Reis

Bly hier: Oranjerus-oord, Kalahari

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto Martinette Louw
Foto Martinette Louw

Oranjerus-oord is na aan Upington; dus kan jy gaan inkopies doen as jou tandeborsel by die huis agtergebly het. Maar op die rivieroewer is dit rustig en stil. Slaan op die groot grasperk onder die koeltebome kamp op of sit agteroor op die stoep van een van die selfsorgeenhede.

As jy jou kano saamgebring het, kan jy spane natmaak in die rivier, maar niemand gaan jou skeefkyk as jy eerder 'n uiltjie wil knip in jou kampstoel nie - die kabbelende rivier werk beter as 'n slaappil.

Maak net seker jy stel jou wekker sodat jy laatmiddag op die houtdek van die Ibis-restaurant langs die kampterrein sit. Bestel 'n skemerkelkie en kyk hoe die son oor die rivier sak en die aandlug oranje kleur.

Foto Martinette Louw
Foto Martinette Louw

Waar bly ek? Jy kan jou tent enige plek op die grasperk opslaan. Hier is braaiplekke, krane en kragpunte deur die kampterrein versprei. Die ablusiegeriewe is netjies en word gereeld skoongemaak én hier is 'n swembad. Oranjerus het ook permanente tente en verskillende selfsorgopsies. Bespreek een van die rivierhuisies of die houthuisie as jy graag op die rivier wil uitkyk. Die huisies is netjies ingerig en het lugreëling en braaiplekke.

Die Ibis-restaurant is oop van Dinsdag tot Saterdag vir ontbyt, middagete en aandete. Op Sondae is die restaurant oop vir ontbyt en middagete.

Foto: Martinette Louw
Foto: Martinette Louw

Klik hier vir die koste en om te bespreek.

Hoe kom ek hier? Die oord is sowat 35 km buite Upington langs die R359.

Kontak 082 772 5896 (besprekings); 079 706 0490 (restaurant); oranjerus.com

Vir nog bly- en kuierplekke in die Kalahari, lees gerus ons artikel ‘Vat vyf: Kuier-kuier deur die Kalahari'.

Dié artikel het oorspronklik in Weg # 157 (November 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon sedertdien verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.

Martinette Louw

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM