Reis

Brief uit Mauritius

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die son sak oor die weskus van tropiese Mauritius. Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Die son sak oor die weskus van tropiese Mauritius. Foto: Galloimages/Gettyimages.com

Teen die vierde of vyfde dag ken almal mekaar. Nie noodwendig op die naam nie, maar daar word gewuif of geknik… 'n Informele erkenning dat ons lotjie saam 'n eiland-ervaring deel.

Omdat Air Mauritius slegs op sekere weeksdae van Suid-Afrika af hierheen vlieg, is die oord se verblyfpakkette só ontwerp dat 'n groep toeriste wat saam hier land, gewoonlik weer op dieselfde datum vertrek. Tot dan is ons hier vir dieselfde lekkertes.

Jy merk dalk reeds voordat julle op die O.R. Tambo- internasionale lughawe op die vliegtuig klim daai ander gesinnetjie op: Ook hulle het te veel bagasie, hulle kinders neul ook en aan diékant glimlag julle verras vir mekaar wanneer julle op dieselfde oordbussie klim.

Teen die derde dag het julle al genoeg kere saam by die kroeg vir 'n cappuccino of 'n Tropical Caress gestaan en wag om te weet hulle woon in Hoedspruit en werk vir bewaringstoerisme.

Maar steeds wil jy meer weet.

Jy hou die gesin op die strand dop en verbeel jou hoe glansryk is hulle kakiebestaan, hoe hulle kinders vry in die veld grootword en luiperds soms in die tuin rondsluip. Maar dan: Mense met só 'n lewe het mos nie nodig om na 'n oord op Mauritius te ontsnap nie! Dalk is hulle maar soos jy, en wou net 'n slag wegkom van 'n lessenaar, e-posse en kinders by die skool aflaai.

Die lewe in Hoedspruit het dalk meer gemeen met die lewe waar ek vandaan kom.

Dus los jou gedagtes vir eers die Hoedspruiters met rus en jou aandag verskuif na 'n ander figuur op die strand: 'n gesette, sonbruin oom wat altyd sonder 'n hemp rondloop, altyd koordlose AirPod-oorfone dra en van sonop tot sononder al om die uur 'n bier bestel.

Nee, ek jok: In die middel van die dag verruil hy die bier vir 'n bottel vonkelwyn wanneer hy en sy vrou in die restaurant aansit vir middagete. Dié ritueel prikkel jou brein nóg meer. Want hulle praat nie 'n woord nie?

Die oom haal nie eens sy oorfone uit nie! Maar tog lyk hulle dolgelukkig in mekaar se geselskap (of altans, die gebrek daaraan!) en die een het vrede met die ander se doen en late. Jy stap verby hulle tafel, glimlag en groet galant in die hoop dat jy, wanneer die man teruggroet, sy aksent sal kan plaas. Dalk Oos-Europees?

Hy mag swaarlywig wees, maar onder die vetlagie sit spiere wat knoltrek wanneer hy van die restaurant af terugstap na sy stoel aan die verste punt van die strand. Die talle tatoeëermerke wat saam met die spiere kartel, maak hom nóg meer geheimsinnig. En jou verbeelding begin weer die prentjie inkleur: Dalk is hy 'n kontrakwerker in 'n onstabiele land.

Miskien myn hy weke aaneen kobalt in die Kongo… Of wag! Hy's een van daardie ouens wat op 'n olieboor in die Noordsee onderwatersweiswerk doen. Ja, en om van die stres te ontlaai kom sit hy in sy aftyd hier en bier drink en luister podcasts.

Maar dan fluister 'n ander deel van jou brein: Dalk is hy net 'n boekhouer van Birmingham?

Die paartjies op hulle wittebroodsreis is onmiskenbaar. Hulle kom van Centurion en Durbanville, Bloemfontein, Westville en Tokai. 'n Paar is van klein dorpies in Frankryk.

Hulle lyk nog bloedjonk in hulle ontwerperswembroeke en neem die hele tyd selfies: Voor hulle skermsweef, voor hulle waterski, seil of snorkel… Dié foto's word op hulle families se WhatsApp-groepies gedeel en terwyl die twee duifies saam oor die selfoonskerm buig, word daar gelag oor die mense by die huis se pittige kommentaar.

En ons - die ma's en pa's wat hierdie eilandvakansie só broodnodig het - moet heeldag na ons spruite se behoeftes omsien, gluur die jonggetroudes met byna onverbloemde jaloesie aan. Waar's die dae voor rugpyn en rekeninge? Wat het geword van ons plooilose velle en blink toekoms?

Maar nes 'n mens verbitter wil raak, kom die kinders strandlangs aangedraf, hulle bloesende wangetjies vol sand en seesout en jy en jou vrou vang mekaar se oog met 'n kyk wat sê: "Dit ís die goeie lewe, ek wil niks anders hê nie."

Wanneer die son laag hang in die weste, en sy uitspattige kleure teen donderwolke doer oor die Indiese Oseaan laat dans, ritsel 'n warm wind deur die palmbome se toppe. Dis tyd om my swembroek vir 'n langbroek te verruil en restaurant toe te slenter vir aandete.

Ek bondel sarongs, leesboeke, sloffies en die seuns se hempies bymekaar. 'n Entjie verder doen die Hoedspruit-ouers dieselfde. Die jong paartjies neem nog 'n laaste selfie teen die sonsondergang, die olieboor-sweisman sluk sy bier af, pluk sy hemp oor sy kop en lei sy vrou met 'n glimlag aan die hand terug na hulle kamer toe.

En môre… môre gaan dieselfde son weer opkom. En ná ontbyt sal dieselfde mense weer op dieselfde plekke op die strand stelling inneem. En dan kan my verbeelding weer voortborduur aan elkeen se verhaal.

Hierdie artikel het oorspronklik in September 2020 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons ook op Instagram en Facebook.

Jon Minster

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM