Reis

Rubriek: Die goeie lesse van skoolkampe

Vir 'n skoolkamp is 'n wa agter die skoolbus gehaak waarin almal se bagasie gepak is. Vooraf sou daar streng reëls wees: Slegs één sak per kind.

Die busbestuurder was gewoonlik die houtwerkonderwyser, wat geweet het van swaelstertvoeë en dus ook maklik 'n harde tas en 'n sagte tas én 'n toksak in die hoek regs bo kon laat inpas.

Ons moes altyd vroeg ry, selfs al moes ons nie ver ry nie. Die koshuiskinders - soos ek - het altyd kospakkies gekry, omdat ons nie tyd gehad het vir ontbyt daai oggend nie.

Dié pakkies het altyd bestaan uit twee kaas-en-tamatie-toebroodjies, gemaak met witbrood, omdat tannie Dorothea ons wou bederf. Die toebroodjies is toegedraai in waspapier, en saam met 'n appel én 'n piesang in 'n Jiffy-sakkie gesit (in die winter: lemoene).

Soms was daar 'n hardgekookte eier, en dan het alles, ook jou piesang, effens benoud geruik. Ons het nie eintlik baie skoolkampe gehad nie.

Op laerskool was ek meestal op Voortrekkerkampe. Gewoonlik sou die hele streek - so 'n paar "kommando's" - se Penkoppe en Drawwertjies vergader by Denmark, noordwes van Cradock, daar op die Wapadsbergpad in die Oos-Kaap.

Ek ry nog gereeld daar verby; ek sien dis nou 'n gasteplaas en woonwapark. Wat ek onthou van destyds se Voortrekkerkampe is dat dit 'n mooi ou plaashuis was, met 'n witgekalkte skuur of iets wat omskep is in slaapsale met stapelbeddens en 'n sementvloer.

As ek reg onthou, was daar peperbome, 'n klipkraalmuur wat oorleun, en leivore.

Ek is eintlik dankbaar vir hierdie kampe, want ek dink dit het my voorberei op klaarkom met min. Vandag nog pak ek baie min goed in wanneer ek gaan kamp of op reis gaan.

Maar buiten die gewone dinge soos skoon klere, seep, 'n tandeborsel en dies meer was daar vir kampe 'n paar spesiale items wat ingepak moes word - soos jou eie blikbeker en -bord, en mes en vurk.

Ek is eintlik dankbaar vir hierdie kampe, want ek dink dit het my voorberei op klaarkom met min. Vandag nog pak ek baie min goed in wanneer ek gaan kamp of op reis gaan.

Hierdie eetgerei is saam in 'n lapsakkie gesit wat met 'n toutjie of rek toetrek. Dié lapsakkie het my ma gewoonlik gemaak van ou gordynmateriaal of 'n kussingsloop wat al beter dae geken het.

Ek het ook 'n wasgoedsak of twee gehad wat van dieselfde materiaal gemaak was.

Ek het vandag nog, amper 20 jaar sedert ek uit die koshuis is, van die wasgoedsakke wat my ma gemaak het. En lapsakke - deesdae kry ek biltong in hulle.

Dis van my persoonlike goed waarvoor ek die liefste is. Ek weet presies hoeveel liefde van my ma in daai sakkies opgesluit lê.

Die bord en beker sou elk my naam op gehad het, of dalk net my van: "COETZER" (ja, in hoofletters). Nie met koki geskryf nie, maar met naellak, wat nie so maklik kan afwas nie.

Selfs die mes, vurk en lepel sou gemerk wees - dalk net met voorletters. Later sou dit net 'n rooi blerts wees, meer kripties as hiërogliewe.

As koshuiskind sou elke kledingstuk ook gemerk wees. Goed en wel, omdat dit beteken jy kry net jou eie klere terug van die waskamer af, maar minder goed by die kamp wanneer iemand afkondig iemand het Coetzer se sakdoek iewers opgetel... en daar's reeds in gesnuit!

Ander tipiese kamptoerusting was 'n flits. Daai jare was kopflitse nog nie algemeen nie, en daarom het ek altyd daai plastiekflits byderhand gehad wat ek drie verjaardae tevore gekry het en waarin 'n los stukkie van iets nou rondskud. Ek moes hom altyd eers so 'n paar keer klap voor die lampie mooi werk.

Daar by Denmark het ons soms - indien die kamp oor 'n volmaan geval het - op 'n nagmars gegaan. Dan moes ons stil wees en die flitse moes af bly. Ons moes ook saggies stap.

Ons is geleer om eers die kant van jou skoen neer te sit en dit dan stadig plat te rol, so asof jy besig was om iets te bekruip, en asof die bleek Karoonaglandskap rondom ons eintlik Angola was, reg om in te val.

Ek het wel geleer hoe die Suiderkruis lyk, en hoe om dit te gebruik om met gesag te kan sê waar ware suid lê.

Elke kamp sou 'n interessante besering oplewer. Soms sou dit 'n bebloede neus wees nadat iemand van slaapbank tot slaapbank gespring (en mis gespring) het ná ligte-uit. Ander kere sou iemand dalk 'n ligte brandwond opdoen by die braaivuur terwyl hy 'n ketel sonder 'n vatlap optel.

Daar was ook situasies wat moeiliker was om te verduidelik en dus eintlik tot elke prys toegesmeer moes word. Ek dink nou veral aan daai keer toe ons op 'n Voortrekkertoer deur die Noord-Kaap en Vrystaat was.

Ons was nog op laerskool en het Kimberley, Magersfontein, die Vrouemonument en die Sand du Plessisteater in Bloemfontein aangedoen.

Buite Bloemfontein het ons by Maselspoort geslaap. Dit was al amper die einde van die toer, en veral die ouer kinders het begin kattekwaad aanvang.

Ek wil nou nie name noem en verkeerd wees nie, maar ek vermoed Spikkels, Mossie en Vicky was betrokke. Ek sou raai dit was Spikkels se idee, Vicky het die vuur aangesteek, en Mossie was die effens geboeliede slagoffer.

Almal wonder altyd in 'n stadium wat sou gebeur as jy 'n wind aan die brand steek. Wel, daai aand het ons uitgevind. Mossie - as dit hy was - het maar net die volgende dag effens bakbeen geloop omdat sy dye effens rou gebrand was.

En daai onderbroek is weggegooi - dis g'n iets wat jy by die huis vir jou ma wil probeer verduidelik nie.

Jy kan maar net sing. En sing - al brom jy net saam - maak 'n kampvuur beter. Dit maak die koue beter. Dit maak jou ete beter.

Skoolkampe het ook altyd 'n singery ingesluit. So terwyl ons staan en wag vir etenstyd, sou iemand voorstel dat ons daai worsie-anderhalf-duimpieliedjie sing: "Dis net 'n worsie anderhalf duimpie, bo-op 'n snytjie botter en brood."

Dit was seker 'n sielkundige taktiek, want as jy met dié depressiejare-beeld in jou kop wegspring, dan is alles wat jy daarna op jou blikbord kry, koningskos.

Al kon ek nooit regtig mooi sing nie, het kampe my geleer dit maak nie saak nie. Jy kan maar net sing. En sing - al brom jy net saam - maak 'n kampvuur beter.

Dit maak die koue beter. Dit maak jou ete beter. By CSV-kampe is ook baie gesing.

Teen hoërskool was ek grotendeels klaar met die Voortrekkers en het die groot sosiale geleentheid by die skool die CSV geword.

Dit was ook die een geleentheid waar jy langs meisies kon staan en dalk selfs handevat, al was dit dan nou onder gebed.

Tog, 'n ou moes vat wat jy kry. CSV-kampe het jou in jou puisiejare getref. Saam met die ontwaking van jou hormone moes jy sommer ook die kerk se reëls inneem (soos met ons katkisasiekamp by Suurberg), al was dit moeilik om te konsentreer op heilig en vroom wees tussen die Clearasil- en Brutwalms terwyl jy met 'n dwalende oog afwyk van die Jeugsangbundel hier voor jou tot op een of ander aster se effens ontblote skouer.

Die belangrikste ding wat skoolkampe my geleer het, is dat jy mense - en jouself - beter leer ken. Ek het daar geleer wat dit beteken om saam te werk, geleer hoe om vir ander mense hulle ruimte te gee, en ook 'n bietjie oor verantwoordelikheid leer.

Wanneer ons dan almal weer in die skoolbus die terugtog aanpak, was daar iets nuuts tussen ons wat nie voor die tyd daar was nie.

Dalk is daar iewers 'n bietjie gevry, en dalk het nuwe boyfriends en girlfriends van Maandag af bymekaar gesit daar by die hibuskuslaning.

Dit wat ons gedeel het op die kamp, het deel van ons pousestories geword. Daar was 'n kameraadskap te bespeur.

Hoe ook al: Ons was anders.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM