Reis

Barberton se berge vol goud

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Wouter Labuschagne het saam met vriende en familie op 'n kort rondry-avontuur in Mpumalanga gegaan. Hulle het in mynskagte rondgekruip en in bergpoele afgekoel.

Ek, my familie en ons vriende is gereeld op soek na kort wegbreekplekke wat ons vir 'n naweek met ons 4x4's kan verken.

Want as 'n mens nog nie gelukkig genoeg is om jouself 'n pensioenaris te kan noem nie, is verlof mos nou nie juis in oorvloed nie.

Só het ons onlangs besluit om die omgewing van Barberton in Mpumalanga te gaan bekyk.

Die groepie wat hierdie ontdekkingstog aangepak het, het bestaan uit ek en my vrou, Glynnis, en ons seuns, Andrew (15), Shaun (11) en Eckard (10) in ons Fortuner 4x4-diesel-handrat; Annas Botha (die TJM 4x4-koning van Middelburg) en sy vrou, Rinalda, met hulle kinders Ri-Ann (15) en Annas Junior (14) in hulle Amarok 4x4-diesel-handrat; asook Chrisjan, my seun, in sy Defender 110 saam met sy vriende, Stefan Henriet en Natalie de Wit.

Ons ekspedisiegidse was Pieter Visser en Wynand Engelbrecht van Dusty Tracks Off Road Adventures in Barberton in 'n Toyota Land Cruiser LX.

Pieter en Wynand se roete sou ons deur 'n bewaringsgebied vat waar 'n mens deur 'n baie ekologies-sensitiewe omgewing ry.

Dusty Tracks het ook die konsessie om deur die Barberton Mountainlands-natuurreservaat te kan ry - 'n gebied van ongeveer 18 000 hektaar.

Die berge roep

Ons roete begin so ses kilometer buite Barberton op die Malelane-pad, waar ons afdraai om deur die Greenstone Wildlife Estate te ry.

Hierdie stuk grond, wat aan Oom Jannie de Witt behoort, is 'n dig bebosde gebied waar 'n mens gewaarborg is om meer bokke as huise teë te kom.

Met die stadslewe nou al afgeskud, ry ons deur Veertien Strome (só genoem omdat jy 14 keer die stroompie in die Barberton Mountainland-reservaat kruis).

Die waterkruisings hier is meer 'n plesier as 'n uitdaging, maar dan moet ek ook noem dat ons vroeg in Oktober daarlangs gery het, net voordat die reën begin val het.

As dit goed gesous het, is dit sekerlik 'n perd van 'n ander kleur.Van Veertien Strome af klim die pad baie steil teen die berge uit en neem dit ons tot by 'n pragtige uitsig.

Die paadjie teen die berg op is niks meer as 'n graad 3 nie, maar die bestuurders moes mooi kyk na hulle lyne sodat hulle nie in 'n sloot beland of teen 'n afgrond aftuimel nie.

Jy ry ook hierdie hele roete in laestrek en dit is beslis nie geskik vir 'n sagte veldryer nie. En omdat 'n mens hier lekker stadig in laestrek ry, word die natuur ook minder skade berokken.

Toe ons 'n aftrekplek kry om vir 'n wyle af te saal, is die toneel byna te mooi om waar te wees - waterpoele strek voor ons uit en aan die onderkant van 'n waterval vloei strome water uit 'n reeks fonteine saam.

Dis ook 'n uitstekende swemplek waar jou swemklere afhang van die groep waarin jy jou bevind.

Nodeloos om te sê, het die kinders die kans vir die eerste swem van die somer aangegryp sonder om op hulle te laat wag.

Dit word uiteindelik nogal 'n stryd om hulle uit die water te kry, maar dit het min gepla, want ons kon kwalik genoeg van die ongerepte natuurskoon kry.

Af na die aarde se pens

Nog 'n lekker deel van dié toer is die paar stokou mynskagte waar jy kan gaan inloer en as't ware kyk na die geroeste ratte wat Suid-Afrika se wiele al vir 'n lank ruk help draai het.

'n Klipgooi van die waterval hou ons stil by die ingang na die Florence Devonian-myn, wat vanaf 1924 tot 1938 ontgin is.

Hier word ons toegerus met veiligheidshelms en rubberstewels, elkeen volgens sy eie grootte.

Die toer is nie net 'n staptog in die skagte af nie.

Pieter se kennis van die myn en die omgewing is indrukwekkend en ons leer baie oor die geskiedenis van die goudmynbedryf.

