
foto's Cyril Klopper
Wanneer 'n mens sê jy gaan Mosambiek toe, waarsku vriende en familie jou gewoonlik teen siklone, rebelle, oorstromings, malaria en korrupsie. Natuurlik het hulle gelyk: 'n Mens móét waak teen al hierdie elemente, maar in die suide van die land kry 'n mens minder daarmee te doen.
Die siklone kom meestal in die noorde voor (waar die rebelle woon); daar was in 2000 laas oorstromings in die suide; en die stryd teen malaria vorder goed. Maar hou tog maar die weerberig dop vóórdat jy na Mosambiek reis. En hoewel heelwat Suid-Afrikaners wat gereeld hier vakansie hou, sê hulle sluk nié malariapille nie, moedig ons jou ten sterkste aan om tóg maar medikasie te neem - veral kinders, en ongeag die seisoen.
Wat korrupsie betref, kan ons in alle eerlikheid sê op ons jongste besoek aan Mosambiek het ons glad nie met die owerhede gesukkel nie. Hulle was deurentyd vriendelik en professioneel - sommige polisiemanne kan selfs Afrikaans praat en hulle sal jou grootgeestig berispe as jy nie 'n paar Portugese frases geleer het nie.
Al die Suid-Afrikaners met wie ons gesels het in die oorde, is dit eens dat Mosambiek veilig en vriendelik is. Laai dus jou bakkie, haak jou wa en mik ooswaarts.

MONTEGO-OORD, PRAIA DO XAI-XAI
Koel komkommer by die see
Die Montego-oord lê teenaan die Indiese Oseaan en vorm deel van die Praia do Xai-Xai-strandoordgemeenskap.
Dit is ongeveer 18 km suidoos van die bedrywige hoofdorp Xai-Xai en sowat 300 km van Komatipoort af. Van die Lebombo-grenspos af tot by Praia do Xai-Xai is dit teerpad, maar die laaste 3 km kuslangs tot by Montego is 'n hardgetrapte sandpad wat jy wel met 'n sedanmotor en 'n padwa kan baasraak.
Jy weet sommer dadelik jy's in 'n vrolike oord, want sodra jy deur die hek ry, word jy begroet deur helder graffiti: Daar's onder meer oranje seekatte en 'n bloedrooi sonsondergang met seilbootjies wat agter palmbome verby vaar.
Die oord word bestuur deur Moné Wauts, en hoewel sy in Pretoria gebore is, beskou sy haar eerder as 'n Mosambieker. Moné sal die beste staanplek aanbeveel nadat sy jou ryding of sleepkombinasie bekyk het. Padwaens kry die gelykste deel van die oord, die naaste aan die see. As jy 'n boswa sleep met 'n viertrekvoertuig, stuur sy jou waarskynlik na een van vier terrasse bo die ontvangsgebou. Hulle het elk 'n geboude braai, kragsok, kraan en 'n lig wat jy self kan aan- en afskakel.
Die heel boonste terras het 'n pragtige uitsig oor die see, terwyl die res ekstra skaduwee geniet en deur die bome beskerm word teen wind. In die verste hoek van die oord is kleiner kampplekke wat vir tente bedoel is. Hier is oral driepuntkragsokke, maar krane is effens skaarser. As die naaste kraan te ver is, sal Moné 'n tuinslang na jou toe laat aanlê.
Jy kamp op vaste sand en jou tentpenne sal beslis nie buig as jy hulle inkap nie, tensy jy een van die talle bome se wortels raakslaan.
Dis see toe met jou, want Montego het nie 'n swembad nie. Die oord lê egter nie direk op die strand nie en jy moet eers die smal sandpaadjie oorsteek wat al die oorde in Praia do Xai-Xai bedien voor jy jou tone in die water kan steek.
Op pad strand toe stap jy verby die Lapulana-kampwinkeltjie langs Montego se ingang. Met ons besoek was dit gesluit, maar in die spitsseisoen kan jy dinge soos swembroeke en aandenkings hier koop.
Moenie dink jy gaan met die see se branders moet stoei nie, want skaars 100 m van die strand af is die Chongoene-rif wat inkomende branders tot bedaring bring vóór hulle die strand tref.
Rondom die rotse wemel dit van die pragtigste vissies, maar wees baie versigtig wanneer jy naby die rif swem - maalkolke vorm soms daaragter, en as jy nie 'n sterk swemmer is nie, kan jy onder die water ingetrek word.

Hier is uiteraard gawe hengelgeleenthede, maar jy gaan jou kajak tot anderkant die rif moet roei en dieper in lyn natmaak as jy iets eetbaars wil uittrek. Daar is 'n natuurlike gaping in die rif naby die oord waar jy met 'n motorboot kan deurry oopsee toe.
In die somermaande wanneer dit bedrywig is langs die Mosambiekse kus, sluit Moné die Breezo's-strandkroeg oop sodat jy 'n yskoue drankie onder jou strandsambreel kan geniet. Tussen Junie en Oktober word die kus ook deur bultrugwalvisse besoek en die Montego-oord se restaurant, Pirates Point, het 'n hoë stoep van waar jy hulle kan dophou.
Die gewildste gereg op die spyskaart is die Montego-hamburger (R120) met 'n yslike beesvleispattie van 320 g. Hier is ook 'n kroeg wat hardehout, wyn en verskeie Suid-Afrikaanse én Mosambiekse bier en koeldrank bedien. Bestel vir jou 'n drankie en geniet jou Montego-burger op die restaurant se stoep met sy uitsig oor die see - ignoreer net die onooglike hoogspanningsdraad tussen jou en die water.
Die restaurant het gratis wifi wat vinnig genoeg is sodat jy vakansiefoto's op Facebook kan plaas. Daar is ook bordspeletjies soos Monopoly en Rummikub in die restaurant se ontspanningsdeel.
Die ablusiegeriewe vir kampeerders is eenvoudig, maar skoon en netjies. Een ablusieblok is heeljaar oop, maar as Montego 'n groot aantal besoekers verwag, word 'n ekstra ablusieblok oopgesluit. Die hoof-ablusieblok het twee toilette, twee storte en twee wasbakke in die mansgeriewe. Agter die vroue se deur lyk dinge identies.
As jy besluit om eerder nie te kamp nie, is hier 13 chalets wat wissel van dubbelbedrondawels tot sesbedgesinshuisies, en vir almal betaal jy R250 p.p.p.n. Dis 'n luilekker oord wat veral deur reisigers gebruik word as 'n halfwegstop wanneer hulle van die grens na Inhambane ry, maar dis ook gemaklik genoeg dat jy 'n paar dae hier kan vertoef. En ja, jy kan dit selfs jou eindbestemming maak.

Kortliks | Montego-oord
Kampplek: Hier is 40 staanplekke - almal op sand en onder bome - waarvan byna die helfte gelyk en groot genoeg is vir woonwaens.
Ablusiegeriewe: Skoon, maar beknop.
Prys: R100 p.p.p.n. plus R100 p.n. per staanplek.
Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.
Kontak: 082 653 8197 (SA) of 00 25 84 207 1650 (Mosambiek); montegomoz.co.za; bookings@montegoresort.co.za
Naaste dorp: Xai-Xai 21 km.
Hoe lyk die pad? Teerpad en dan daarna harde sandpad.
GPS: S25.10511 E33.76751
Weg Ry & Sleep sê Jy kom hierheen om te swem en hengel. Moet net nie alleen naby die rif gaan swem nie.
PALMEIRAS-OORD, PRAIA DO BILENE
'n Bietjie bitter by die soet
Praia do Bilene, of sommer net Bilene, lê 250 km oos van Komatipoort en 650 km van Pretoria af.
Dis hier waar een van Bilene se oudste oorde, Complexo Palmeiras, lê. Die oord het twee kampterreine: Die een lê aan die linkerkant van die toegangshek en die ander een regs. Die linkerkantse kampterrein is die een waarvoor jy moet mik, want hy's die netjiesste - en die staanplekke die naaste aan die ablusieblok is die beste in die oord.
Die kragsokke is nie weerbestand nie, maar die soort wat binnenshuis hoort en nie buite in die wind en weer nie. Gelukkig is hulle aan paaltjies vasgebout met 'n dakkie om dit droog te hou as dit reën.
Elke staanplek het 'n helder lig wat jy self kan aan- en afskakel. Hier is geen geboude braaiplekke nie, maar met jou aankoms sal jy deur twee vriendelike mans genader word wat aanbied om teen vergoeding 'n vlak gat te grawe en hout te verskaf wat jy in die gat kan brand.

Die staanplekke word ook nie deur die oord se bestuur gehark nie en dieselfde kêrels wat hout verskaf, sal jou staanplek skoonmaak - ook teen vergoeding. Ons het MT500 betaal vir 'n groot bondel hout en die hark van ons staanplek.
Dit is duidelik dat Palmeiras se tuinier trots is op sy werk, want oral sien jy blomme in potte, die varings groei geil onder bome, rankplante versier die heinings en bougainvilleas pronk om elke hoek en draai.
Die hoofrede waarom jy by Palmeiras wil kamp, is die skeepshelling waar jy jou motorboot en waterponie te water kan laat.
Die ablusiegeriewe lyk gaaf van buite af, maar binnelangs is dit afgeleef. Hier is drie toilette (waarvan twee met ons besoek lendelam was), drie wasbakke met spieëls en drie storte elk in die mans- en vrouekant.
Elke storthokkie het 'n houtrakkie waarop jy jou klere kan uitpak, maar die stort self het nie 'n seepbakkie of plek om jou sjampoe neer te sit nie. Die storte én toilette se deure is net borshoogte en as 'n lang persoon verbystap, gaan hy sien wat jy nie wil wys nie.
Agter die ablusiegeriewe is 'n toonbank met ses wasbakke waar jy skottelgoed was en klere uitspoel. Buiten die gaar toestand van die ablusieblok is daar niks fout met die netheid nie en die vloere en oppervlakke word gereeld skoongemaak.
As jy aangesê word om regs van die ingangshek te kamp, moet jy eerder jou geld terugvra en elders blyplek soek. Hier is 5 ruim staanplekke, maar daar is min skaduwee en die kragsokke is dikwels sommerso aan 'n boom vasgespyker met 'n pap plastiekseiltjie daaroor.
Te oordeel na die skroeimerke op die sokke werk die seiltjies nie so lekker om die water en elektrisiteit van mekaar te skei nie.
Die voordeel van 'n tekort aan bome is natuurlik dat die gras welig groei - wel, so tussendeur die bourommel. Die grond is ongelyk en die staanplekke lê teenaan 'n bedrywige pad naby 'n straatkroeg wat saans rumoerig raak.

Daar's darem nie net slegte nuus nie: Die oord lê ook teenaan die lieflike Uembje-strandmeer, wat 27 km lank, 8 km breed en op plekke tot 50 m diep is. Daar is mensgemaakte riwwe in die strandmeer waar jy kan snorkelduik en Palmeiras het boonop 'n duiksentrum waar jy toerusting kan huur.
Die hoofrede waarom jy by Palmeiras wil kamp, is egter die skeepshelling waar jy jou motorboot en waterponie te water kan laat. Oor Desember woel talle vaartuie op die Uembje-strandmeer, maar hy's groot genoeg sodat seilbote, seilplanke en motorbote nie in mekaar se pad is en die pret bederf nie.
Die oord het ook 'n veerbootdiens (op aanvraag) wat jou oor die strandmeer na die see toe sal neem as jy nie self 'n boot hierheen gesleep het nie.
Links van Palmeiras se restaurant is die water besonder vlak en jy moet 'n ver ent inloop voor dit diep raak. Hier kan jou kleuter heerlik in die water plas.
Ondanks die enkele gebreke is Palmeiras 'n gawe blyplek met vriendelike personeel en 'n puik strandmeer.

Kortliks | Complexo Palmeiras
Kampplek: Hier is 35 staanplekke, almal op sand en meestal onder bome. Die grond is nêrens 100% gelyk nie, maar jy gaan nie sukkel om jou woonwa waterpas te kry nie - 'n baksteen of twee aan die een kant behoort die ding te doen.
Ablusiegeriewe: Afgeleef, maar diensbaar. Hier's geen toiletpapier nie.
Prys: R60 p.p.p.n. plus R80 p.n. per staanplek.
Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 11:00.
Kontak: 00 25 82 825 9019 (Mosambiek) palmeirasbilene@gmail.com;complexopalmeiras.blogspot.com
Naaste dorp: Die oord is in Bilene.
Hoe lyk die pad? Heelpad teerpad.
GPS: S25.28213 E33.25971
Weg Ry & Sleep sê Jy kom hierheen om met jou waterspeelgoed te kerjakker - hou net verby die slegte helfte van die oord.
MACHUBO-STRANDOORD, MANHICA
Kus van die Kaapse knorhane

Die Machubo-oord is 170 km van Komatipoort en 590 km van Pretoria af. Die oord lê teenaan die see en jy kan slegs hier uitkom as jy 'n viertrekvoertuig ry.
Die eienaar, Bertie Stander, het dié stukkie aarde in 2008 ontdek nadat sy bakkie in die omgewing onklaar geraak het en hy 5 maande lank in Mosambiek gestrand was. Hy't sy hart verloor op die streek, en nadat hy hom gevestig het, het sy vrou, Lynne, en hulle twee seuns by hom aangesluit.
Om by Machubo uit te kom is g'n maklike taak nie, en daarom sal Bertie of Lynne jou eerder by die Illovo-suikerrietfabriek in Maragra, sowat 8 km suid van die dorp Manhica, kry en jou hierheen begelei.
Machubo is afgeleë, en die sandpad hierheen vereis dat jy jou trokkie se banddruk tot 1 bar verlaag en hoëstrekratte in viertrek inhaak. Die oord se boskamp is sowat 100 m van die strand af en agter 'n duin waar dit beskut is teen wind.
Hier is 10 ongemerkte staanplekke en 'n netjiese ablusieblok met twee private badkamers en kombuisgeriewe. 'n Sonpaneel gee krag vir ligte, maar as jy yskaste en ander elektriese toestelle aan die gang wil hou, moet jy jou eie kragopwekker bring.
Tussen die ablusiegebou en 'n hok eenkant het Bertie 'n kabel ondergronds aangelê, en al wat jy hoef te doen is om jou kragopwekker in die hok aan die kragtoevoer te koppel en siedaar, jy't elektrisiteit sonder die gedreun van 'n kragopwekker wat langs jou tent brom.

Die hoofgebou waar Bertie, Lynne en die seuns woon, dien ook as Machubo se eetplek. Hier kan jy aansit vir drankies terwyl Bertie staaltjies vertel van die omgewing en Lynne en die seuns seekos in die oopplankombuis gaarmaak.
Maar buiten haar rol as gasvrou bedryf Lynne ook 'n stalletjie waar jy baaikostuums en aandenkings kan koop. (Van baaikostuums gepraat: Bertie is besig om 'n varswater-swembad langs die hoofgebou te bou waar gaste in die somermaande sal kan afkoel.) Hier is gratis wifi, maar dis stadig en eintlik net bedoel vir Whatsapp-boodskappe - Ouboet gaan nie teen sy maats Fortnite kan speel nie.
Langs die hoofgebou is 5 afgeskorte kampplekke, elk met sy eie private toilet, stort en opwasdeel. 'n Rietheining beskerm jou teen die wind en sorg vir privaatheid, én daar is 'n kragsok as jy jou boswa aan die oord se kragtoevoer wil koppel.
Machubo maak staat op sonkrag en 'n 10 kVA-kragopwekker, en daarom hef hulle 'n tarief van R75 p.d. vir die elektrisiteit (dit keer ook dat mense energievreters soos haardroërs en lugreëling inprop).
As jy nie wil kamp nie, is hier 'n huis met slaapplek vir 14 mense, 'n chalet met 6 beddens en 'n woonstel met slaapplek vir 4. 'n Vierde woning met slaapplek vir 18 is in wording en behoort volgens beplanning in Junie 2020 voltooi te wees.

Bertie het al hierdie strukture self gebou met die hulp van plaaslike mense. Die Stander-gesin besit die oord saam met 'n plaaslike hoofman, en 'n persentasie van die inkomste wat hulle by die oord verdien, gaan na dié mense.
Dis egter die ongerepte strand wat die meeste aandag trek. Hier kan jy bedags in die branders baljaar en tot laatnag visvang. Bertie het 'n skuiling opgerig waaronder jy kan sit en hengel met 'n tafel waarop jy jou vangs kan vlek.
Kaapse knorhaan en wit mosselkrakers is volop hier, maar jy vang 10 bloukrappe vir elke mosselkraker - en niemand kla nie, want die krappe smaak amper nét so lekker, veral met kokosneutkerrie en rissies.
Die Stander-gesin onderneem ook toere na Maputo om die vismark en ander besienswaardighede te besoek (R500), en Bertie is 'n amptelike lid van die Turtle Watch-groep, wat hom in staat stel om op die strand te ry en seeskilpaaie te gaan soek - jy gaan snorkelduik dan by Turtle Rock naby Bilene (R500).
Machubo is 'n hengeloord waar jy dag ná dag op 'n afgeleë strand kan sit sonder dat iemand jou pla.

Pasop vir die ‘runners'...
Verskeie gruwelverhale oor Mosambiek se berugte Lebombo-grenspos doen die ronde - hier is ons ondervinding.
By die ingang van Komatipoort (die Suid-Afrkaanse kant) het 'n hekwag vir ons 'n permit gegee. Daarna het ons buite die kantoorgebou geparkeer (daar is langer parkeerplekke vir voertuie met 'n wa) en ons paspoorte aan 'n doeanebeampte binne die gebou oorhandig. Die beampte wou die grensbrief vir ons sleepvoertuig sien. (As jy 'n kind by jou het, sal hy ook vir 'n volledige geboortesertifikaat vra.)
Ons het die stempels in ons paspoorte nagegaan, in ons voertuig geklim en die permit vir 'n volgende hekwag gegee terwyl ons Suid-Afrika verlaat. Dié eerste helfte van die grensposprosedure was binne 5 minute verby.
By die Ressano Garcia-kantore (aan die Mosambiekse kant) het ons so na aan die kantore geparkeer as wat ons kon sonder om verkeer te versper. Hier is die parkering meer holderstebolder en jou voertuig word vinnig deur 'n skare smouse verswelg.
Volgens die webblad van die Suid-Afrikaanse hoë kommissaris moes ons ook hier 'n permit kry, maar niemand het dit vir ons gegee nie.
Reisigers word ten sterkste afgeraai om sogenaamde runners te gebruik om deur die grens te kom, maar ons wou weet wat hulle dienste behels en het 'n eerlike gesig uit die skare gekies. Emerson was sy naam, en hy wou sommer dadelik ons paspoorte en permitte neem. Ons het egter volgehou ons sal self die dokumentasie dra, maar hom nietemin bedank vir sy ywer.
Vóór Emerson ons na die kantoorgebou neem, wou ons eers vasstel wat sy tarief is. Sy openingsaanbod van MT5 000 was onaanvaarbaar, want dit sou uitwerk op meer as R1 000 (R1 was met ons besoek gelyk aan 4,3 metical). Ons het 'n teenaanbod van MT500 (R116) gemaak. Emerson was ontstoke, maar ons het mettertyd geskik op MT1 000 metical (R230).
Hy het ons na die gebou geneem, ingedruk voor 'n groep verwarde Suid-Afrikaners wat nie seker is in watter ry hulle moet staan nie, en 'n doeanebeampte se aandag getrek. Ons het self ons paspoorte aan die beampte oorhandig en die stempels ná die tyd nagegaan.
Nou wou Emerson ons voertuigpapiere by ons vat om derdepartyversekering by 'n buitegebou agter die grenspos aan te skaf. Ons het dit egter vooraf by 'n Outdoor Warehouse-winkel in Gauteng gekoop en sy aanbod van die hand gewys.
Die volgende stap was 'n besoek aan 'n tafeltjie reg langs die doeanebeamptes se toonbank. Hier was 'n tweede beampte wat ons derdepartyversekering nagegaan en 'n vorm aan ons uitgereik het. Emerson het dit by die beampte geneem, maar ons het aangedring om self die vorm te dra. Hy het dit teësinnig vir ons gegee. Terug by ons motor het Emerson gehelp met die vertaling van die Portugese skrif op die vorm. Dit was gaaf van hom, maar ons het daarop gewys dat daar wel Engelse onderskrifte is.
Die internet wemel van stories oor Suid-Afrikaners wat hulle paspoorte eers ná 'n stewige losprys aan 'n runner kon terugkry.
Ons het die besonderhede van ons voertuig, die insittendes en duur elektronika op die vorm verklaar. Smouse wat brandblussers en nooddriehoeke verkoop, het om ons saamgedrom en Emerson het hulle gevra om ons met rus te laat. Emerson is toe daar weg, maar 'n minuut later keer hy terug met 'n doeanebeampte aan sy sy. Die beampte het ons woonwa deurgesoek, 'n paar vrae gevra oor ons proviand, en onder ons bakkie se kappie geloer. Hy het 'n gestempelde permit oorhandig en ons 'n voorspoedige reis toegewens. Weer eens wou Emerson al die papierwerk hê. Ons moes ferm wees om dit by ons te hou.
Die doeanebeampte het geamuseer toegekyk en 'n grappie in Portugees gemaak wat 'n paar toeskouers laat grinnik het. Emerson het vooruit gedraf en beduie ons moet hom volg in ons voertuig. By die grens se laaste hek het 'n soldaat die gestempelde permit geneem. Emerson het 'n paar treë verder in die middel van die pad gestaan en wag vir sy vergoeding. Soos ooreengekom, het ons die MT1 000 oorhandig, maar hy wou skielik MT4 000 hê.
Die rede was glo dat hy 'n doeanebeampte omgekoop het om slegs 'n oppervlakkige ondersoek van ons woonwa te doen, en dat dié beampte se prys MT3 000 was. Maar ons het voet by stuk gehou... en dis toe dat dinge lelik raak. Hy het ons met geweld gedreig en belowe hy sit sy grensposkennisse op ons spoor. Ons is daar weg onder 'n vlaag van beledigings.
Wat het ons uit hierdie voorval geleer? Jy het beslis nié 'n runner nodig om deur die grens te kom nie, hoewel hulle dálk die grensprosedure met enkele minute kan versnel.
Ons raai jou ten sterkste af om die dienste van so iemand te gebruik - en moet nooit enige dokumentasie vir enigiemand anders as 'n doeanebeampte gee nie.
Die internet wemel van stories oor Suid-Afrikaners wat hulle paspoorte eers ná 'n stewige losprys aan 'n runner kon terugkry. Wees dus gewaarsku.
As jy jou paspoort in Mosambiek verloor - op welke manier ook al - moet jy dit dadelik by die naaste polisiekantoor aanmeld en sorg dat jy by die Suid-Afrikaanse hoë kommissaris in Maputo uitkom en 'n noodreissertifikaat kry: die adres is 41 Avenida Eduardo Mondlane (op die hoek van Avenida Eduardo Mondlane & Avenida Julius Nyerere). Of bel hulle by 00 25 82 124 3000 (na-ure 00 25 884 304 4600).











