Reis

Dié Karoo-sirkelroete is ’n moet

Of jy nou die pad van Kaapstad, Kimberley, Gqeberha of Gauteng aanpak, moenie hierdie draai misry nie. Dié pad vat jy as jy op soek is na stilte, sterre en groot, oop vlaktes met asemrowende, onverwagte uitsigte, stories en ontdekkings.

Die roete

Jy kan by enige van die nege dorpe begin, maar dié storie vat die pad van die Baviaanskloof af. Dis verklaar as 'n Wêrelderfenisgebied en is bekend vir sy ongerepte natuurskoon, met majestueuse berge, plantspesies wat sewe van Suid-Afrika se biome insluit, 'n ryk voëllewe, wild en eindelose avonture.

Hier sal jy besonderse staproetes deur nou klowe met waterpoele ervaar, omring deur witsand-rivierstrande. Jy kan 'n bergfiets saambring vir die uitdagende bergfietsroetes, jou visvanggereedskap inpak, jou rotsklimtoue, en ry maar met die 4x4 al drink hy meer brandstof, want hier is roetes met uitsigte wat jou asem sal wegslaan.

In die Baviaanskloof is verblyf maklik en baie. Jy kan kies tussen grotte, boomhuise, kampeer onder die sterre en natuurlik ook luukse 5-ster-gerief.

Willowmore is bekend as die ingangsdorp na die Baviaanskloof as jy van die weste af kom. Op die stil, afgeleë paaie sal jy nie dink daar is veel rekords nie, behalwe miskien vir die meeste stilte - maar Willowmore is in werklikheid die wêreld se grootste produsent van sybokhaar.

Hierdie Karoodorp is 'n historikus se droom. Dit spog met pragtige ou geboue, mooi gerestoureerde begraafplase, 'n ou tronk, sowel as die ses oorspronklike Blackstone-kragopwekkers wat tot 1984 sowat 300 huise op Willowmore van krag voorsien het.

Karoo-tuisgebak en heerlike koffie by die verskeidenheid koffieplekke sal jou dors en honger stil ná 'n oggend se lewendige geskiedenis.

Mik dan na Rietbron, een van die kleinste Karoodorpies, maar met die meeste skoon vars Karoolug, waar jy werklik jouself kan vind. En as jy nog sukkel, wees gerus: Rietbron en Vondeling ('n klein stasie) spog met 'n Karoo-engelfabriek wat jou siel verseker sal verkwik.

Hier maak hulle die mooiste engele van draad, volstruisvere, handgeweefde sybokhaar en krale, en elke engel het 'n spesiale naam. Pak een in as beskermling vir die pad wat voorlê en weet, hierdie engele word uitgevoer na sewe lande: Skandinawië, Kanada, Amerika, Duitsland, Switserland, Brittanje en Frankryk.

Met sy pragtige wit kerk in die middel van die dorp - soos dit hoort met klein dorpies - sal Aberdeen jou siel verder verryk. Die 50 m hoë kerktoring is een van die hoogstes in Suid-Afrika! Die 20 Bybelse tonele in die NG Kerk se saal is liefdevol geskep, meestal deur die senior burgers van die dorp.

Die tonele beeld God se verbond met die mensdom uit en is op 'n agtergrond van goiing geplak en teen die mure gehang om die swak akoestiek te verbeter. Aberdeen is ook bekend vir sy Victoriaanse argitektuurskatte en die Fonteinbos-natuurreservaat met sy natuurlike oog bedien die dorp van voldoende vars water.

As jy gelaaf is, is jy reg vir Graaff-Reinet, die oudste dorp in die Oos-Kaap, vierde oudste dorp in die land en ook bekend as die juweel van die Karoo. Graaff-Reinet is feitlik heeltemal omring deur die Kamdeboo Nasionale Park met sy uitsigte uit die bekende Vallei van Verlatenheid.

Daar is meer historiese geboue op Graaff-Reinet as in enige ander dorp in die land, met meer as 200 geboue wat as nasionale monumente verklaar is. Die NG Kerk (Grootkerk) in die middel van die dorp se ontwerp is gegrond op die Salisbury-katedraal in Engeland. Die dorp is ook 'n bietjie groter as van die ander stopplekke op die roete, dus kan jy hier volmaak met lekker kos in 'n verskeidenheid restaurante, sowel as 'n klomp opsies vir verblyf.

Maar moenie té gewoond raak aan terug wees in die samelewing nie. Voor jy Jansenville toe kan mik, moet jy eers die verlatenheid werklik betree op die pad na Nieu-Bethesda. Aan die voet van die Sneeuberge lê hierdie versteekte dorpie in die Vallei van Verlatenheid, waar water nog in leivore deur die dorp kabbel.

Hier is stofstrate, rustigheid, nagte vol sterre en goeie geselskap en kos jou voorland. Leen jou ore uit vir al die stories oor die mistieke, aangrypende Uilhuis - seker die Karoo se bekendste museum en die huis van die eksentrieke kunstenaar Helen Martins. Vandag is daar meer as 300 standbeelde van draad, sement en glas in haar tuin, bekend as die Camel Yard.

Jy kan van Nieu-Bethesda ook vertrek op fossieltoere, 'n draai maak deur hul kunsgalerye en museums, en gaan stap in die veld. Proe bier, en as jy jou tyd só beplan dat jy op Oujaar daar is, sal jy die piepklein dorpie se liggiefees ervaar.

Skeur jou dan los, want die dorpies Jansenville en Klipplaat is volgende, in die Kamdeboo.Jansenville is in die hartjie van die Noorsveld, genoem na die stekelrige, kaktusagtige vetplant genaamd noors, wat kenmerkend is aan die area.

Angorabokke floreer in hierdie omgewing en hier kan jy die Sybokhaarmuseum in die hoofstraat besoek. Jansenville sluit ook die bekende Addo-olifant Nasionale Park in, en bo-op 'n heuwel aan die westekant van die Graaff-Reinet-pad sit die Anglo-Boerefort. Benewens die historiese waarde, bied dit ook een van die beste uitsigte oor Jansenville.

Steytlerville is die enigste dorp in Suid-Afrika wat in die hoofstraat hulde bring aan familiename met die oprig van groot familiewapenborde. Die dorp het 'n besonder breë hoofstraat waar ossewaens destyds kon draai, en daar pronk statige Eduardiaanse en Victoriaanse geboue aan weerskante van die straat.

In die Vallei van Vlae word Suid-Afrika se geskiedenis uitgebeeld deur ses eeue se landsvlae wat op die rotse geverf is. Kom besigtig plaaslike kuns, toneelopvoerings, ou karre, vetplant- en bonsai-kwekerye, 'n skoenfabriek, antieke meubels, pragtige gastehuise en geniet goeie Karoo-stories en lekker Karoo-cuisine.

Om die sirkelroete te voltooi lei die pad jou van Steytlerville na Patensie, wat die oostelike ingang van die Baviaanskloof is, deur die Grootrivierpoort.

Dis 'n roete wat jou altyd sal bybly - maak 'n plan om dit te ervaar! Besoek baviaans.co.za en graaffreinet.co.za vir nog inligting. Jy kan ook die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit se toerismekantoor kontak by 084 511 6806, sowel as die Graaff-Reinet-toerismekantoor by 049 892 4248.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM