"Okei, moenie panic nie. Net soos ons geoefen het. Los die clutch stadig..."
Dié kalm woorde van die oom van die bestuurskool eggo nou nog êrens in my onderbewussyn - in daardie donker hoek waar 'n mens traumatiese herinneringe begrawe.
Ek kan die toneel in detail oproep, soos iets uit 'n gruwelfliek. Die bloedige hitte van 'n somersdag op Stellenbosch. Die lang tou karre wat meter vir meter deur die vyfuurverkeer veg. Die siek gevoel in my maag toe die enjin kreun, ruk en vrek.
En toe die woedende mense wat soos een man op hulle toeter lê toe ek ná 'n paar sekondes nog nie weggetrek het nie: Net daar vergeet ek alles wat ek in die afgelope twee lesse geleer het oor ratte, die petrolpedaal, die koppelaar, en hoe jy dié dinge saampan om 'n kar vorentoe te laat beweeg.
Die kar vrek weer. En nog 'n keer. Die instrukteur se kalm stem word geleidelik meer geïrriteerd terwyl hy weier om met my plekke te ruil.
"Nee, jy kán dit doen. Onthou om weer in al die spieëls te kyk!" sê hy blaffend wanneer ek opnuut begin. Die vyf minute wat dit neem om weg te ry strek 'n uur in my geheue. Metaaldoodskiste vlieg om my en mis ons met 'n sentimeter, die eienaars bloedrooi in die gesig met skuim om die mond...
Goed, goed, ek oordryf effens. Maar net effens.
Ek's seker die instrukteur (wie se naam en gesig ek saam met die ryles onderdruk - ek kan nie eens onthou watter soort kar dit was nie!) het goed bedoel. Hy't seker êrens gelees mense met vrese moet dit direk konfronteer, soos om vir iemand met engtevrees 'n groepsdrukkie te gee.
Metaaldoodskiste vlieg om my en mis ons met 'n sentimeter, die eienaars bloedrooi in die gesig met skuim om die mond...
Dit was toe eers 'n volle jaar later voordat ek my rybewys kon kry - nadat my leerlinglisensie al verval het.
Dit was nie omdat ek skielik my vrese oorkom het nie. Nee, daar was net die knaende gedagte dat ek seker 'n rybewys nodig sal hê vir werk.
Selfs mét my rybewys het ek steeds enige ryery vermy deur 'n slim kombinasie van lift clubs en voetslaan. Uber was toé nog nie op Stellenbosch nie, anders sou ek dit gebruik het.
Ten minste doen ek my deel vir die omgewing, troos ek myself. En voertuie wat hulleself kan bestuur, is mos in elk geval ons voorland, of hoe? Dit gaan sekerlik enige dag in Suid-Afrika aankom...
Ek kon nie begryp wat ander mense my vertel nie: Bestuur is lekker, sê hulle. Bestuur maak jou kop skoon. Bestuur is bevrydend.
Die laaste deel kon ek verstaan - niemand wil tog op iemand anders staatmaak om van punt A tot punt B te kom nie. Maar lékker?
My vrees het uiteindelik begin verdwyn nadat ek elke dag werk toe moes pendel vir my eerste werk op Stellenbosch (die man wat agter in my vasjaag soos ek wag om te draai tersyde...).
Plesier was nog nooit deel van die prentjie nie, maar ek kon darem nou ratte wissel sonder om af te kyk, vorentoe (selfs agteruit) beweeg, en mense verbysteek sonder om twee keer daaroor te dink - 'n vaardigheid wat my ma jare gelede met oortuiging beskryf en ek stilletjies as 'n mite beskou het.
Toe kry ek 'n nuwe werk by Weg in Kaapstad en begin die groot snelweë aandurf. Nou en dan is daar selfs 'n vlietende gevoel van tevredenheid, daar waar die paaie oop voor my uitstrek en die verkeer minder is.
Dié gevoel was steeds vir my so seldsaam soos die ewe legendariese "runner's high," maar ek het 'n vae idee begin kry waarvan mense praat wanneer hulle die vryheid van die ooppad besing.
My eerste groot opdrag vir die tydskrif lê voor: Ek gaan saam met 'n toergroep na die Noord-Kaap se Richtersveld en aangrensende Namibië reis. Na blomwêreld, uitsigte oor die woestyn, wilde perde op die horison...
Net een stukkie nuus demp my entoesiasme: Ek gaan sélf in die Noord-Kaap moet uitkom.
Salige gedagtes van 'n Interkaap-bus wat my tot my optelpunt (Springbok) sal kan neem, of saamrygeleenthede wat op 'n magiese wyse sal realiseer, kom niks van nie. Dis ek, Weg se Renault Duster, en sowat 560 km op die N7.
Aanvanklik is my hande effens bewerig toe ek die vreemde kar se stuurwiel vat, en ek moet elke nou en dan diep asemhaal namate die kilometers agter my verdwyn.
Mettertyd, soos ek ry en geen ongelukke veroorsaak nie - sonder dat ek dit regtig besef - begin ek ontspan. Die miernes van Kaapstad, met al sy roer en rumoer, lê agter my.
Namakwaland flits verby. 'n Windpomp hier, 'n skaap of twee daar, iemand wat stoepsit en 'n lui hand lig om te groet. Ek draai die ruit en die musiek af, en hoor net die gesuis van die wind.
Later, nadat ek die Duster op Springbok gelos het en veilig as passasier in die toervoertuig sit, kruip 'n onbekende begeerte elke nou en dan by my op.
ék wil agter die stuurwiel wees, en só die landskap behoorlik leer ken. Dit raak dor en verlate soos ons verder noord beweeg. Ons ry om skerp klippe, durf steil passe aan en moet in 'n stadium uit die sand getrek word deur die res van die groep.
"Jy moet sélf ry en uitvind wat om die draaie wag. Dis nie op 'n GPS nie. En wie weet, dit word dalk deel van die volgende toer se roeteplan," sê Douwe Vlok, die toerleier, wat telkens homself moet keer om nog 'n paadjie te verken te midde die besige skedule.
Ons word beloon met staanstil-en-kykplekke sonder name wat ons beslis nie te voet sou vind nie.
‘Later, nadat ek die Duster op Springbok gelos het en veilig as passasier in die toervoertuig sit, kruip 'n onbekende begeerte elke nou en dan by my op. ék wil agter die stuurwiel wees, en só die landskap behoorlik leer ken.'
Dis byna 'n jaar sedert ek veilig van Springbok terug Kaap toe gery het, en ek het onlangs selfs 'n motor vir die tydskrif getoets - 'n luukse outomatiese sportnutsvoertuig met 'n knoppie vir skynbaar enige menslike behoefte (insluitend sitplekke wat my kon masseer!).
êrens langs die pad het woorde soos "wringkrag" en "ewenaarslot" deel van my woordeskat geword. Ek kan nou selfs onderskei tussen Honda en Hyundai se kentekens en ek weet vaagweg hoe om 'n kar te "jump start".
"Ons sal nog 'n motorjoernalis van jou maak," skerts my redakteur nadat ek my storie oor die sportnutsvoertuig inhandig.
Dít bly onwaarskynlik, maar ek verstaan nou: Bestuur ís lekker. Bestuur maak kop skoon. Bestuur is bevrydend. En as ek kyk na die verkeersboete wat onlangs in my posbus beland het, het ek my vrees vir verbysteek lankal oorwin...
Vir diegene wat 'n bestuurskool besit, net 'n stukkie advies: Die gooi-in-die-diepkantmetode kan óf werk óf die stomme siel agter die stuurwiel met 'n dosis posttraumatiese stres laat.
Anderdag ry ek ná werk, so vyfuur se koers, na 'n afspraak. Ek's reeds byna laat en beland agter 'n motor wat teen 'n slakkepas voortkruie. Ek maak gereed om die toeter te druk en verby te swaai - toe ek die rooi ‘L' op die agterruit sien.
Met 'n tikkie meer geduld ry ek verby, sonder die toeter of die universele handgebare wat ons maar te lief is om te gebruik.
Dink twee keer voordat jy kwaad raak vir daardie stadige leerlingbestuurder. Hulle sal eendag sonder jou hulp bykom - glo my.
Hierdie artikel het oorspronklik in Desember 2019 verskyn. Feiteen geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jyiets raaksien.













