Reis

Die Hilux en "daai" video!

Die video deur die Sweedse publikasie Teknikens Världhet, waarin die nuwe Toyota Hilux byna omslaan om ‘n skerp draai, het soos ‘n veldbrand oor die internet versprei. Dis die sogenaamde "Moose test" en is veronderstel om te toets wat sal gebeur as ‘n mens skielik sou moes uitswaai vir iets, soos ‘n groot bok, in die pad. Hier sou ‘n mens dit seker die "Koedoe toets" kon noem. (Of die onverskillige voetganger op die snelweg-toets - Red.)

WegRy het voorts met Toyota daaroor gesels, en 'n kenner, Mike Briggs, se opinie ingewin. Mike is 'n voormalige Suid-Afrikaanse motorsportkampioen. Hy was 5 keer SA Groep N-kampioen en twee keer SA Toermotorkampioen. Hy het ook in Brittanje en Maleisië toermotors gejaag.

Mike sê:

"Dis moeilik om te sê waarom die Hilux die slegste vaar in hierdie toets. Ek dink dit het te doen met die feit dat bakkies al hoe meer soos gewone passasiersvoertuie word. Hoe meer hulle soos passasiersmotors ry en bestuur, hoe minder van die bakkie-eienskappe bly behoue. Ek vermoed in hierdie geval het die Toyota meer van die eienskappe van 'n bakkie (met ander woorde, hoë grondvryhoogte en 'n hoër swaartepunt) behou. Sy grondvryhoogte is die hoogste van hierdie groep bakkies en dus is hy meer geneig om oor te hel of te rol. Stywer vering sal waarskynlik die probleem oplos, maar dan boet 'n mens weer rygemak in en dis is iets wat voornemende bakkiekopers deesdae wil hê."

En Toyota sê:

Die veiligheid van ons kliënte is en bly Toyota se eerste prioriteit. Ons sien die verslag deur die Sweedse motortydskrif Teknikens Värld in ‘n ernstige lig en ons is tans in gesprek met hulle om die besonderhede van die toets te kry.

Toyota het streng veiligheidstandaarde op al sy produkte en die Hilux voldoen aan daardie standaarde. Nietemin, om Toyota-bestuurders se veiligheid verder te verseker, sal ons spoedig ‘n deeglike analise van die toets doen om ons reaksie daarop te bepaal.

Charles Thompson en Jaco Kirsten

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM