Lassie, The Littlest Hobo, Jock van die Bosveld… almal intelligente brakkies gewees. Maar as 'n mens eers 'n opgeleide skaaphond in aksie gesien het, sal jy verstaan hoekom dié ras as die slimste hond op aarde beskou word. En ook begryp hoekom 'n rooi tennisbal in die agterplaas nooit vir hom sal deug nie.

Vroeglente lê die Rûens in moeselien toegedraai. Die heldergroen graanhalms word tot skamer skakerings getemper; Die lande lyk of hulle golwend boepstoot, swanger met die nuwe lewe wat deur die are boontoe beur; Klossies skape staan in gedagte rond, en 'n paar waardige kraanvoëls poseer in gelid - modelle vir die Suid-Afrikaanse Munt se kunstenaar om 'n 5c klaar te kry.
Oor 'n paar maande van nou sal die stropers met flitsende lemme en groot gedruis die ryp koringlande invaar, maar vir nou is alles nog wasig, verdoesel, wiegend in die windjie wat doer anderkant teen die voetheuwels van die Riviersonderendberge vaskolk. Dié lê vanoggend skimmelblou teen die wit wolke, ou vulpenvlek op 'n tafeldoek.
Dis 'n toneel wat dalk vir Van Gogh - vir 'n verandering - met 'n glimlag na sy verfkwaste sou laat gryp.
Vandag is daar egter 'n gewoel in 'n weidingskamp op die plaas Grootvlei buite Caledon. Elke nou en dan laat loop 'n harige swart blits deur die gras, pyl op 'n paar skape af en laat dié verskrik 'n draffie maak.
Dis tyd vir die Nasionale Skaaphondkampioenskappe. Die skril note van herdersfluitjies sny deur die fris oggendlug, hondehanteerders roep en beduie en die deelnemers - die land se beste, slimste, fiksste skaaphonde - voer met groot gretigheid die bevele uit: dit spring regs om, dan links om, kruip stadig nader, keer agter die trop, val plat… litte losmaak voor die kompetisie begin.
Vir party mense is dit 'n stokperdjie, maar heelwat van die honde wat vandag hul staal gaan wys, is harde werkers op plase die land oor. Hulle kom van Sutherland, Johannesburg, Swellendam, Eendekuil, Coligny... Party werk met vleisskape, ander wolskape, boerbokke en beeste.
Die land se beste, slimste, fiksste skaaphonde voer met groot gretigheid die bevele uit.
Die eienaars - meestal boere - staan elk op 'n gekromde herderstaf geleun die honde en betrag, kompleet nes skaapwagters in 'n Kersspel. Die pienktonge is rusteloos, gretig om aan die gang te kom. Een kom draai met vraende oë om sy baas se bene - wanneer kan ek dan nou hol?
Elke skaaphond is fyn ingestel op die geringste gebaar of geluid wat sy baas maak. Die band tussen mens en dier is sigbaar, dis 'n soort simbiose wat nie sommer in een kopvryf gevestig word nie. Ons praat hier van 'n hanteerder en sy hond wat al vir jare - party tot 'n dekade lank - saam skaapwerk. Die een kan al die ander se gedagtes lees, so lyk dit. Beste vriende én kollegas.
Aan die bopunt van die weikamp bring 'n paar plaaswerkers en hul honde 'n groepie skape tot by 'n baken wat in die gras op die baan geplant staan. Nader aan die blou-en-wit markiestent waar die toeskouers koffie en pannekoek bestel, staan wit hekke twee-twee op 'n afstand uit mekaar, eenkant wag 'n klein opslaankraaltjie sy beurt af.
Die groepie Dorpers trap onseker rond, voel die skaaphonde se oë wat nou met groot konsentrasie op hulle fokus. Dan klim die Walliese beoordelaar in 'n houthokkie op die rand van die weiveld en kry haar sit met 'n uitsig oor die baan. Kan die eerste deelnemer asseblief nader staan?

WAKKER SIT! Ragni Pretorius en haar hond Lyn wag hulle beurt af op die rand van die baan en hou die kompetisie dop sodat die hond haar oë en aandag kan fokus. 'n Skaaphond moet deur die jaar aan kompetisies deelneem om vir die byeenkoms te kwalifiseer. Vir dié kampioenskap het 33 honde vir die uitdunne gekwalifiseer, waarvan 12 deur is na die eindronde.
In die halfeindronde moet die hanteerder en sy of haar hond vier skape langs 'n spesifieke roete deur 'n reeks hindernisse tot in die middel van die baan bring. Dan moet die hond nóg vier gaan haal, en dan saam met die hanteerder vier skape sonder rooi halsbande uitkeer en hulle in die kraaltjie injaag.
In die eindronde raak dit éérs ingewikkeld: Die hond moet tien skape gaan haal en deur 'n hek tot in die middel van die baan bring. Daarna moet hy nóg 'n troppie van tien elders op die baan raaksien, en hulle dan ook deur die hek tot by die ander bring.
Daarna sal die hanteerder die hond opdrag gee om die skape agterom hom te jaag, deur nóg twee hekke te neem en dan tot in die skeiring te dryf. Dié slag moet vyf gemerkte skape van die res van die trop geskei en in die kraaltjie ingejaag word.

SIT JOU BESTE VOETJIE VOOR. Sue Main, die beoordelaar, hou elke hond met 'n valkoog dop en gee punte vir onder meer reaksie op die hanteerder se bevele en fluite, die gesag waarmee 'n hond die skape hanteer, en die presisie waarmee die bewegings uitgevoer word.

STOP DIE KLOK! In die halfeindronde kry elke hond 20 minute om sy ronde te voltooi. In die eindronde is dit 'n halfuur.

NOU LUISTER JULLE VIR MY´. Skaaphonde word al eeue lank geteel om met vee te werk en daar is g'n einde aan hulle entoesiasme en stamina nie. Van die honde het duidelik 'n beter aanvoeling vir skape as ander - 'n mens kan sommer sien of 'n hond gesag afdwing en of die skape agter mekaar se wolle vir hom lag.

'N LAFENISSIE. W.A. Hugo van Eendekuil en sy hond Jack herstel ná 'n ronde. Terwyl hulle deelneem, hardloop die honde dat hulle tong behoorlik uithang, en 'n krip vol koue water is die beste manier om hulle vinnig te laat afkoel.


EENDAG AS EK GROOT IS… Sommige toeskouers bring ook húlle honde saam. Hoewel van die toeskouers se kop af en toe geknik het, het die viervoetiges met wakker oë en gespitste ore gekyk hoe die kampioene sake uitspook.

HY'S G'N SWARTSKAAP. Faansie Basson van Swellendam is een van die bekendste skaaphondtelers en -afrigters in die land. Die sesjarige Don is as Hond van die Jaar vir 2012 aangewys, wat beteken hy het deur die jaar in verskeie kompetisies die beste presteer. Faansie en sy honde het al tot in Amerika aan skaaphondbyeenkomste deelgeneem (die wolskape daar is glo baie kwaaier as ons merino's en sal sommer 'n hond met die kop stamp, vertel Faansie). Op die tuisfront was sy "kinders" al ses keer nasionale kampioen en tien keer Hond van die Jaar.

MOOI SO, OUNOOI. Elsie Jammy, president van die Suid-Afrikaanse Skaaphondvereniging (Sasda), wens haar tefie Bles geluk ná haar eindronde.

AGTER DIE SKERMS. Elke deelnemer werk met 'n vars troppie skape, wat beteken dat honderde diere elke dag van die kampioenskap heen en weer geskuif, afgekeer en op die baan in posisie gebring moet word. Ouens soos Taan Driver en Tess, die hond, doen dié werk.

GEE POOT, OU MAAT! Henry van der Merwe (74) neem al sedert 1982 aan die Skaaphondkampioenskapsbyeenkoms deel, en sy honde was al tien keer Hond van die Jaar en ses keer nasionale kampioen (soos die sesjarige Thomas, wat as 2012 se kampioen aangewys is).
Henry en sy honde werk elke dag skaap op sy plaas naby Sutherland, en kompetisies soos dié is sy stokperdjie. "Dit is van die min sportsoorte waaraan 'n mens kan deelneem as jy al taamlik oud is," vertel hy.
Maar uiteindelik gaan dit nie oor wen nie. Dis die verhouding tussen 'n hanteerder en sy hond - en wat hulle as 'n span vermag - wat saak maak.
"Honde is maar nes mense," sê Henry terwyl hy op die afgeslaande agterflap van sy bakkie sit en kyk hoe sy klompie honde water drink. "Party word oud, ander nie… jy werk so nege, tien, elf jaar saam."
Hy sit 'n oomblik en nadink oor die hondvriende wat hy al oor die jare moes groet. Dis nie maklik as jy´ die een is wat elke keer agterbly nie. Dan vryf hy oor die sagte swart ore en sê: "They are the lucky ones..."












