Reis

Brief uit Windhoek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Foto: Galloimages/Gettyimages.com

Anderdag sit ek ietwat verveeld by die huis en besluit dis weer tyd om iets vreemds aan te pak. Nie wildvreemd nie, maar iets wat ek nie elke dag doen nie. Maar wát?

Ek begin toe 'n legkaart met 5 000 stukke bou, een wat ek nog uit die Kaap uit saamgebring het toe ek byna ses jaar gelede daarvandaan getrek het. Maar ai...

Eerstens val 'n legkaartstuk elke 20 sekondes op die vloer en terwyl ek buk om dit op te tel, haak my hamburgerpens aan die tafeldoek vas en dan tuimel die halwe seetoneel saam met die tafeldoek grond toe. Dit het 'n paar dae so aangehou, toe gooi ek die handdoek in.

Wat van 'n dieet? Ek gee die 28-dagdieet 'n go, maar uiteraard het dit nie vir my gewerk nie. Op die vierde dag is al 28 dae se proviand deur my dikderm. Dit daargelaat.

Dalk verder verf aan die portret van Bob Dylan wat ek in 2014 begin het? Steeds nie vir my nie. Dylan se neus moet maar bly lyk soos 'n sny yskastert wat op die vloer beland het.

Iets Mediterreens kook? Miskien, maar bestanddele soos tahini en orzo is nie binne die landsgrense van Namibië te vind nie.

Wat bly oor? Dalk nog 'n tatoeëermerk kry? Nee, ek lyk reeds nes 'n inkleurboek vir volwassenes met 'n botanietema. Genoeg daarvan.

Lloyd Zandberg
Lloyd Zandberg

Iewers noem 'n kollega toevallig sy stap of draf saans 153 keer om haar blok. Sy is nou fiks genoeg en gaan aan een van die gewilde pretlope deelneem.

"Mag 'n mens dit stap?" vra ek.

"Ja, jy mag doen net wat jy wil."

"Goed," sê ek, "skryf my naam neer, ek sal een probeer."

Só reël sy intussen dat ons net buite Windhoek op die gasteplaas The Tannery aan een van hierdie stappies deelneem. Ek het in gr. 10 laas gehardloop - net omdat ek moes. (As Fokofpolisiekar gratis T-hemde uitdeel, maak jy dat jy heel voor kom. Al beteken dit moontlike snywonde of kophoue.)

Saterdagoggend is ek in my tekke, 'n soort oefenbroek (ek slaap winters in hom) en 'n T-hemp wat ek 'n paar jaar gelede op Groentemarkplein in Kaapstad gekoop het. Ek lyk soos 'n kunsbeweging wat weens 'n begrotingstekort nooit plaasgevind het nie.

'n Ander kollega skryf ook intussen in. Hulle gaan my om seweuur die betrokke oggend by my huis optel.

"Moet ons nie drop nie," sê die Laatlamstapper Vrydagmiddag net voordat ons uitklok.

"Jy sal dit geniet," sê die Voorloper.

"Moenie stres nie. Ek sal reg wees."

Seweuur staan ek reg soos een op 'n treinstasie wat vir diensplig aanmeld.

Ons kom later by die wegspringpunt aan en oral is mense in designer-pakkies en kleurvolle kopbande. Party deelnemers het 'n stootwaentjie met 4x4-wiele waarin formulemelkbabas met ballonwange lê.

Daar is ander wat hulle brakkies en papegaaie saamgebring het. Teen 'n halfgeboude muur strek twee blondines en 'n donkerkop hulle kuite, bobene en arms.

Ons staan in die skaduwee en rook gou 'n laaste skyf voordat die skoot klap. Toe sê 'n tannie oor 'n luidspreker ons moet nader staan, want die bedryf gaan nou begin.

Ons wag vir die skoot. "Dis darem net 5 km," sê sy asof sy dit toe-oë, agteruit sou kon doen.

‘Party deelnemers het 'n stootwaentjie met 4x4-wiele waarin formulemelkbabas met ballonwange lê. Daar is ander wat hulle brakkies en papegaaie saamgebring het.'

Nou trop die hele bondel mense by die wegspringpunt saam en toe tel ons van tien af een toe. Die skoot klap! Woeps, hardloop die twee blondines en hulle vriendin vooruit, gevolg deur die Kinderkrans en die DBV.

"Ons moet seker begin," sê ek vir Laatlamstapper.

Ek draai my rook se nek af.

"Nou maar toe, hy gaan nie homself loop nie!" antwoord sy. Daar gaat ons. 'n Wyle later is ons oor die eindstreep. Ons het dit gemaak!

Later die aand sit ek by die huis en voel goed oor myself. Asof ek iets bereik het.

Ek bou selfs verder aan die seetoneel, en ek kom tot 'n besef: Dis die kort afstande en een legkaartblokkie 'n aand wat die groter prentjie help skets. Ons moet net nie so vinnig die handdoek ingooi nie.

Hierdieartikel het oorspronklik in Junie 2019 verskyn. Feite en geite kon intussenverander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.

Lloyd Zandberg

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM