Reis

RUBRIEK: Boney M en die langpad

Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton

Dit was hartseer om hier oor Nuwejaar in die koerant te lees Bobby Farrell van Boney M is oorlede. Bobby - met sy afro, stywe broek en welige borshare - was in my kinderdae 'n belangrike deel van ons gesin se langpadvakansies.

Want sien, Boney M het saam met ABBA die klankbaan verskaf vir die pad see toe of Ladismith toe. Nou is 'n stukkie van daardie herinneringe aan sorgvrye dae op die agtersitplek vir ewig saam met Bobby heen.

In die jare tagtig was daar nog nie DVD-spelers wat oor die voorsitplekke se kopstutte haak en jou al die pad met animasieflieks besig hou nie. Al vermaak aan boord van my pa se potblou Audi 500E, 'n 1985-model, was 'n magnetiese Battleship-stelletjie en die bandspeler. Op die afslaanarmleuning tussen my ma en pa se sitplekke het 'n langwerpige vinielkoffertjie gestaan waarin die kassette in gelid ingepak was.

Die meeste was effens gerek, en die Bles Bridgeskassethouertjie was leeg, want die inhoud het eendag vlak anderkant Worcester gesneuwel. Ons het te laat besef die kassetspeler is besig om die tape te "sluk" en dis nie meer oom Bles wat jodel nie...

Ek het die lirieke van Boney M se treffers, liedjies soos "Rivers of Babylon", "Belfast", "Ribbons of Blue" en "Sunny", uit my kop geken, maar dit was die liedjies waarop ou Bobby in sy diep basstem dinge geprewel het, wat werklik 'n blywende indruk op my gemaak het.

Daardie stem het aan liedjies soos "Ma Baker" en "Daddy Cool" (ek het gedink dié twee is getroud) 'n onheilspellende toon verleen. Maar die grillerigste was wanneer Bobby aan die einde van "Rasputin" (vir wie ek 'n heilige vrees ontwikkel het) so nadenkend brom: "Oh, those Russians..."

Boney M se diskoklanke is afgewissel met die meer besadigde ABBA se Super Trouper-album. Ek onthou nog so goed: op die kasset se omslag het die groep se vier lede - almal in wit geklee - glimlaggend in 'n stralekrans gestaan, asof hulle verhewe is bo die res van die mensdom.

En ek sou lank na dié prentjie sit en staar terwyl Agnetha, die blonde meisie, en haar maats die bemoedigende klanke van "Andante, Andante", "Happy New Year" en "The Winner Takes It All" deur Boney M en die langpad die motor se luidsprekers laat spoel.

Die bakkie was gewoonlik só vol gelaai dat ek en my boetie op ons maag bo-oor die hoop bagasie moes seil tot in 'n smal spasie tussen die koffers en die kajuit.

Dinge was so eenvoudig in daardie jare. Musiek op die draadloos, 'n sakkie swetende niekerbôls op my skoot en die belofte van branders duik later die dag - ek het niks meer as dit nodig gehad om te voel alles is orraait nie.

Petrol het ons by 'n vulstasie met 'n verbleikte Trek-sebra ingegooi en vir middagete het ons by 'n betontafeltjie langs die pad stilgehou. Ek en my boetie sou vir verbygaande lorriedrywers waai, net sodat hulle met 'n skel "pô-ô-ô-nk!" van die toeter en 'n wuif bo uit die hoë kajuit sal teruggroet.

Nog lank voor die koms van die Audi het ons met 'n geel Volkswagen-bakkie gaan vakansie hou. Agterin, onder die wit kappie, was genoeg pakplek vir die tent, kampstoele, koelboks, twee toeklaproosters, die strandsambreel en die hele stel groen koffers uit my ma se studentedae wat ná al die jare nog gehou het.

Die bakkie was gewoonlik só vol gelaai dat ek en my boetie op ons maag bo-oor die hoop bagasie moes seil tot in 'n smal spasie tussen die koffers en die kajuit. En daar, met ons knieë opgetrek, het ons al die pad tot by Struisbaai, Stilbaai of Langebaan op 'n matrassie gesit sonder dat ons ooit besef het hoe ongemaklik dit is.

Want die kajuit se klein agterruitjie was oopgeskuif en ons kon lekker saamsing terwyl "Mary's Boy Child" en "I See a Boat on the River" speel. En elke nou en dan sou my ma ietsie soets agtertoe aangee om my karsiek te onderdruk, gevolg deur die immerteenwoordige nat lappie. Wanneer die naarheid nie wou wyk nie, is ek 'n paar slukke KWV ingejaag.

Ek onthou hoe die kinders by die skool in daardie laaste week van 'n kwartaal altyd sou spog met waar hulle dié keer gaan vakansie hou: Namibië, die Wildekus, Swaziland, die Krugerwildtuin… Ons is altyd wintervakansies na my ma se mense in die Klein-Karoo toe, en in die somer het ons by die see gaan kamp.

Nie dat dit my geskeel het nie - ek was nog skaars in die skool en my verwysingsraamwerk het nog nie so ver gestrek soos die Wildekus nie. Van landsgrense het ek nog minder geweet, maar ek het geweet dit moet belangrik wees. Dis dié dat ons almal saam in oggendgodsdiens gebid het dat "die manne op die grens nie op hulle gewere sal staatmaak nie, maar op U".

Nee wat, al wat werklik noodsaaklik was om te weet, was dat ons die komende vakansie weer agterin die beknopte geel bakkie na een of ander see toe sou ry, en dat ek en my boetie op die grondpaaie ons wange plat teen die ruite sal moet druk om verby die hoop groen koffers te loer of opspatklippe nie 'n wieldop afslaan nie - 'n speletjie wat ons oor kilometers se slegte sinkplaatpad al skuddend op die sponsmatrassie sou besig hou.

Die blou kar het dinge 'n bietjie meer gerieflik gemaak, maar ook net-net. Want selfs al het my pa toe 'n Ventertjie vir die kampgereedskap aangeskaf, wou al die bagasie nog steeds nie inpas nie en het ons almal - veral my arme ma - toegepak gesit onder sakke breiwerk, vanity cases, beskuitblikke, baadjies en truie. Want 'n mens moes altyd 'n warmding byderhand hê wanneer jy iewers uitklim.

Die Blou Kar het wel lugreëling gehad. En sy elektriese vensters, sonskerms wat oor die agterruit ooptrek en ligblou skaapwol-sitplekoortreksels was vir my die toppunt van weelde. In my kop was daar nie 'n mooier óf ruimer kar op die pad nie.

Ek was altyd baie ingenome as ander mense ook so gedink het. Soos die troepie wat my pa eendag buite Oudtshoorn opgelaai het by een van die Ry Veiligborde van destyds.

Hy't aan my kant op die agtersitplek ingeskuif, sy balsak so 'n paar keer rondgeskud totdat dit gemaklik oor ons almal se skote gelê het, en toe met groot waardering met sy vingerpunte oor die skaapwol gestreel en gesê: "Jissie, Oom..." En vir die res van die pad, tot waar ons hom op Knysna afgelaai het sodat hy kon verder duimgooi Baai toe, het daai vingerpunte die ritme van Boney M se 20 Super Hits op die wol gesit en tik, soos ons eie "Little Drummer Boy".

Snaaks, die dinge wat 'n mens uit jou kinderdae bybly. Ek is bly ons het vrede gemaak met "those Russians" en ek is bly ons hoef nie meer te bid vir die manne op die grens nie, maar ek gaan Bobby Farrell mis. Ek wens ek kan weer so sorgeloos soos 'n kind gaan vakansie hou.

Ek verlang na daardie dae… my pa se blou kar, die Trek-sebra, appelkooskonfyttoebroodjies, niekerbôls, en om deur 'n stofwolk agter 'n wieldop aan te hardloop.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM