Mitsubishi-aanhangers het seker al moedeloos geraak oor wanneer die nuwe Triton Suid-Afrika toe kom, maar dit lyk of die gewag uiteindelik verby is.
Die huidige Triton is nie 'n slegte bakkie nie, maar met die meeste ander bakkies waarvan nuwe weergawes pas bekend gestel is, het hy 'n bietjie begin uitsak.
Om dinge nóg meer verwarrend te maak, het Fiat al 'n paar maande gelede sy Fullback - basies 'n Triton met 'n Fiat-wapen op - in Suid-Afrika bekend gestel.
Mitsubishi het egter pas aangekondig dat die jongste Triton in Februarie 2017 op handelaars se vertoonvloere te koop sal wees.

Daar is egter drie dinge wat die Triton van die Fullback onderskei:
1. Die Triton het sy eie 2,4 liter-turbodiesel wat 133 kW en 430 Nm ontwikkel, teenoor die Fiat Fullback wat 'n ouer 2,5 liter-turbodiesel gebruik wat 131 kW en 400 Nm ontwikkel. Die nuwe 2,4 liter enjin weeg 30 kg ligter as die 2,5 liter enjin.
2. Die Triton het Mitsubishi se Super Select II-vierwielaandrywing. Wat hierdie stelsel so uniek maak, is dat jy kan kies tussen 4x2, 4x4 H met 'n oop middelste ewenaar, 4x4 H met 'n geslote middelste ewenaar en 4L (waar die middelste ewenaar outomaties gesluit is) en wat jou ook toelaat om die agterste ewenaar te gebruik. Die Fullback het net 'n gewone 4x4-oordraratkas met 2H, 4H en 4L.
'n Ander unieke eienskap van Super Select II is die feit dat dit die krag tydens 4x4H in 'n 40:60-verhouding tussen die voor- en agterwiele verdeel, wat hantering, veral om draaie, verbeter teenoor die gewone 50:50-verdeling van ander bakkies.
3. Die Triton het 'n sesgang-handratkas en 'n vyfgang-outomatiese ratkas. Die Fullback het tans net 'n vyfgang-handratkas vir die 4x4-model.
Ná sy plaaslike bekendstelling sal ons vertel hoe hy ry. Ons glo dat sy ritgehalte dieselfde as die Fullback s'n sal wees - m.a.w. baie goed - maar dat sy enjin en ratkas uit die aard van die saak van 'n nuwer generasie is.












