Daar is ‘n fyn lyn tussen kattekwaad en katastrofe. Lees hier wat kan gebeur as ‘n gespelery met vuurhoutjies katastrofies eindig.
Een van die lesse wat ons ons kinders leer, is om nie met vuurhoutjies te speel nie. Pa en Ma se bangmaakstorie was die ou ene dat jy jou bed sal natmaak as jy met vuurhoutjies speel.
Die vuurhoutjie-reël het toenterjare gegeld, dit geld vandag nog én ons kinders sal dit in alle waarskynlikheid vir hulle kinders uitspel.
Maar daar is iets instinktiefs aan vuurmaak. Vir 'n nuuskierige kind is daar 'n magiese betowering daaraan om iets aan die brand te steek en na die vlamme te staar tot daar net as oorbly. Daai vlammetjie van 'n vuurhoutjie het 'n onweerstaanbare aantrekkingskrag.
As kinders het ons Oupa aangegaap terwyl hy die vuurhoutjievlam bo-oor sy pyp hou en aan die steel suig. Met die suigslag het die vlammetjie ondertoe gebrand - in die pyp se bek in. Die vlammetjie wouwou weer boontoe brand, maar Oupa se wange het nog 'n keer of wat ingesink en dit het gelyk of hy die vlammetjie by die pyp insuig totdat die tabak goed smeul. Dan het hy sy bene gekruis en behaaglik agteroor gesit en rookbolle uitblaas.
As kinders was ons gewoond aan vuur.
Pa het gereeld by die huis vleis gebraai en met ons jaarlikse vakansie by Sodwana het ons elke dag 'n vleisie op die kole gegooi. Jy kan maar sê ons het genoeg vure gesien en nie nodig gehad om skelmpies om die hoek ons eie vuur te maak nie.
Maar soos Ma tereg gesê het: Kinders het nie altyd ore nie. En sy het "met die mure gepraat" toe sy meer as een keer opdrag gegee het dat ons die vuurhoutjies moet uitlos.
IN ONS AGTERPLAAS WAS 'N RIETBOS.
Dit was my jonger broer, Hugo, wat die vuurhoutjies in die hande gekry en die speletjie bedink het om 'n vuurhoutjie te trek en in die bos te gooi. Ek, Hugo en ons jongste broer, Paul, het ons oë vir 'n paar sekondes toegehou en daarna was die uitdaging om die brandende riete so gou as moontlik te blus. Dit was egter nie lank nie, toe brand die bos toetentaal buite ons beheer.
'n Stuk van die heiningdraad het in die slag gebly en die buurvrou het met 'n voloop tuinslang haar erf beskerm.
Daardie aand toe Pa van die werk af kom, was dit ons agterente se beurt om te brand soos daardie bos. Maar nóg die brandende bos nóg ons brandende boude kon ons nuuskierigheid en daardie magiese betowering van vlamme blus.
Dit het 'n groter glips met vuur en vlamme gekos om die grootmense se vermanings beter te verstaan.
DIE VOORBOK MET DIé GROTER GLIPS was Hugo se laerskoolmaat Pieter. Pieterhulle het buite Rustenburg langs die Anandapad gebly en Pieter kon vuurhoutjies nie uitlos nie. Maar hy het dit 'n stap verder gevat: Hy het nie net vuur gesoek nie, maar vuurwerk. Goed is nie net aan die brand gesteek nie; dit moes ontplof!
Pieter kon iets regkry wat volgens die wetenskap onmoontlik is. My wetenskaponderwyser het gesê 'n mens kan nie materie vernietig nie, maar Pieter kon!
Daardie dae was die Coke-bottels nog van glas. Pieter sou 'n paar wit poeiers uit die kombuis meng en saam met water in die glasbottel gooi. Dan moes die prop so vinnig as moontlik terug, want daardie spulletjie in die bottel het gebruis. Jy moes vinnig vlug sodat die "skrapnel" jou nie tref nie. Die bottel het vir 'n oomblik of twee doodstil op die gras voor hulle huis gelê en dan het jou ore gesing van die ontploffing.
Daarna was daar net 'n gat in die gras en g'n bottel meer nie.
PIETER SE MEESTERSTUKKE HET HY 'n ent van hulle huis af agter Ananda se swembadpomphuisie aangepak. Agter die swembadhuisie was dit nie net wit poeiers en water nie, maar poeiers en vlamme. Hy het buskruit gemaak wat helder brand as jy dit in 'n hopie aan die brand steek.
Dit was egter nie genoeg nie. By die pomphuisie was 'n waterpyp met 'n Tstuk waarvan die opening na bo gewys het. Pieter het 'n konkoksie aangemaak en dit by die bek van die pyp ingegooi.
Almal moes 'n ent wegstaan sodat hy 'n vuurhoutjie by die bek van die pyp kon indruk en dan self maak dat hy wegkom.
Die volgende oomblik het daai pyp vlamme in die mooiste kleure gespoeg.
Nog voor hy die vuurhoutjie kon trek, het die spulletjie in sy gesig ontplof.
Ook dít was nie genoeg nie. Ons wou nóg sien. Ons wou wéér sulke mooi vlamme sien.
Pieter het nie op hom laat wag nie.
Hy het nader gestaan, oor die pyp gebuk en nog poeier ingegooi. Hy het amper gelyk soos 'n Voortrekker wat buskruit in die loop van 'n voorlaaier gooi. En toe praat daardie pyp sonder waarskuwing met gekleurde vlamme terug. Pieter het nie die smeulende kooltjies van die vorige vertoning in ag geneem nie. Nog voor hy die vuurhoutjie kon trek, het die spulletjie in sy gesig ontplof.
Tussen die die vlamme en rookbolle deur kon ons sien Pieter het meer as sy spreekwoordelike vingers verbrand. Toe hy orent skiet, is sy bolyf rooi van die bloed en goeters.
Ek kan nie onthou wie wat in die chaos gesê het nie, maar ek onthou goed hoe Pieter reguit teen die bultjie afgepyl het swembad toe, met bolle rook wat soos in die tekenprente agter hom aan trek. Pieter het in die water gespring en sy brandwonde gelawe.
DIE VOLGENDE DAG BY DIE SKOOL WAS hy tot by die nek in verbande toegedraai. Waar die verbande nie mooi toegemaak het nie, kon jy sy rooigebrande vel sien. Plek-plek het hy sulke groengeel kolle gehad waar die blomswael hom met mening gepeper het.
Dit was Pieter se laaste kattekwaad met vuurhoutjies en poeiers en vlamme: Nooit weer daarna het hy vir ons 'n vuurwerkvertoning gehou nie.











