Ek staan vingeralleen op die Frankfurt-lughawe in Duitsland. Iewers het ek my arms verloor, want ek het my misgis met die gewig van my handbagasie.
Dit voel asof ek al kilometers agter die blou aanwysingsbordjies aanloop en nou is dit 'n doodloopstraat - dit lyk soos 'n treinstasie. 'n Moltrein?
"I need to fly to Heathrow," sê-vra ek vir 'n vrou in 'n uniform. "On a Lufthansa flight."
"Hop on the train, it'll take you to the boarding gates!" antwoord sy, en klim ook op. Met 'n enkele kopbeweging wys sy my minute later waar om af te klim.
Weer volg ek die bordjies en kom by die sekerheidshek. Hier moet ek my baadjie uittrek en al die plastieksakkies in my handsak uitpak.
Alles gaan in 'n houer vir skandering. Dan is dit my beurt. Ek staan in 'n glaskas, wydsbeen met my voete op die geel geverfde voete. Arms in die lug.
Aan die ander kant trek 'n sekerheidsvrou my aan die mou. "Come with me!" Sy gebruik haar hande om my liggaam te ondersoek.
Ek moet my skoene uittrek. Hulle neem dit weg vir verdere ondersoek.
Dan pluk sy my aan die voorkant van my jeans. Trek my broek weg van my lyf af en steek haar hand voor in. "Sjoe..." protesteer ek in Afrikaans.
"Go!" sê sy met 'n strak gesig. Kaalvoet en half verontreg loop ek soos 'n afgejakte hond na my bagasie. Ek begin aantrek en my goed terugpak.
"Not so fast, lady, I need to inspect your luggage." Die man maak die houertjie met my juwele oop.
Hy sukkel met die ritssluiter. Oorbelletjies val oral.
Ek kruip op die vloer rond en skraap hulle weer bymekaar.
'n Uur en 'n half later klop my hart vinnig wanneer die vliegtuig op Heathrow buite Londen neerstryk.
Ek moet weer deur die sekerheidsafdeling, maar die Britte is vriendeliker as die Duitsers.
Dis met 'n sug van verligting dat ek my lang skoonseun se kop bo die skares sien uitsteek.
Om die draai kom die kleinkinders op my afgepyl. Ek probeer my trane sluk. Amy, die oudste, is voor.
In die vier jaar sedert ek haar laas gesien het, het sy ontpop in 'n langbeen tiener met rooibruin hare tot by haar middellyf.
Fyn, blonde Zoë kom aangehuppel - sy borrel van energie. Die vyfjarige Eli was nog 'n baba toe ek hom laas gesien het. Hy skuil skuins agter sy suster.
In die kar vat hy van agter aan my hare. "I remember you, you are my little ouma," sê hy in 'n Britse aksent.
"Go!" sê sy met 'n strak gesig. Kaalvoet en half verontreg loop ek soos 'n afgejakte hond na my bagasie. Ek begin aantrek en my goed terugpak.
Ons ry van die lughawe af na die kus van Southampton. Dis koud en reënerig. Grys. 'n Hele nuwe soort mooi.
Ons ry tot op 'n groot veerboot en parkeer. "Dis so 'n uur lange vaart na die eiland, Ma," verduidelik my dogter.
Weldra kom die Isle of Wight binne sig. Ek sien seilbote op 'n byna branderlose kus. Ruk-ruk skop die boot anker.
Kort daarna ry ons opgewonde die eiland in.
In die grouheid lyk die bome en gras onnatuurlik groen. Daar is stringe skakelhuise met blombakke voor die vensters en flikkerende Kersliggies wat die skemer verlig.
Vet katte lê opgekrul op lae muurtjies, plek-plek is regopstert honde op hulle daaglikse stappie.
Ons kom tuis by die kinders se losstaande rooi baksteenhuis. Die voordeur is potblou.
My skoonseun parkeer in die straat - min huise het 'n motorhuis. As jy nie 'n jaarlikse permit uitneem vir parkering nie, mag jou motor net twee uur daar staan.
My skoonseun maak toebroodjies met pastrami, agurkies, kaas en mosterd wat hy in spesiale sakkies in die broodrooster braai.
Eli bring 'n groot handgemaakte Kerskaart. Ek lees die inhoud: To Dad, Mom, Amy and Zoë.
"Your name is not in it. When I made this card you were not part of the family yet," verduidelik hy.
Amy tap vir my 'n skuimbad en Zoë verf my naels, elkeen in 'n ander kleur. Dan plak sy hulle vol blinkertjies.
Ons gaan op uitstappies om die eiland te verken. Die strande bestaan uit fyn bruin klippies, met groen grasperke tot reg teenaan.
Ons besoek die Needles: imposante rotstorings wat uit die see verrys.
Binnelands wei skape en koeie in lang gras. Daar is bokke met lang-lang hare, perde wat baadjies dra teen die koue, swane, rooi eekhorings.
Godshill, 'n piepklein dorpie, staan uit. Dit lyk soos prente op lekkergoedblikke.
Regoor die Isle of Wight hang groot bome oor die paaie sodat tonnels vorm waaronder ons deurry. Die meeste van die paaie is net breed genoeg vir een kar.
By versteekte draaie gee motoriste 'n waarskuwende toet. "Wat beteken daai padteken?" wys ek met my vinger. "Geen spoedbeperking nie!" hoor ek verbaas.
Tog sien 'n mens nie spoedvrate nie.
By van die plaasingange is eenvoudige stalletjies: houtkratte volgepak met eiers of groente. Die stalletjies is onbeman. Jy help jouself en sit geld in 'n houertjie.
"Dit sal vir seker nie in Suid-Afrika werk nie," sê ek laggend.
Ons beplan ons dae tot vieruur in die middag, want daarna is dit pikdonker buite.
Op een van die eerste uitstappies was ek deurmekaar toe my skoonseun by die poskantoor stop om 'n pakkie op te tel. "Siestog, die mense moet darem tot vreeslik laat werk?" "Dis maar net kwart oor vier, Ma..."
Godshill, 'n piepklein dorpie, staan uit. Dit lyk soos prente op lekkergoedblikke.
êrens op 'n uitstappie is die polisie agter ons. Hulle sit die sirene aan om verby te kom. "Just sit up straight and try to act normal," hoor ons vir Zoë agter in die motor.
Ons proes van die lag en wonder oor haar skuldige gewete.
Ons eet middagetes in snoesige eetplekkies. Die aartappelskyfies is bruin en bros, sag binne.
By die ingang van een eetplek hang daar 'n groot bord: "Eat like nobody is going to see you naked." Klink reg; ek is mos met vakansie.
Op 'n rit op 'n ou stoomtrein bedien hulle warm glühwein en fruit mince-tertjies. Kersvader is op die stasie en die kinders kry presente.
Die rand-pond-wisselkoers is erg. Ek koop 'n paar goedjies vir £75 en ontvang 'n SMS van Standard Bank in Suid-Afrika: Ek het pas R1 800 uitgegee!
Oujaarsaand stap ons na 'n regte Britse pub toe. Daar's net soveel honde as mense in die kroeg. Hulle lê rustig langs hulle eienaar se stoel.
Wanneer iemand sy baadjie aantrek om huiswaarts te keer kry die hond ook 'n baadjie.
Dis met 'n swaar gemoed dat ek my kind en haar gesin groet. My tydjie saam met hulle op die eiland het gevlieg.
Ek moet weer deur Frankfurt-lughawe se sekerheidsafdeling. Hierdie keer is dit 'n man wat my lyf deursoek. Hulle roep die polisie om my bagasie te deursoek.
Mans in swart uniforms - "POLIZEI" groot op hulle bors geskryf - krap deur my goed.
Ander mense om my word net deurgelaat, maar my kop is so 'n warboel van gedagtes dat ek nie omgee nie.
Ek dink aan hoe die kleinkinders gegroei het, verander het. Ek wonder wanneer ek hulle weer sal sien.
Ons vlieg oor Afrika. Ek tob oor die dag toe my dogter en haar gesin Suid-Afrika verlaat het. Deur die vliegtuigvenstertjie sien ek hoe die son getrou opkom.
Kyk ek na die dor, lewelose landerye doer onder. Ervaar ek elke emosie wat my destyds oornag tien jaar ouer gemaak het.
Op die Isle of Wight is die kinders ná die Kersvakansie terug skool toe. My dogter vertel dat dit nou bitterkoud word.
Sy e-pos 'n foto van die gras bedek in 'n yslaag: Hulle verwag sneeu. "Ek sal enigiets gee vir 'n bietjie sonskyn!" kla sy.
Ek antwoord haar: "Mamma voel rustiger noudat ek weet waar julle slaap, wat julle eet, waar die kinders skoolgaan, dat dit met julle goed gaan. En wanneer ek aan julle dink, voel ek nie die koue en die nat en die grou nie: Ek onthou net die groen."
Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #150 (April 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.















