Ek vermoed om 'n troue te hou sonder 'n dansbaan, is nie eens so erg nie. Ja, 'n pap wiel is soos 'n vlieg in 'n bierglas - dis iets wat jou onmiddellike aandag vereis. Veel erger nog: 'n Pap wiel in die middel van die dag, in die middel van 'n lang stuk grondpad, in die middel van Namibië.
Teen die einde van verlede jaar reis ek en my oupa, 'n geoloog, na die noordweste van Namibië. Hy kap klippe en ek neem foto's.
Namibië het van die mooiste natuurskoon ter wêreld, maar ek dink die kern van hierdie estetiese vreugde is in dáái deel van my geboorteland: Kaokoland.
Niemand het al ooit daar getoer en teruggekom en gesê dit was nou aaklig, nee, siesa, ons wil nooit weer teruggaan nie. Ek was nog nie op Mars nie, maar ek glo Kaokoland het meer poskaartplekke as daar.
Ons begin in die hoofstad. In Windhoek koop ons die laaste koop, laai die bakkie, maak seker die bande is reg, trek die seil vas en begin die reis.
Otjiwarongo, Outjo, Kamanjab, oor daai berg wat van ver af soos 'n oorgewig olifant lyk, verby Palmwag tot in die Hoanib-rivier se sitkamer. Dis waar ek wil foto's neem en waar my oupa marmer en graniet wil soek.
Iemand het my nou die dag gevra waar is die begin en einde van Damaraland en wanneer gee hy die leisels oor aan Kaokoland. Geografies is dit moeilik om uit te wys, maar my pa het een aand langs 'n braaivleisvuur vertel: "Net ná Khowarib loop die Hoanibrivier oor die pad."
Khowarib is so klein, die hele dorpie sal op 'n ysskaatsbaan pas. Ek ken daai plek waar die rivier die pad kruis. Ons het as kinders modderpoedings en strandhuise daar gebou vir die waterhonde.
‘Iemand het my nou die dag gevra waar is die begin en die einde van Damaraland en wanneer gee hy leisels oor aan Kaokoland.'
"Dié rivier word beskou as die grens tussen Kaokoland en Damaraland," het my pa gesê met 'n leksel skaapvet op sy ken wat pronk soos 'n springbok langs 'n grensdraad. Pa lei al 30 jaar lank toere - ek glo hom.
Met my en Oupa se reis wat veel langer as die normale duur (ek neem foto's van alles en Oupa wil elke klip onder sy vergrootglas bekyk), bereik ons eers op dag twee daai grensrivier waarvan my pa gepraat het.
Ek is agter die stuur en gewaar hom al in die verte. Dis halftwee. Ons het nog net 30 km tot by Sesfontein. Ek en Oupa gesels dik stukke in die bakkie. Ek oor my maagrol en my liefde vir McDonalds, hy oor dieper dinge, soos wat ná die dood met jou gebeur.
"Ek wonder waar wil hulle hê ek moet aanmeld nadat ek gaan groet?" vra hy uit die hoek van sy mond. Die ander hoek knyp die rookding vas.
"Wie is ‘hulle' en waarheen gaan jy?" vra ek.
"As ek verval, aanbeweeg," sê hy.
Ek sê: "Moenie sulke goed vra nie. Dis aardig."
"Which is fair," antwoord hy.
Toe raak dit stil in die kar, ongemaklik.
Die volgende oomblik hoor ons 'n klapgeluid, en toe gly die Hilux op die pad. Ek skreeu: "As ons vandag verval, wie gaan jou John Lennon painting in die kombuis erf?"
Ek hou die stuurwiel styf vas, en wanneer ons die pad verlaat, voel dit asof 'n elektriese kabel my skok, van my pinkie tot by my nek. 'n Wyle later kom ons tot stilstand. Die snoet van die bakkie druk teen 'n oeroue kameeldoringboom.
"Maak toe jou ore, Oupa," sê ek met 'n bewestem, "ek gaan lelik vloek."
"Daar sit 'n vlieg op jou lip," antwoord Oupa.
En toe vloek ek dat die vlieg hom boeglam skrik. Oupa steek 'n skyf aan en blaas die rook teen die voorruit was.
Ek maak my deur oop en klim uit. Die agterwiel het gebars. Slierte swart rubber lê in ons spore.
Dit lyk soos liquorice wat uitgeval het op 'n kafeevloer. Ons spoor - van waar die band gebars het tot hier in die reserwe - laat dit lyk asof iemand die fondament vir 'n tweeslaapkamerwoonstel gegrou het.
Ek laai ons twee kampstoele, hout, die kampyskas, 'n opslaantafel en twee glase af. Ek maak 'n pak chips oop. Ek bou vir ons 'n klein lodge. Iewers kry ek 'n handdoek, en dit word die tafeldoek. Nou kan ons vertoef.
"Laat ek maar die wheel nuts begin losmaak," sê ek.
"Kaokoland is nie grappies nie," sê Oupa.
"En ons is nog nie eens daar nie," antwoord ek.
Hierdieartikel het oorspronklik in Februarie 2020 verskyn. Feite en geite kon intussenverander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.













