Woorde en foto's: Gerda Engelbrecht
VIR DIE FIKSES…
1. Tree vir tree
Pak jou tekkies in! Hermanus en omgewing is 'n stapper se paradys.

SIT JOU VOET DWARS. Fernkloof bied iets vir almal - hier is lang én kort roetes.
* Die kransvoetpad (oral met borde as die "Cliff path" gemerk) neem jou met 'n sementpaadjie van 7 km seelangs van die Nuwe Hawe af tot by Grottostrand. Jy kan enige plek langs die pad inval, en het heelwat geleenthede om op parkbankies langs die pad te sit as jou tong begin uithang. Die roete kronkel verby verskeie uitkykpunte en al die swemstrandjies tussen die hoofdorp en Grotto.
Val vroegoggend in die pad en eet ontbyt by Dutchies by Grotto (028 314 1392; dutchies.co.za, of die Burgundy ( 028 312 2800; burgundyrestaurant.co.za) op Hermanus. In die hoogseisoen sal jy drawwers en labradors langs die pad teëkom, maar in die stiller maande moet jy liefs 'n stapmaat saamneem. As jy gelukkig is, sal jy 'n koffiekaravaantjie by Kammabaai raakloop.
Koste Gratis. Rolstoel- en stootwaentjievriendelik, maar fietse is nie welkom nie. Wagter mag saamstap as hy sy leiband saambring.
* Hoy se Koppie (in die middedorp, naby die laerskool; draai uit Magnoliastraat om te parkeer) is Hermanus se weergawe van Leeukop in Kaapstad, net makliker. Dink: Bergklim vir beginners. Vroegoggend en teen sononder is dit "spitstyd" en sal jy tieners in tekkies, paartjies met piekniekmandjies, oupas, oumas en kleuters (selfs 'n hardkoppige een sonder skoene) op hierdie maklike staproete raakloop. Die koppie kan in minder as 'n halfuur uitgestap word en bied mooi uitsigte oor Hermanus in alle rigtings. Hier is 'n hele paar bankies.
Koste Gratis. Honde aan leibande is welkom, maar neem 'n poefsakkie by die ingang. Die koppie het 'n lekker paadjie vir rolstoele en kinderwaentjies.
* Fernkloof (draai links af net voor die sirkel in Voëlklip, as jy van die Kaap se kant af ry) is 'n sieraad vir die streek. Trouens, as jy gaste uit die buiteland kry wat raad vra oor goed om buite Kaapstad te doen, kan jy Fernkloof aanbeveel. Verken die natuurreservaat ( 028 313 0819; fernkloof.com) van 1 800 hektaar met vier kleurgekodeerde staproetes van altesame 60 km. Die langste roete (oranje) is 13,7 km lank (6-7 uur) en loop tot by die Galpinpiek-hut (slaapplek vir 2, basies toegerus).
Honde op leibande is welkom op die blou roete (2,2 km - sowat 'n uur staptyd), bergfietse op die geel en 4x4's op die bruin roete.
Koste Gratis, maar die hut moet bespreek word ( 028 316 2008). Alle roetes begin en eindig by die besoekersentrum. Jy kan R10 in die eerlikheidskissie gooi vir 'n (Afrikaanse!) roetekaart. Hier is ook grasperke, tafels en stoele en badkamers vir piekniekgangers. Die kwekery het 'n reuse-versameling inheemse plante. GPS- en puntdata kan vooraf afgelaai word by fernkloof.com.
2. En trap...
Die Hermanus-omgewing bied ook baie vir fietsryers. Onfikse bergfietsryers verwys na die paaie in die Hemel-en-Aarde-vallei as die "hemel-en-hel-roetes". Vier roetes (6,5 km, 12,5 km, 35 km of 65 km) begin almal op een punt oorkant die Hemel-en-Aarde Village op die R43. Permitte is noodsaaklik; kry dit by Euodia Cycles (028 316 2119; euodia.co.za) in die Hemel-en-Aarde Village (oorkant die Sandbaai-afdraai).
Koste Dagpermitte is R60 vir volwassenes en R30 per kind, en jaarpermitte of gesinspermitte is ook beskikbaar. As die winkel nie oop is nie, gebruik die eerlikheidskissie by die voordeur. Euodia Cycles verhuur ook fietse (R200 per dag) - bespreek dit vooraf. Dieselfde roetes word deur bergdrawwers gebruik, maar hulle het dieselfde permitte nodig. As jy nie regkom by Euodia Cycles nie, kan jy ook bergfietse huur by Hermanus Cycles (Langstraat 18, R200 per dag + R50 vir 'n valhelm; 028 313 2052; hermanuscycles.co.za).
As jy sommer luilekker deur die dorp wil suiker, kan jy dikwielfietse met mandjies huur by Go Bike (Mitchellstraat 32, oorkant Woolworths, 082 879 1735; gobiketoday.com).
Koste Toerfietse vanaf R350 per dag. Sukkel om by die jong klomp by te hou? Go Bike verhuur ook elektriese fietse (fietse met 'n enjin!) vir R320 per halfdag of R420 vir 'n voldag. Want ons almal het soms mos maar 'n hupstootjie nodig...
3. Laat spaander

VOLLE VAART. Diegene met sterk arms kan op 'n seekajaktoer om die baai gaan.
Walker Bay Adventures (walkerbayadventures.co.za) bied feitlik heeljaar deur begeleide toere in seekajakke aan wat soggens kort na 9 vm. van die Ou Hawe af vertrek.
Koste Vanaf R350 vir 'n twee uur lange begeleide toer. Bespreek by wbadventures@hermanus.co.za of 082 739 0159 of gaan soek hulle kantoor in die Ou Hawe.
Jy kan ook by WB Adventures haaihokduiksessies bespreek (R1 400 per persoon), maar die duiksessies vind in Gansbaai plaas, nie in Hermanus nie.
VIR DIE ONFIKSES…
1. Walvisse by dosyne
* Van Junie tot November is dit walvistyd. Die walvisroeper is 'n instelling op die dorp en laat dese en gene weet wanneer 'n walvis in die baai gewaar word. Die beste uitkykpunt is Gearings Point langs die Ou Hawe, maar jy sal hulle ook van die kransvoetpad af sien.
*As jy nóg nader aan die reuse wil kom, kan jy op 'n walvisboottoer van die Nuwe Hawe af vertrek saam met Southern Right Charters (southernrightcharters.co.za).
Koste R800 p.p. vir volwassenes en R380 p.p. vir kinders jonger as 14. Bespreek by 082 353 0550 of info@southernrightcharters.co.za. Daar is vier vaarte per dag in die spitsseisoen - as jy bang is jy word seesiek, oorweeg die 9 vm.-sessie wanneer die wind nog lê.
*Deur die res van die jaar kan jy op sonsondergangbootvaarte (R600 p.p., drankies en versnaperings ingesluit), eko-boottoere (R400 p.p., koeldrank ingesluit) of begeleide duiksessies (R1 100 p.p., duiktoerusting en eetgoed ingesluit) saam met Neptune's Divers ( 071 424 3428; neptunesdivers.co.za) gaan.
*As jy sukkel om die jong klomp in slegte weer besig te hou oorweeg die piepklein CR De Wetshuis en Walvismuseum (028 312 1475; old-harbour-museum.co.za) in die hoofdorp (oorkant die Ou Hawe). Hier kan jy sien hoe Hermanus doeriejare gelyk het en 'n regte walvisskelet bekyk. Dis nou nie heeltemal die Smithsonian nie, maar niemand het tog lus vir 'n uitgerekte museumbesoek op vakansie nie.
Koste R20 vir volwassenes, R5 vir kinders
2. E.T., kom in...

By die ruimte-agentskap Sansa leer kinders speel-speel sekere fisikabeginsels. Toere is gratis, maar ongelukkig net op Woensdagoggende.
Hermanus het 'n ruimte-agentskap! Regtig! Die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap oftewel Sansa (sansa.org.za), is in Hospitaalstraat en hou die elektromagnetiese velde en ruimteweer dop. Sansa het 'n baie gewilde toer en 'n lekker speelvertrek waar kinders onder meer kan sien hoe 'n GPS werk. Die begeleide toere word Woensdae om 11 vm. aangebied, maar groepe van 10 of meer kan ook op ander tye ingepas word.
Koste Gratis. Bespreek by 028 312 1196.
3. Snuffel en snuif
Hermanus het die afgelope paar jaar 'n lewendige markkultuur ontwikkel. Die grootste een is die Saterdagoggend-varsproduktemark (072 883 3894; hermanuscountrymarket.co.za) langs die krieketterrein op die hoofdorp (draai af uit Fairwaystraat).
Hier kry jy gourmet-kosstalletjies, boetiekbier, inheemse plante, en wonderlike tuisgebak. Kinders (van alle ouderdomme) is gek oor die Whale Express (foto onder), 'n treintjie wat deur 'n quadfiets getrek word (R15 per rit).

By die Hemel-en-Aarde Village (oorkant die Sandbaai-afrit; hemelenaardevillage.co.za) is die Hermanuspietersfonteinmark (028 316 1875; hpf1855.co.za/market) waar jy op Saterdagoggende aan wyne van Hermanuspietersfontein en gourmeteetgoed kan weglê; dis nie basaarpryse nie, maar jy betaal vir gehalte. Kom vroeg as jy sitplek by die tafels soek.
4. Nuwe ou goed

Hermanus het snuffel in tweedehandswinkels tot 'n sport verhef. Hier is twee winkels waar jy eenvoudig moet inloer: Romantiques in Aberdeenstraat (028 312 4226), en Chilli Pepper (op die foto bo) in Mitchellstraat (028 313 1285). Tussen die weermagpette, straatnaamborde en poppe wat lyk asof dit in rillers hoort, kan jy Royal Albert-teestelle en silwerware opspoor. Romantiques het ook 'n mini-bioskoop waar jy op 'n Woensdag-, Vrydag-en Saterdagmiddag om 3 nm. na onder meer ou James Bond- en Audrey Hepburn-flieks kan kyk.
Koste Jy bespreek 'n sitplek teen R10, maar kry jou R10 terug as jy opdaag.
As jy glo 'n mens het nooit genoeg boeke nie, gaan kyk na Hemingway's ( 028 312 2739; in Harbourweg, oorkant Lem se hoek) se versameling eerste drukuitgawes. Quirk & Leopard ( 072 753 8940; quirkandleopard.co.za), oorkant Woolworths in Mitchellstraat, het ook 'n lekker versameling tweedehandse boeke.
5. Tjorts!
* Die Hemel-en-Aarde-vallei is 'n bekende wynstreek wat verskeie goeie wynplase huisves. As jy almal in een dag wil verken, doen die wynsafari saam met Hermanus Wine Hoppers. Jy kan na goeddunke op- en afklim.
Koste R250 p.p. (meer inligting en besprekings: 076 991 2498; hermanuswinehoppers.co.za)
* By die Hermanus Wine Village ( 028 316 3988; winevillage.co.za) in die Hemel-en-Aarde Village kan jy 7 dae per week wyn van oral in Suid-Afrika proe, en by Whale Haven (oorkant die pad, ook by die Hemel-en-Aarde Village; 028 316 1633; whalehavenwines.co.za) kan jy wyn en tuisgemaakte sjokolade proe.
Koste R70 vir vier wyne en vier sjokolades.
* As jy nie tyd het vir 'n safari nie, maar tog die wyn van die streek wil proe en koop, loer in by Wine & Company in die hoofdorp (Highstraat 7, 028 313 2047; wineandcompany.co.za). Al die plaaslike wyne is in een vertrek bymekaar en die personeel is baie behulpsaam.
*Hermanus het 'n boetiekbierbrouery (Hermanus Brewery, Mimosastraat 11, 028 312 1788; oldhabourbeer.com), maar dis nie oop vir die publiek nie. As jy die Old Harbour-bier wil proe, bestel dit by die eetplekke Burgundy's of Rossi's.