Ek is ook telkens verbaas om te sien hoe effektief daar destyds gemyn is met niks meer as 'n graaf en pik nie.In 'n stadium sit ons die koplampe af en beleef die atmosfeer in 'n tonnel diep onder die aarde sonder lig, lugversorging, staaltrappe of enige ander toerusting.

En ons verlaat uiteindelik die skag met 'n bewondering vir die vindingrykheid van die myners van daardie tyd, asook vir hulle deursettingsvermoë.

Dit was beslis een van die hoogtepunte van die ekspedisie.'n Rukkie later hou ons sommer daar naby teen die berghange stil vir een van ons toertradisies - 'n veldrestaurant.

Ons groep is teen dié tyd al 'n goed geoliede masjien en die opslaanwerk is gou-gou klaar.

Kort ná ons stilgehou het, staan ons en eet met 'n uitsig wat van 'n doodgewone maagstoppertjie 'n spesiale maaltyd maak.

Daarna vertrek ons om na die hoogste punt van die Makhonjwa-berge te gaan kyk en word beloon deur een mooi uitsig na die ander. Op pad hou ons ook stil by die eens florerende Victoria Hotel.

Dié hotel is in die laat 1800's gebou, maar die gebrek aan standhoudende water in die omgewing het die instandhouding daarvan onmoontlik gemaak.

Alle voorraad moes deur 'n baie onherbergsame gebied met ossewaens daarheen gekarwei word.

Die Victoria was op die destydse hoofroete vanaf Barberton na Lourenço Marques geleë - 'n baie besige handelsroete. Tot soveel as vyftig waens het elke week hierlangs deur die berghange gestoei.

Dit is dus geen wonder dat daar tussen Barberton en die Victoria nie minder nie as 28 kroeë oor 'n afstand van 12km was.

Vandag is daar egter net 'n klipbouval van die hotel teen die berghange oor en het die natuur die terrein begin terugneem.

Dit is al amper net so natuurlik mooi soos 150 jaar gelede.

Stiltetyd

Ons kampplek vir die nag is 'n beskutte kol tussen lowergroen bome, goed beskut teen die wind.

Hier kamp 'n mens wild en moet jy geheel en al selfversorgend wees - net soos wat ons dit verkies - met jou eie stort wat iewers aan 'n boom hang en 'n kombuis wat jy inrig soos wat dit vir jou mooi en lekker is.

Die ablusiegeriewe is jou graaf en die wye wêreld.

Ons het die kampplek ons eie Victoria Hotel gedoop en die natuur geniet asof ons daar geplant is.

Om wild te kamp bly maar die beste manier om te onthou waar ons eintlik vandaan kom.

Die volgende oggend ry ons na Eureka City, die spookdorp van die Laeveld.

Hierdie dorpie is in 1885 gevestig toe goud op die Sheba-rif daar naby ontdek is. Daar is 'n poskantoor, 'n slaghuis, hotelle en nog baie ander geboue - alles uit klip gebou.

Om hier in die "strate" rond te ry, het jy 'n 4x4 nodig, amper soos in Sandton, net heeltemal anders!

Van Eureka ry ons na nog 'n myn, Golden Quarry, waar daar van 1885 tot 1926 gemyn is. Hier sit ons weer ons veiligheidshelms op en klouter in die mynskagte rond.

Elke kind het sy of haar eie stukkie klip gesoek wat soos goud lyk. Om die waarheid te sê, het heelwat klippe nogal soos die ware Jakob gelyk!

Dié myn is 'n geologiese brandpunt wat deur geoloë wêreldwyd besoek word om te sien hoe die ryk goudriwwe saamgestel is.

Hierdie myne van Barberton was omtrent vyftig keer ryker aan goud as wat enige myn in die wêreld vandag is.

Nou ja, as 'n mens op, dan moet jy seker weer af, maar in die berge van Barberton is dit op sigself 'n ervaring. Die Makhonjwa-berge word deur sommige gereken as die oudste bergreeks in die wêreld en geen mens word onaangeraak gelaat deur 'n 4x4-ekspedisie in dié geweste nie.

Ja, Maandae en die saai, alledaagse lewe was weer ons voorland, maar vir die volgende week of twee was ons batterye weer herlaai.

Dusty Tracks se toere duur enigiets van een tot sewe dae, enige tyd van die jaar, en kan ook deur Swaziland gaan. Pieter ontwerp dit rondom jou behoeftes. Ons s'n was nooit moeiliker as graad 3 nie, maar jy het 'n 4x4 nodig, verkieslik met laestrekratte.

Kontakdustytracks.co.za

* Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy#90 (Jan-Feb 2017) verskyn. Feite en geite kon sedertdien verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM