Wat is vir jou die belangrikste - wil jy die Groot Vyf afmerk, wil jy die bos ervaar of soek jy iets wat die hele gesin gelukkig hou. Hier is die beste kampe vir...
ROOFDIERE: Satara, Onder-Sabie, Krokodilbrug, Skukuza en Orpen
Dié kampe is geleë in soetweidingstreke en naby riviere, wat blaar- en grasvreters lok, wat roofdiere by dosyne lok, wat aasdiere en -voëls lok...

VOëLS: Punda Maria, Mopani, Shingwedzi en Letaba
Die noorde is die beste voëlkykgebied in die park - die omgewing is die suidelike grens vir baie Afro-tropiese voëls wat algemeen voorkom noord van die Limpopo, maar skaars is in Suid-Afrika. Somer is die beste tyd om te kom, want dan is al die trekvoëls hier.

KAMP: Shingwedzi (foto), Letaba, Satara, Berg-en-Dal, Maroela en Tsendze
Dié kampterreine word goed onderhou, en het baie staanplekke langs die draad - jy kan dus wildkyk uit jou kampstoel uit. Behalwe vir Tsendze en Maroela het dié kampterreine elke soort gerief waaraan jy kan dink: swembad, restaurant, wassery...

STILTE: Punda Maria, Shingwedzi, Mopani, Tsendze (foto), Orpen, Tamboti, Maroela en Balule
Die Kruger is 'n gewilde vakansiebestemming en hier is altyd baie besoekers. Die groter ruskampe is bedrywig en toe die blyplekke destyds gebou is, was afsondering en privaatheid nie op die lys nie. Toe wou besoekers net saamkuier! As jy hunker na 'n rustige bosevaring, oorweeg die boskampe of doen 'n wildernisstaproete (net 8 stappers op 'n slag).
Die ruskampe in die noorde is wel stiller.

KINDERS: Letaba, Satara, Shingwedzi (foto) en Berg-en-Dal
Geen van die groot ruskampe is kinderonvriendelik nie, maar dié ruskampe het groot swembaddens met 'n plonspoel vir die kleinspan met hulle vlerkies, grasperke, opelugflieks en hope aktiwiteite tydens skoolvakansies. Van dié kampe bied ook spesiale een uur lange wildritte vir kinders (ouer as 6) - jy kan hulle by die gids los en jou boek klaarlees langs die rivieroewer.
En hier's verskeie kort roetes om te ry sodat die kinders mekaar nie te lyf gaan in die Corolla nie.

Weg se 2017 Krugergids is tans op die rakke of bestel een hier teen R55.













