Die blouape was in die Duster terwyl ek gaan swem het. Die ontvangsdame het my gewaarsku teen dié klein grypdiewe, en ek het die kar netjies toegesluit voor ek swembad toe gestap het - maar om die een of ander rede die kattebak wawyd oopgelos. Seker maar die ouderdom, of die hitte.
Met my terugkoms 'n ruk later het drie blouape in die kar rondgebons soos kleuters wat te veel Fanta by 'n partytjie gedrink het.
Ek het die ergste verwag, maar behalwe dat hulle besluit het om my breërandhoed aan te rand het hulle net sover gekom om 'n gat in 'n pakkie OMO te byt (ek wens ek was by om die teleurstelling op die byter se gesig te sien!), en my botteltjie Funky Ouma-sout so 10 m ver te dra sonder om dit oop te kry.
My bakkie gemengde neute en droëvrugte was minder gelukkig. Die apies kon die deksel nie oopkry nie (gelukkig, anders sou pampoenpitte, grondbone en rosyne nou soos konfetti oral gelê het), maar het 'n gat deur die plastiekhouer gekou en die lekkernye net daar begin verorber.
Vir 'n halfuur ná die inbraak - terwyl ek op my kampstoel sit en 'n koue Savanna drink vir skok - het die bende nog die Duster beklouter en bevoel in die hoop dat hulle op 'n wonderbaarlike wyse weer die binneruim sou kon betree.
Ek sit in die skaduwee van twee groot jakkalsbessiebome by Muchenje Cottages & Campsite digby die dorpie Muchenje in die noorde van Botswana.
Muchenje is sowat 80 km wes van Kasane, en kyk, soos dié bekende safaridorp, ook uit oor die Choberivier. Maar so ver stroomop - hier in die doodsnikke van die droëseisoen - is die Choberivier by Muchenje skaars 10 m wyd.
Net 'n paar poele is oor, oortrek met watergras en -lelies.
Die vloedvlakte waaroor ek uitkyk, is egter baie breed, waarskynlik 2 km. In die laatsomer lê hier 'n plaat water - die reën sal kom, wolke blom tans die uitspansel vol.
Nou, vroegsomer, is dit 'n plaat gras waar beeste wei. En soms buffels en ander wild, want die Chobe- nasionale park is net hier naby, en hier's mos nie eintlik drade om die wildernisgebiede van Botswana nie.
Doer oorkant waar die oewerbome uittroon, is Namibië.
Tussen hier en daar wei die beeste, en op plekke is landjies gemaak en mielies groei in die vrugbare grond.
Pondokkies staan opgerig naby elke landjie, en soms, wanneer ek my verkyker na my oë lig om die vloedvlakte te fynkam, sien ek die silhoeët van 'n man of vrou of kind daar roer.
Hulle moet seker die mielies oppas teen alles van beeste tot wilde diere. Wit sakke wapper teen pale - voëlverskrikkers.
‘ 'n Fluiteend fluit, 'n vleiloerie hoe-toet-hoet, 'n kragopwekker laat hoor van homself, 'n kar ry verby op die teerpad hier naby...'
Hier naby my, teenaan die Botswana-oewer, wemel dit van die watervoëls. 'n Rooireier buk vooroor, stop, staar albasteroog na iets verskuil in die gras. Sy swaard - sy dodelike snawel - glinster nat in die son.
Twee knobbeleende staan 'n ent verder, mannetjie en wyfie. Die mannetjie is effens groter, en swart-en-wit (waar die wyfie valer is), met nguni-bespikkeling teen die nek op tot aan die kop.
Die snawel dra swaar aan 'n knobbel, soos die oordadige seëlring van 'n keiser. Op sy rug is sy gevoude vlerke glansspreeugroen.
'n Swerm grootlangtone toer op en af. Soms is hulle reg voor my met hulle groot tekkies wat lekker op die bordgrootte waterlelieblare trap.
Dan skrik hulle vir iets - 'n blouaap, natuurlik! - en vlieg buite sig.
Een van die ape verskyn uit die ruigtes en draf versigtig die oopte van die vloedvlakte binne. By die waterlelies pluk hy 'n blomknop af en suig daaraan soos 'n mango.
'n Oopbekooievaar kom land, swart van kop tot toon, 'n lyksbesorger vir varswatermossels.
Met die verkyker sien ek ook wildemakoue, bontkiewiete, swartreiers (met geel pote), witreiers (met geel snawels).
'n Fluiteend fluit, 'n vleiloerie hoe-toet-toet, 'n kragopwekker laat hoor van homself, 'n kar ry verby op die teerpad hier naby.
Om my voete loop klein swart miertjies.
Oral sit bruin skoenlappers met gehawende vlerke en rus (eet hulle iets met daardie garingdun slurpies?), asof hulle onlangs lugafweerkanonne moes trotseer.
En ek - ek is ook hier. Ek kyk na al hierdie niks en daarom word dit iets, al is dit net vir my.
Hierdie artikel het oorspronklik in September 2019 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.













