Reis

Dagsê Buurman

Wat maak 'n kamp so lekker? Heelwat meer as net die koffie, pap en wors. Jy sien byvoorbeeld gereeld 'n ander toneel deur jou venster, selfs al trek jy elke keer dieselfde gordyne oop.

Hoewel ons gaan kamp om van die werklikhede van ons alledaagse bestaan te ontsnap, beteken dit geensins ons bevind ons afgesonder en alleen nie. In die meeste gevalle kamp ons saam met ander mense. Mense wat ons nie ken nie. En dan bly ons nogal óp mekaar, ons gebruik dieselfde storte, staan langs mekaar en tande borsel en swem in dieselfde swembad.

Dit is juis oor dinge soos dié dat bedagsaamheid én verdraagsaamheid so belangrik is in die kampterrein. Net so min soos jy jou buurman se televisie wil hoor, net so min wil hy hê jou braairook moet by sy tent in trek.

En net so steurend soos sy kinders op skopfietse vir jou is, net soveel pla dit hom as jy vyfuur in die oggend jou dieselbakkie eers vir drie minute laat luier voor jy vertrek om te gaan wild kyk.

Hoe lyk 'n modelbuurman dus? WegSleep-lesers het hulle stuiwer in die armbeurs gegooi.

Dagsê, welkom hier!

Dit klink dalk voor die hand liggend, maar die oorgrote meerderheid van ons lesers het laat weet hulle waardeer dit erg as nuwe kampbure vriendelik groet.

Niks kan makliker wees nie. Vóór jy met die tentopslanery begin, stap oor na jou kampbuurman toe, groet en stel jou en sommer jou gesinslede voor. Dit kan selfs vir jou voordele inhou. Jou buurman staan al 'n rukkie en hy kan straks vir jou sê hoe die beste manier is om jou wa staan te maak om te sorg dat jy die meeste koelte kry. Of hy kan jou waarsku oor die plek in die boom waar die boomgom uitdrup.

En met 'n vriendelike groet spring julle sommer op die regte voet weg.

Dieselfde geld as jy die een is wat reeds staan en 'n nuwe buurman verwelkom. Die onus rus nie noodwendig by die aankommer om eerste te groet nie. Stap oor, vra of jy kan hand bysit en bied dalk selfs koffie, tee of iets anders te drinke aan as jy so voel. Só kan jy sommer seker maak sy braaiplek is op 'n plek waar die rook nie in jou tent gaan inwaai nie. Maar moenie opdringerig wees nie. As jy kan sien jou nuwe buurman is iemand wat verkies om eers kamp op te slaan voor hy ontspan, los dit daar.

Help 'n bietjie daar

As jy duidelik kan sien jou buurman sukkel en jy is 'n gesoute kampeerder wat al meer as een tent in jou lewe opgeslaan het sonder om die instruksies te lees, gaan bied jou hulp aan.

Die sukkelaar sal sekerlik 'n keer of wat jou hulp vriendelik van die hand wys, maar verduidelik vir hom dat hy - met jou hulp - binne minute reeds die vuur aan die gang kan hê.

As die son al onder is en jou kampbure kom dán eers aan, bied vir hulle van jou kole aan of vra of hulle gou by jou wil braai - veral as hulle met kinders kamp. Hulle sal jou ewig dankbaar wees.

Hou ook 'n ogie oor jou buurman se goed as jy nie daar is nie. As die wind opsteek, red sy goed. En as die apies kom loer, verjaag hulle. En as hy terugkom, sê vir hom jy het vroeër gekeer dat sy tent wegwaai en vertel hom hoe hy te werk moet gaan om stormbande en -penne in die hande te kry. Dit is die soort raad wat hom altyd sal bybly.

Op 'n afstand

Te veel van 'n goeie ding is ook nie altyd goed nie. Respekteer jou medekampeerder se privaatheid en weet wanneer om op te hou gesels, soos een leser sê. 'n Ander sê sommer prontuit iemand wat die heeltyd loer wat jy doen, is nie goeie buurmanskap nie. Dis goed en wel om raad te gee en kamp- en sleepidees uit te ruil, maar probeer om nie 'n oorlas van jou te maak nie.

Elke ou doen sy ding op sy eie manier en jou buurman wil nie noodwendig elke keer hoor hoe jy dit eerder sou doen nie. Soos 'n ander leser sê: "Verstaan tog dat ons soms 'n bietjie alleen wil wees en nie oor alles onder die son wil klets nie."

Grensdraad

As jy by 'n woonwapark met onafgebakende staanplekke kamp, wees bedag op jou buurman se spasie. Niemand verwag van jou om meters ver weg op te slaan nie en as jy ook 'n deel van daardie spesifieke boom se koelte wil hê, kan jy jou staan daar kry.

Maar sê bloot net waar jy jou tentpenne gaan inslaan, los 'n redelike spasies tussen julle en goeie buurmanskap is so te sê verseker. As jou medekampeerder wil kla omdat jy nou juis híér wil kom opslaan, gaan soek vir jou 'n ander staanplek. Die kanse is goed die ou suurknol gaan in elk geval net jou boskuiertjie bederf.

Maar as jy en die buurman tot 'n vergelyk kom oor waar die grens tussen julle loop, moet jy dit respekteer. Moenie kortpad oor sy staanplek kies ablusieblok toe nie en wys vir jou kinders waar hulle kan speel en waar nie.

Soos Johannes Kerkorrel gesê het...

Sit dit af, sit dit af! Nie almal stel belang in watter vrou kykNET se boer uiteindelik gaan kies nie, en al is Bobby van Jaarsveld se nuwe treffer jou gunstelingliedjie, hou die mense wat langs jou kamp dalk nie van Afrikaanse poptreffers nie.

Dit is sekerlik die een ding waaroor almal saamstem. Niemand in die kampterrein wil jou of jou toestelle hoor nie. Of dit nou jou televisie, radio of kinders is, neem die mense om jou in ag.

Dit geld nie net vir musiek nie. Pomp jou lugmatras vroeër in die aand op, want daardie elektriesie pomp maak laatnag 'n vreeslike lawaai. En al hét jy en Swannie mekaar jare laas gesien, moet julle later maar stiller raak daar om die vuur. As jou kleintjies al douvoordag uit die vere is, maak hulle bedag daarop dat ander mense om julle nog slaap.

Die eenvoudigste oplossing is om bloot die kampreëls na te kom - só hou jy jou kant skoon.

Die klein dingetjies

Maak die geriewe skoon as jy dit klaar gebruik het. Was jou baardstoppels uit die wasbak en maak die vloer droog as jy klaar gestort het. Los dit soos jy dit wil kry.

Vang jou gryswater op en keer sodoende dat dit in jou buurman se staanplek inloop, maak die vullisdrom se deksel weer dig toe, parkeer jou kar op jóú staanplek en hou 'n wag voor jou mond... daar kamp dalk kinders langs jou.

Ou klikbek!

Dit is onafwendbaar dat jy een of ander tyd langs iemand gaan opeindig wat jou geduld en laaste greintjie verdraagsaamheid tot die uiterste gaan beproef. Die beste ding wat jy kan doen, is om met daardie persoon te gaan gesels en vir hom te sê sy gryswater het jou staanplek in 'n moddermoeras omskep.

Ja, daar is diegene wat nie minder kan omgee oor hulle medekampeerders nie, maar hulle is genadiglik in die minderheid. Die kans is goed dat jou buurman nie eens weet hy is besig om jou so te ontstel nie. As jy stilbly en hom net verwens, of solank die sterkbewoorde brief in jou kop formuleer wat jy vir die oordbestuur gaan skryf, versuur jy net jou eie vakansie.

Stap oor, bring jou probleem onder jou buurman se aandag en heel waarskynlik gaan hy jou aangenaam verras.

En as hy traak-my-nie-agtig is oor die storie, kan jy jou met alle mag - en 'n geruste hart - tot die oordbestuur wend.

WegSleep sê

Jy kamp nie alleen nie. En nie almal doen dinge soos jy dit doen nie. Wees vriendelik en bedagsaam. En gooi 'n goeie skeut verdraagsaamheid by. Dan is 'n lekker kampervaring vir jou en jou gesin so te sê gewaarborg.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM