Onlangs was ek in 'n debat gewikkel oor allewiel- (AWD) en vierwielaandrywing (4WD). 'n Paar interessante punte is geopper, maar dit het net weer duidelik geword dat die verskille dikwels 'n meningsaak is.
Die deursnee-viertrekvoertuig het óf heeltydse óf deeltydse vierwielaandrywing. 'n Voorbeeld van laasgenoemde is die Hilux-bakkie. Op die pad ry jy in tweewielaandrywing (2H), en as die pad tegnies raak, skakel jy oor na viertrek (4H). As die pad werklik steil raak of as jy oor rotse moet kruip, haak jy die laestrekratte met viertrek in (4L).
As jy van 2H na 4H oorskakel, koppel jy die oordraratkas wat aan die ratkas verbind is. Die oordraratkas stuur 50% van die wringkrag na die voorste dryfas en die oorblywende 50% na die agteras.
Hou in gedagte dat wanneer jou voertuig om 'n draai ry, al vier wiele teen verskillende snelhede draai. As die voorste en agterste ewenaar oop is, kan die ewenaarsterre (diff spider gears) kompenseer vir die verskillende revolusies tussen die onderskeie dwarsaste.
As die ewenaars gesluit is, raak dit moeilik om 'n voertuig te draai. As jy oorskakel na 4H of 4L, tree die oordraratkas soos 'n ewenaarslot op - moet nooit só ry op 'n harde oppervlak nie. Dit is omdat wanneer jy draai, die voorste dryfas teen 'n effens vinniger spoed draai as die agterste een en 'n oordraratkas kan nie hiervoor kompenseer nie.
Heeltydse viertrek werk effens anders. Die oorspronklike Toyota Fortuner is 'n sprekende voorbeeld hiervan. Die oordraratkas van dié voertuig kan die spoedverskille tussen die voorste en agterste dryfas hanteer wanneer jy op teer draai. Jou opsies vir viertrek hier is 4H (viertrek met hoëstrekratte), 4HL (viertrek met hoëstrek en oordraratkas gesluit) en 4LL (viertrek met laestrekratte en 'n geslote oordraratkas).
As die pad uitdagend raak en jy nie meer op teer ry nie, kan jy die oordraratkas sluit deur van 4HL oor te skakel na 4LL.
Wat is dus die verskil tussen 4WD en AWD? 'n Eenvoudige manier om hierna te kyk was tradisioneel dat viertrek (4WD) jou toelaat om self te kies of jy al vier wiele wil aandryf, terwyl allewielaandrywing (AWD) 'n outomatiese stelsel is wat self besluit.
AWD het nie laestrekratte of ewenaarslotte nie - die blikbrein besluit hoe jy uit jou verknorsing gaan kom.
In 'n neutedop kan 'n mens aanvoer dat AWD die meeste wringkrag na die voorwiele stuur (die naaste aan die ratkas) om kragverlies tot die minimum te beperk. As jou wiele greep verloor, word van die krag ook na die agterwiele gestuur om te help.
Wringkrag kan boonop tussen die linker- en regterkantste wiele verplaas word. Hierdie soort voertuie het gewoonlik 'n middelste ewenaar in die plek van 'n oordraratkas. Om dié rede het hulle ook nie laestrekratte of ewenaarslotte nie. 'n Mens kan maar sê die blikbrein besluit hoe jy uit jou verknorsing gaan kom.
Sommige AWD-stelsels laat jou toe om 'n "4WD"-modus te kies, maar die rekenaar draai bloot die glipkoppelaar op die voor-, agter- en middelewenaars stywer en dis gewis nie dieselfde as om die ewenaarslotte van 'n volwaardige viertrekvoertuig te sluit nie.
Die onderskeid tussen 4WD en AWD raak elke dag vaer. Neem die VW Amarok 4Motion (outomaties) as 'n voorbeeld. In teenstelling met die handratmodel wat laestrekratte en 'n oordraratkas het, het die outomaties geen van hierdie meganismes nie. Hy het heeltydse allewielaandrywing met 'n agtspoed- outomatiese ratkas en ingewikkelde programmatuur wat alles beheer.
Die eerste paar ratte is laag genoeg sodat dit voel asof jy in 'n normale viertrekvoertuig met laestrekratte ry. Die slim ratkas gebruik hierdie ratte slegs wanneer jy oor tegniese terrein ry. In my ervaring is die resultaat naby genoeg aan 'n standaard-oordraratkas se werk en ek sal nie die Amarok se veldryvermoë vlak kyk nie. Dit bly steeds 'n ware 4WD.
Anders as met tipiese allewielaandrywing is die Amarok se AWD sterk genoeg om heeldag al vier wiele aan te dryf net soos 4WD-viertrekvoertuie s'n.
Mic van Zyl is direkteur van Ironman 4x4 Africa, die eksklusiewe invoerder en verspreider van die volledige reeks Ironman 4x4-produkte. ironman4x4.co.za











