Reis

Bromvoëls in rouklere?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Albie Venter
Foto: Albie Venter

Wanneer jy tyd in die Krugerwildtuin deurbring, is jou kans redelik goed dat jy dié swart-en-rooi voëls te siene sal kry, gewoonlik in klein familiegroepe in grasveldgebiede.

Bromvoëls is egter bedreig in Suid-Afrika: Kenners skat daar is net sowat 1 500 van hulle oor en hulle is hoofsaaklik beperk tot groot natuurreservate. (Dié syfer is in April 2017 in Weg gepubliseer.) Die situasie word vererger omdat bromvoëls koöperatief broei. Dit beteken dat 'n broeigroep eintlik net een broeipaar insluit, saam met 'n paar helpers - gewoonlik ander mannetjies of jonges van vorige broeiseisoene.

Net die alfapaar broei, wat beteken die broeibevolking is maar sowat 400 pare. Al lê hulle twee eiers, word net die kuiken wat eerste uitbroei, grootgemaak - die eersgeborene maak sy boetie of sussie dood.

Bromvoëls lewe baie lank - daar is al een opgeteken wat 70 jaar oud geword het in aanhouding! - en hulle broei net elke 9 jaar. Hulle getalle groei dus van nature stadiger en daarom het ander bedreigings soos habitatverlies en dood deur elektriese skok 'n groter impak.

Asof dít nie genoeg uitdagings is om te oorkom nie, is daar ook ál minder bome vir bromvoëls om in nes te maak. As gevolg van hulle grootte, benodig hulle groot bome met groot, natuurlike gate vir die neste. Wanneer dit baie droog is, gaan van die bome dood en val om, wat beteken nesgate wat al dekades oud is, word vernietig.

Maar daar is darem 'n bietjie goeie nuus. 'n Hele paar bewaringsorganisasies, waaronder die Mabula Ground Hornbill Project (ground-hornbill.org.za), doen goeie werk om bromvoëls te help bewaar. Hulle hou neste dop en verwyder soms die kuiken wat tweede uitbroei. Dié kuiken word dan grootgemaak en vrygelaat.

Albie Venter

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM