissel tussen 1 en 3 uur.

Jy kan ook op kort vaarte gaan by die Harties Water Sports Centre, geleë binne die slang- en dierepark. Hulle veerboot is groot en kan tot 100 mense vervoer.

Transvaal-seiljagklub.
Transvaal-seiljagklub.

Water Freaks

Waar? Schoemansville-oewerklub

GPS S25.73357 E27.86762

Koste: R250 p.p. vir 'n uur lange vaart; R180 p.p. vir 40 minute. Kinders jonger as 12 kry afslag (gratis vir kinders jonger as 3). Jet-boot: R250 p.p. vir 15 minute. Pryse sluit toegang tot die Oewerklub in.

Kontak: 072 265 7539 (Mandy); www.waterfreaks.co.za

Toro Ya Me

Waar? Schoemansville-oewerklub

GPS S25.73374 E27.86913

Koste: 'n Uur lange vaart: R180 p.p. (sluit toegang in tot die Oewerklub). 'n Drie uur lange vaart: R5100 vir die hele boot (tot 35 mense), maar jy moet nog jou Oewerklub-toegang (R10 p.p.) betaal. Besprekings noodsaaklik.

Kontak: 082 810 5399 (Derna); www.toroyame.co.za

Harties Water Sports Centre

Waar? By die slangpark (jy moet eers toegang betaal tot die slangpark)

GPS S25.72892 E27.85897

Koste: Halfuurvaarte kos R50 p.p. en R30 per kind tussen 3 en 12 jaar. Vaarte duur sowat 25 minute. Geen besprekings nodig nie.

Kontak: 012 253 2616; www.hartieswatersports.co.za

Schoemansville-oewerklub
Schoemansville-oewerklub

4. Kyk en beleef diere

Die Hartbeespoortdam slang-en-dierepark het iets vir almal. Behalwe vir die slange is hier ook onder meer sjimpansees, apies, aasvoëls, ratels, reuse skilpaaie, leeus en tiere.

By die Elephant Sanctuary en die Monkey Sanctuary (ook bekend as Bushbabies) kom jy naby aan dié diere - die twee plekke is op dieselfde perseel. Tydens die ‘Olifant-interaksie' stap jy saam met die olifante se hanteerders, en kry kans om aan die olifante te raak en te sien waar hulle slaap. Jy kan ook op 'n olifant se rug ry (dit kos ekstra).

Die Monkey Sanctuary se apies, nagapies en lemurs kom almal uit die troeteldierhandel en het hier kom ‘aftree'. Hulle beweeg vrylik rond in 'n baie groot gebied (7 hektaar) - jy stap tussen hulle (onder toesig van 'n gids).

Die bekende Ann van Dyk Cheetah Centre by De Wildt is ook binne trefafstand van Hartbeespoortdam. Hulle beywer hulle al sedert 1971 vir die bewaring van jagluiperds en wildehonde.

Hartbeespoortdam slang-en-dierepark

Waar? Schoemansville

GPS S25.72892 E27.85897

Toegang: R100 p.p. en R50 vir kinders 3-12 jaar.

Oop 8 vm. tot laatmiddag (toemaaktyd word oor die luidsprekers afgekondig)

Kontak: 012 253 1162; www.hartbeespoortsnakeanimalpark.co.za

Monkey & Elephant Experience

Waar? Damdoryn

GPS S25.71942 E27.80455

Koste: Elephant Sanctuary: Olifant-interaksie (2 uur) kos R695 p.p. of R295 vir kinders 4-14 jaar. Olifantry (5-10 min.): R495 p.p. of R325 vir kinders 8-14 jaar. Monkey Sanctuary: R275 p.p. en R170 vir kinders 4-14 jaar. Skoolgroepe kry afslag. Kontak hulle direk vir die onderskeie tye.

Kontak: 012 258 9908; www.monkeysanctuary.co.za; www.elephantsanctuary.co.za

Die Ann van Dyk Cheetah Centre - De Wildt

Waar? Noordoos van die dam, langs die R513

GPS S25.67469 E27.92171

Koste en tye: Cheetah Run & Touch Experience: R420 p.p. en R220 per kind 6-12 jaar (geen kinders jonger as 6 toegelaat). Besprekings noodsaaklik.

Begeleide toer en Touch Experience (3 uur): R320 p.p. en R160 per kind 6-12. Gesinstoer (wel geskik vir kinders jonger as 6 jaar): R220 p.p. en R110 per kind jonger as 6. Kontak hulle direk vir tye.

Kontak: 012 504 9906; www.dewildt.co.za

5. Hang uit by Jasmyn

Hierdie ‘padstal' met sy ikoniese windmeul is nou al sedert 2006 deel van die Hartbeespoort-landskap. Wanneer jy van Johannesburg se kant af die Harties-area binnery, voel dit soos die eerste, beste rushalte wat jy sien, en dis dalk hoekom soveel mense hier inklok.

Hier's 'n restaurant ook, maar dis die massiewe plaaswinkel wat die massas laat kom trolliestoot. Baie van die vars groente wat hier verkoop word kom van die plaas direk agter Jasmyn. Die plaas se 450 Jerseykoeie lewer daagliks sowat 9000 liter melk waarvan onder meer kaas en jogurt gemaak word. Hulle het ook hulle eie konfytfabriek, en hier's 200 varke.

Dis oorweldigend wat jy als by Jasmyn kan koop - en hier's 'n boekwinkel ook!

Waar? Meerhof

GPS S25.75394 E27.91010

Oop Ma. tot So. 8 vm.-5.30 nm. (winter); 8 vm.-6 nm. (somer)

Kontak: 012 259 1183

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM