Reis

Die verste suid

Foto's Leon Botha

L'Agulhas, met sy huisname soos Bosjesveld, Oppi-C, Seester, Swem Jannie en See Salig, voel die ene vakansiedorp. Op die hoek van Skoolstraat, net oorkant die kampplek, is een van daardie hoekkafees wat 'n mens deesdae al hoe minder sien.

Onder die L'Agulhas-kafee se naambord is die Agulhas-vuurtoring geskilder, en langs dít staan geskryf hierdie is die suidelikste kafee in Afrika.

Net so is die kampplek die suidelikste op die vasteland. Dis 'n reghoekige blok gras, so te sê teen die hoofstraat. In die lengte af is dit so groot en plat soos 'n halwe rugbyveld, maar met 'n effense helling na die see se kant toe. En net soos op 'n rugbyveld het jy g'n koelte nie.

Jy kamp hier tussen die inwoners se huise, in 'n onomheinde kampplek met net 'n kniehoogte paaltjiesheining en 'n ry huise tussen jou en die see. Hier is nie 'n sandstrand nie, maar rotsbanke. Sherwin Johannes ontvang jou in die kantoor, en saam met jou kampgeld moet jy ook 'n R120-deposito vir die badkamersleutels betaal.

In die kampblok staan twee rye wit paaltjies omtrent 18 m uitmekaar. Jou staanplek se kraan staan teen die een paaltjie en die kragboks met sy vier blou woonwasokke teen die paaltjie aan die oorkant. (Al drie die munisipale kampplekke gebruik dié proppe.) Jou staanpleknommer is op die kragboks aangebring en die vullisdrom staan langs dit.

Die staanplekke is nie duidelik afgebaken nie, maar as jy na die donkerder lyne op die gras kyk, kry jy 'n idee van waar jou staanplek nou eintlik is. Voor die staanplek staan jou nommer ook geverf op 'n betonblokkie in die grond. Jy sien nie al die blokkies maklik nie, want van hulle is al toegegroei.

Die kampplek het enkele ligte wat soos hoë straatlampe lyk. Hulle gee genoeg lig sonder om jou te verblind of te pla. Die vuurtoring se wit ligstraal swiep ook saans kort-kort deur die kampplek.

Op die verste punt van die kampplek is 'n klein badkamergebou met enkele storte en toilette, maar die eintlike badkamer is regs tussen die chalets. Dis 'n vierkantige wit gebou wat 'n bietjie soos 'n ou kragsubstasie lyk. Regs van die gebou is die buitewasbak vir visskoonmaak, en langs dit diep betontrôe vir jou wasgoed. In die middel van die gebou, tussen die mans- en vrouebadkamer, is die opwasplek vir jou kampskottelgoed.

Dié badkamers staan al 'n paar dekades, maar is netjies en skoon. Dele van die dak het deursigtige veselglas wat help om die badkamers lekker te verlig. Jy het dus goeie lig, maar behoorlike pakplek ontbreek. Die enigste pakplek is 'n handbreedte lysie by die wasbakke. Die stort het ook net 'n nat gedeelte en jy moet jou hopie goed iewers in die badkamer op die vloer neersit voor jy gaan was.

Dit duur 'n rukkie voordat die water warm word, maar hou maar jou hand op die kouekraan, want as die water eers warm word, is dit kort duskant kookpunt.

Stap na die régte punt

Die see is skaars 100 m van die kampplek af. Jy stap net regs by die hek uit af in Skoolstraat. Hier by die rotse en twee getypoele is 'n lieflike grasperk waar jy jou handdoek kan oopgooi. Van hier af loop ook 'n paar voetpaadjies in die rigting van die vuurtoring, skaars 'n halwe kilometer verder.

Niemand vertel dit vir jou nie, maar die toring self staan nie op die suidelikste akkertjie Afrikagrond nie. Die toring is omtrent 200 m van die kus af gebou en van hom af kronkel 'n dekpaadjie vir omtrent 800 m tot op die régte suidelikste punt.

Hier staan 'n klipbaken met 'n regop wit streep daarop. Links van die streep staan die naam van die Indiese Osean geverf, en regs die naam van die Atlantiese Oseaan.

Dié wit lyn dui vir jou aan waar die twee oseane mekaar hier vlak voor jou ontmoet. Jy kan ook hierheen ry as jy nie al die pad van die vuurtoring af wil stap nie. Dan is dit net 130 m se stap tot by die baken.

Dís hoe jy ry Jy ry die dorp binne met die R319. Draai links in Skoolstraat. Die kantoor is aan jou regterkant.

GPS: S34.826146 E20.012741

WegSleep sê: Al het die kampplek nie 'n heining nie, voel 'n mens nie onveilig nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM