Reis

Brief uit Atlanta

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Charles Koh/Unsplash
Foto: Charles Koh/Unsplash

Die persoon agter die Starbucks-toonbank het my naam verkeerd gehoor en nou staan daar "Karen" op die kant van my wegneemkoffiekoppie.

Dis 'n Amerikaanse ritueel, hierdie vroegdag se toustaan by Starbucks. Dit gee my die kans om te probeer inpas by my medekoffiedrinkers.

Dalk kan ek iets oor politiek mompel om geselsies te maak. "This administration, am I right?"

Stukkie vir stukkie infiltreer ek Amerika. Ek roer skaars onder die radar wanneer ek my piepklein Toyota Corolla parkeer in 'n spasie groot genoeg vir 'n M4 Sherman-tenk.

In die supermark stoot ek my supergroot trollie tussen die superlang gange waar die rakke superwyd uit mekaar staan. Daar staan ek soms drie uur lank en Google watter een van die legio broodsoorte ek moet kies.

Uiteindelik vat ek die volgraanbrood wat sommer ook as 'n taco of so iets kan dien. Op pad uit sien ek hoe iemand - uitgeput deur ure se inkopiewerk - by die tandepastarak flou val, gekose buisie geklem teen die bors.

Só burger ek my in hier in Atlanta, in die deelstaat Georgia. Ek kyk bofbal in die kroeg in my buurt, en juig saam wanneer die bal tussen die grondboontjie-etende skare ingemoker word.

Dis nie 'n ses nie, dis 'n "home run". Ek drink saam aan flou Amerikaanse bier en leer om vir "fries" te vra as ek "chips" bedoel.

Ek leer hoe praat die Amerikaners, en verstaan nou dat jy "a-lu-minum" moet sê en nie "aluminium" nie. Jy kan ook nie sommer net vir 'n "tomato" vra as jy "toe-may-toe" bedoel nie.

Alles het goed gegaan... tot verlede week.

"Hey, how are you doing?" het die kassier my gevra.

Die enigste probleem hiermee is dat Amerikaners nie 'n antwoord op dié vraag verwag nie. Dis net 'n robotiese manier om die klant se teenwoordigheid te erken.

"Howzit!" kom dit uit my mond voordat ek myself kan keer. Oeps.

Die kassier kyk my skepties aan. Die sakpakker laat staan die sakke vol inkopies. Agter my in die ry hoor ek hoe 'n ma haar kind stilmaak. Dis skielik só stil ek hoor hoe 'n M4 Sherman-tenk buite geparkeer word.

"Excuse me?" vra die kassier.

‘ "Howzit!" kom dit uit my mond voordat ek myself kan keer. Oeps.'

En net daar is 'n ganse jaar se harde werk daarmee heen. Ek onderdruk nou al maande lank die impulsiewe "howzits" wat heeltyd uit my mond wil kom, en hou my by die hoflike "how y'all" waarmee die meeste mense hier mekaar groet.

Ek het geweet wat volgende kom, want as Suid-Afrikaner in Amerika moet jy altyd dié vraag te wagte wees: "Are you Australian?"

"Actually, I'm from South Africa," antwoord ek omtrent voor sy klaar gepraat het. "We play cricket too, but we're just not, uhm, Australian."

Sy het my duidelik nie geglo nie. "Cricket? South Africa? Are you sure?"

Amerikaners vermoed gewoonlik dat Suid-Afrikaners eerder Aussies of Kiwi's moet wees.

Kort voor lank sal ek vrae oor een van dié twee lande moet beantwoord, soos of ek al ooit vir Steve Irwin ontmoet het...

Foto: Ibuki Tsugo/Unsplash
Foto: Ibuki Tsugo/Unsplash

Ek is nou al 'n jaar in Atlanta en dis glad nie 'n slegte plek om te woon nie. Atlanta het, nes die ander groot metropole in Amerika, sy eie ritme.

As rustige Kapenaar was New York byvoorbeeld hopeloos té gejaag.

Ek kon nie byhou met hoe vinnig die kelners, kroegmanne en taxibestuurders praat nie. Maar die pas hier in Atlanta is meer soos Kaapstad s'n, en daarom voel ek hier meer tuis.

Atlanta het my ook iets geleer omtrent tuis - of ontuis - voel in 'n vreemde plek.

Dit gaan nie oor die oppervlakkige dinge soos of jou naam reg gespel is op jou koffiekoppie nie, en ook nie oor die manier hoe jy almal groet nie.

Dis belangriker dat die pas van jou nuwe tuiste jou eie lewenspas weerspieël. Toe ek voorheen tyd deurgebring het in New York en later San Francisco, was ek pal gestres.

Dit het gevoel of ek onder almal se voete gaan beland as ek nie die petrol trap en wegjaag nie.

In Atlanta is dit anders, ondanks al die supergroot winkels, die eindelose verkeer, die neerdrukkende hitte.

Ek is gelukkig hier.

Ek hoef nie sleg te voel as ek dinge rustiger wil vat nie. Mense hier is meer ontspanne en gee ten minste genoeg aandag aan jou om jou per abuise "howzits" te hoor.

Dis 'n stad waar ek die energie - en geduld - het om dit te verduur wanneer iemand dink ek's 'n Aussie.

Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #183 (Januarie 2020) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.

Kieran Legg

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM