Reis

Leser vertel: 70 jaar met 7 selfgeboude waens

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

As seuntjie en tiener het Corn Booyens elke jaar saam met sy bouer-pa, Hannes, en ma, Susan, in twee selfgeboude woonwaens vakansie gehou.

Corn het sy pa destyds gehelp om hulle tweede wa te bou, en 'n jaar nadat hy en en sy vrou Rina in 1967 getroud is, het hy vir hulle hulle eerste wa, die Corina 1, gebou.

Deur die jare het hy nog vier Corina-waens gebou.

Al dié tuisgeboude Corinas se staalrame was baie stabiel en nie een van die Corina-waens het ooit 'n lekplek gekry nie.

Corina 2 is in 1992 by die Hoërskool Nelspruit, waar Corn jare lank die hoof was, verwoes deur 'n bom.

Corina 3 het langs die pad saam met die sleepvoertuig uitgebrand weens 'n fout met die voertuig se remstelsel. Maar Corn het weer ingespring en vir hulle waens gebou.

Toe hy en Rina op Modimolle aftree, het hulle steeds die land én buurlande platgery met hulle boswa, Corina 4, en woonwa, Corina 5.

Daardie eerste wa

In 1946 sleep die familie hulle heel eerste wa met 'n 1936 Chev.
In 1946 sleep die familie hulle heel eerste wa met 'n 1936 Chev.

Ek was drie toe my pa, Hannes, in 1945 in Edenvale begin bou het aan ons eerste wa. In Julie 1946 het ons die eerste keer met daardie wa gaan vakansie hou - in die Thuliblok.

Daardie eerste wa het my ouers 13 jaar lank gesleep en toe verkoop.

Groter en beter

In 1959 bou my pa ons tweede wa. Ek is 16 en ek help. Dié wa moes groter, want my ma wil 'n binnekombuis en meer pakplek hê.

My ouers toer die land plat met dié wa tot my pa 84 jaar oud is. Nadat my pa in 1999 oorlede is, word die wa aan 'n boorman geskenk.

Ons eerste Corina

Die eerste Corina in 1967.
Die eerste Corina in 1967.

Ek en Rina trou in 1966. Op ons wittebrood in die Natalse Suidkus koop ek 'n grafiekboek en begin ons twee se eerste woonwa ontwerp. Dit was die begin van ons Corina-reeks.

In 1967 begin ek Corina 1 - 'n samestelling van my en Rina se name - in my pa se werkwinkel by sy huis in Edenvale bou.

Ek verkoop Corina 1 aan die begin van 1975.

Tyd vir Corina 2

Hierdie foto is in 1975 geneem. Die tweede Corina is in 1992 opgeblaas.
Hierdie foto is in 1975 geneem. Die tweede Corina is in 1992 opgeblaas.

Corina 1 het twee probleme gehad wat op toervakansies lastig was: die klein en ondoeltreffende yskas; en die tent, tafel en stoele wat los binne-in die woonwa gelaai moes word.

Corina 2, wat ek in 1975 bou, het 'n binne-uitleg wat basies dieselfde is as sy voorganger, maar hy het 'n groter kombuis, vir 'n behoorlike yskas.

Ons toer met Corina 2 na die plekke waar Corina 1 ook was, maar op 22 Maart 1992 word Corina 2 by ons huis by Hoërskool Nelspruit opgeblaas in 'n bomontploffing.

'n Wa vir die hele gesin

Ons het Corina 2 altesame 17 jaar gehad, en in dié tyd is ons kinders, Hannes, Alida en Susan, gebore. Ons nuwe wa moes plek hê vir hulle.

In April 1992 begin ek bou, en in Desember hou ons ons eerste vakansie met Corina 3.

Corina 3
Corina 3

Eilandbeddens in woonwaens is teen dié tyd gewild, en Corina 3 kry 'n aparte slaapkamer met 'n eilanddubbelbed asook 'n volledige kombuis met 'n eethoek en sitkamer wat in 'n slaapkamer met drie beddens omskep kan word.

Ek bou haar op dieselfde manier as Corina 2, maar hy kry 'n dubbelas met rubbervering en inloopremme.

Ons sleep met haar reg oor Suid-Afrika en Swaziland, maar op 4 Januarie 2012 kom Corina 3 tot 'n einde toe hy en ons Prado op 'n reis buite Pinetown uitbrand as gevolg van 'n fout met die voertuig se remstelsel.

Corina 3 brand uit.
Corina 3 brand uit.

Tyd vir 'n boswa...

Ná ons aftrede einde 2004 doen ons heerlike ekotoere met ons Prado en 'n daktent. Ons deurkruis Suid-Afrika en reis ook na Namibië, Kaokoland, Angola, Zimbabwe, Tanzanië, Kenia, Zanzibar, Malawi en Mosambiek.

Die keerpunt kom in die Richtersveld toe Rina in die nag 'n draai wil loop, die trapleer mistrap en val...

Rina se val lei tot die bou van Corina 4, 'n stewige boswa. Dié wa, wat 2,4 m lank is, is vir twee mense en het 'n dubbelbed, heelwat pakplek, 'n opslaandak, 100 l-watertenk, volledige kombuis, buitestort en binnetoilet.

Met Corina 4 ry ons talle bykans onbegaanbare 4x4-roetes en duine in Kaokoland, Namibië, die Richtersveld, Botswana en die ou Transkei.

Só lyk die Corina 4, 'n stewige boswa, in 1994.
Só lyk die Corina 4, 'n stewige boswa, in 1994.

... en 'n laaste woonwa

Corina 5
Corina 5

Nadat Corina 3 uitgebrand het, het ek in September 2012 begin bou aan Corina 5, en drie maande later gaan hou ons met hom vakansie in die Suidkus van KwaZulu-Natal.

Ek gebruik dieselfde beproefde boumetode, maar sien af van die rubbervering-as en gebuik die beproefde bladveerstelsel.

Die wa het slaapplek vir vier, weer met 'n eilandbed en 'n volledig toegeruste binnekombuis.

Het jy ou foto's van gesinksvakansies en -reise uit toeka se dae?

Stuur dit na redakteur@weg.co.za en ons gebruik dit dalk in die tydskrif!

• Hierdie artikel het oorsponklik in Oktober 2016 op Weg se webblad verskyn. Feite en geite kon sedertdien verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM