Al kamp jy net vir 'n dag of twee net om die draai van die huis, kan jy jou maar regmaak vir 'n duisend of tweeduisend rand.
'n Tentvakansie van 31 dae, in Europa nogal, vir R1 900 klink onwerklik. Met etes en 'n klomp sakgeld by die prys ingesluit, klink dit nóg meer onwerklik. Maar nee, dit is nie een of ander bedrogspul nie. Dit was wat 'n maand lange skoolkamp in Europa 30 jaar gelede gekos het.
IN 1982 KRY ONS 'N BRIEFIE by die skool wat ek met groot afwagting huis toe vat.
Ons skoolhoof, Sam Pellissier, neem die volgende jaar 'n groep van die Hoërskool Sasolburg se kinders vir 'n maand lank op 'n opvoedkundige skooltoer na Europa. Die kinders gaan vir agt dae in hotelle bly en die res van die tyd in tente kamp.
'n Tweemantent wat jy met 'n maat deel asook 'n kampstoel en -matras is by die prys van R1 900 ingesluit.
"As meer as 40 leerlinge wil saamgaan, sal hulle gekeur word op grond van senioriteit, akademiese prestasie en hulle bereidwilligheid om take uit te werk en vir die toer voor te berei," lees die brief verder.
Dit maak my kanse skraler, want ek staan bykans agter in die ry as dit by al hierdie dinge kom. Gelukkig sê net 31 leerlinge se ouers ja, en ek kwalifiseer toe outomaties.
Nou moet my ouers net met die bankbestuurder gesels, dan is Europa vir my op 16 'n werklikheid.
ONS BLY DIE EERSTE PAAR DAE in hotelle en sien Spanje en Engeland. Mnr. Pellissier, ook 'n ywerige fotograaf, vat ons na 'n groot kamerawinkel toe in Londen en koop 'n paar lense wat hy duidelik vooraf bestel het.
In dié winkel vertel hy vir ons watse goeie belegging 'n kamera in die lewe is.
Ons is nog net 'n dag of wat op toer, en daar groet my R400 sakgeld vir die hele 31 dae net daar. Ek koop vir my op die plek 'n Pentax K1000 met 'n standaard- en wyehoeklens, min wetende dat dit my loopbaankeuse en lewe sou bepaal.
AS ST. 8-SEUN sien ek die "Mona Lisa" - die werk is baie kleiner as wat ek verwag het. Ons sien ook Rembrandt se lewensgroot "Nagwag" en Napoleon se graf. En ons sien 'n stiergeveg in Madrid.
Dis wreed en die matador met sy mantel tart die groot swart bul tot die dood toe.
Maar dis nie al goed wat ons sien wat nie by die huis te sien is nie. Bo-op die hoteldak in Madrid lê die tannies bostukloos langs die swembad en sonbaai, en oorkant die hotel in Londen kan jy Hugh Hefner se tydskrifte koop. Dis nou daardie verbode tydskrifte waarvan jy by die huis gehoor het. Mnr. Pellissier mag dit nie weet nie, maar ons koop maar een en loer.
Uit Innsbruck vertel mnr. Pellissier in sy nuusbrief vir ons ouers hoe een van die ander kampeerders ons Suid-Afrikaanse kinders se lof besing. Hy haal die kampeerder aan: "Meneer, jy het wonderlike kinders by jou. Hulle is so mooi gemanierd, op hulle plek en lyk nog so eg kinderlik. Ons kinders in Europa is nie meer so nie."
DIE TENT WAT JY EN JOU tentmaat self moet op- en afslaan, is van daardie soort met die twee regop aluminiumpaaltjies en 'n nokpaal waaroor jy die tent- en boseil span. Dis Julie en hoogsomer en genadiglik reën dit nie.
Ons stap dag ná dag van die een besienswaardigheid na die ander: die Dawidbeeld, Eiffeltoring, Kolosseum en die Toring van Pisa.
Ons slaan van kampplek tot kampplek tent op. Saans staan ons tente tussen die tente van kinders van Europa en ander lande. In die kampplek 10 km buite Amsterdam kamp ons saam met skoolkinders van Engeland, Australië en 'n klompie al die pad van Durban af.
Hierna is dit weer kamp opslaan by die volgende kampplek. Ander kere is daar kinders van Switserland, Swede en Noorweë saam met ons in die kamp.
Van Frankryk af vat ons die skip Korsika toe en dinge loop die eerste keer skeef.
Ons tente raak soek en ons moet onder die sterre slaap. Maar die tente wat weg is, pla van ons glad nie, want die mense op die strand is weer skrapser aangetrek as waaraan ons gewoond is.
Jy mag op 16 'n bier in Duitsland drink, maar daardie 1 l-glasbeker is groot. Ons is egter geleer om nie te mors nie, en stadig maar seker sit die Duitse bier vir my ore aan.
SELFONE EN E-POS BESTAAN NOG NIE, maar ons ouers is 'n paar kampplekke se telefoonnommers gegee sodat hulle op 'n spesifieke dag en tyd kan bel. 'n Tienerseun op toer het nou nie altyd tyd of lus vir 'n telefoongesprek met sy ouers nie, maar jy doen dit maar omdat dit die regte ding is om te doen.
Die lys van besienswaardighede word nie korter nie. Mnr. Pellissier maak seker ons ouers kry waarde vir hulle geld.
Ons draai by die Sistynse kapel en sien Versailles, die Alpe, die Vatikaan en die swaarde van Toledo. En ons mond hang oop oor die karre wat aan die verkeerde kant van die pad ry en die kleurryke Hollandse gulde wat soos Monopolygeld lyk.
Met my kamera - daardie belegging van R400 - om my nek neem ek links en regs dinge af. Selfs mnr. Pellissier se middagslapie met sy arm oor sy gesig op 'n bankie in Amsterdam word op film verewig vir die fotoalbum.
In München looi die son my, en om sake te vererger het ek die hele dag net 'n roomys oor my lippe gehad. Die geskiedkundige Hofbräuhaus is op ons besoeklysie en die brouery is al 'n hele paar honderd jaar oud. Jy mag op 16 'n bier in Duitsland drink, maar daardie 1 l-glasbeker is groot. Ons is egter geleer om nie te mors nie, en stadig maar seker sit die Duitse bier vir my ore aan.
EERS DIE VOLGENDE DAG hoor ek van my skandes. Terug in Suid-Afrika sal ek nog 'n keer in die skoolsaal daarvan hoor.
Ek kan dit nie onthou nie, maar moet hoor my tentmaat het my onder die stort probeer nugter kry. En om alles te kroon kies my ouers toe ook dié aand om te bel om te hoor of alles nog in die haak is en ek nog lekker toer. Ek weet nie wie met hulle gepraat het nie, maar dit was nie ek nie.
Terug by die huis draai mnr. Pellissier nie doekies om in sy nuusbrief aan die ouers nie. Hy verseker hulle ons kinders sal die toer tot ons oudag onthou, en voeg dan by: "So kan ek ook sê in die groep was leerlinge wat baie ingeneem het en ek is oortuig die toer was vir hulle van onskatbare waarde. Dan was daar ook leerlinge wat baie minder ingeneem het..."
Ek was waarskynlik een van laasgenoemdes met wie mnr. Pellissier minder ingenome was, maar wat hy nie weet nie, is dat hy vir my op die einste toer eintlik my loopbaan gekies het.
Ek het in die skool se donkerkamer begin eksperimenteer en later het ek en Pa vir mnr. Pellissier gaan kuier sodat hy kon raad gee oor die donkerkamer wat ek by die huis ingerig het.
Vandag, dertig jaar later, kamp ek steeds en neem ek steeds foto's - vir my brood en botter.
én ek verstaan die gevaar wat 'n 1 l-bierglas inhou!











