Foto's: Toast Coetzer
Die son sing stil. Dit voel asof die hitte van die aarde deur jou voetsole gaan brand. 'n Lugspieëling speel met jou skrefiesoë - wat staan daar op die horison?
Is dit gemsbokke? Die grys, swart en wit bokke se lang swaarde kry gestalte: Ja, dis gemsbokke!
Jy is in Sossusvlei, een van die mooiste plekke op aarde. Rondom jou lê die Namibwoestyn se rooi duine so hoog soos woonstelblokke in 'n stad. Onder jou voete kraak die vlei se kurkdroë modder. Jy probeer jou voorstel hoe dit moet lyk wanneer seldsame vloede water - water! - hier opdam.
Later stap jy na Dooievlei, waar die geraamtes van kameeldoringbome soos marionette waghou oor 'n andersins kaal stuk aarde. Jy strompel op hierdie verhoog soos 'n verdwaasde byspeler in 'n toneelstuk waarvan dit moeilik is om iets te snap.
Geoloë reken die Namibwoestyn is sowat 2 miljoen jaar oud. Maar ónder die duine is hier ander duine, versteende duine - Tsondabsandsteen - wat tot 20 miljoen jaar oud mag wees. Dus is die Namib die wêreld se oudste aktiewe woestyn.
Maar dis moeilik om die verskil tussen 2 miljoen en 20 miljoen jaar te verstaan. Ons sukkel om sin te maak van 'n 1 000 jaar! En tog staan jy nou in hierdie oerlandskap.
Dit raak stil in Dooievlei. Doodstil. Die duine vou toe om jou, en later voel dit ook asof dit 'n sluier oor jou trek. Asof dit jou probeer sus met 'n stadiger polsslag. Nie aan die slaap nie, maar tot rustigheid. Totdat jy in voeling is met die landskap om jou. Jy begin hoor hoe die bloed deur jou ore pomp.
Dít is hoekom jy Dooievlei toe moet gaan, hoekom Sossusvlei op jou lysie moet wees - en hoekom die Namib se duine hulle onverklaarbare aantrekkingskrag oor ons almal gaan behou. Vir nog so 'n miljoen jaar of wat...

Hoe steek dinge inmekaar?
Jou buurman wat "al baie" hier was, praat seker heeltyd van Sossusvlei en Sesriem asof dit dieselfde plek is. Maar dit is nie.
Sesriem is die "dorpie" wat jy op 'n kaart van Namibië sal opspoor. Dis op die rand van die Namibwoestyn, en op die grens van die Namib-Naukluft- nasionale park. Sesriem is nie regtig 'n dorp nie - die hoogste gebou is 'n lodge, nie 'n kerktoring nie - en die Sossusvleihek is hier.
Desjare toe jou oupa die duine besoek het, was Sesriem heel moontlik net 'n ou plaashuis en 'n kameeldoringboom.
Later het 'n amptenaar bygekom om die kameeldoringboom te beman en later 'n bietjie meer infrastruktuur: 'n petrolpomp en kampplek.
Jou oupa sal Sesriem nie meer herken nie.
Hier hang 'n permanente stofwolk oor Sesriem - dis bedrywig! Jy sien toerbusse, overlanders, 4x4's met daktente en soms selfs 'n klein huurmotortjie met twee dapper oorsese toeriste. Almal moet by Sesriem se NWRkantoor stop om toegangspermitte tot die Namib-Naukluft- nasionale park te verkry.
Permit in die hand het jy toegang tot ikoniese plekke soos die Sesriemcanyon (skaars 4 km van die parkingang), Duin 45 (ja, 45 km van die ingang af) en Sossus- en Dooievlei (sowat 74 km se ry).
Dit is moontlik om die Sesriemcanyon, Duin 45 en Sossus- en Dooievlei in net een dag te besoek, maar twee dae sal beter wees, want dan hoef jy nie te jaag nie. Veral fotograwe (wat weet hoe belangrik vroegoggend- en laatmiddaglig vir foto's kan wees) moet kennis neem van die park se openings- en toemaaktye: sonop en sononder. Dit klink goed en wel, maar onthou: as jy sonsondergang nog by Dooievlei wil wees, moet jy dan daarna steeds 74 km ry terug ingangshek toe - jy sal dus 'n uur laat daar opdaag en 'n knorrige hekman moet trotseer.
Die enigste uitweg vir ywerige fotograwe is om in die park se blyplekke te bly. Wanneer jy by een van hierdie plekke slaap, mag jy vir 'n ekstra uur in die park bly - met ander woorde jy mag 'n uur vroeër inry (jy kan dus teen sonop by Duin 45 sit en glimlag) en 'n uur langer bly saans (wat beteken jy kan teen sonsaktyd nog jou laaste foto by Dooievlei neem en dan eers terugry).
Hier is volop blyplek in die omgewing - jy het tientalle opsies binne 70 km se ry van Sesriem af (sien bl. 56). Sewentig kilometre klink dalk ver, maar dis "om die draai" in Namibiese afstand. Baie toeriste bly 'n ent weg van Sesriem en doen dagbesoeke na Sossusvlei - jy moet net vroeër opstaan!

Wat kom jy hier doen?
Noudat jy weet hoe dinge inmekaar steek, vra jou af hoekom jy Sossusvlei wil besoek. Dit sal bepaal hoeveel nagte se verblyf om te bespreek. Onthou, Sesriem is vér van alles af - dis 300 km van Windhoek en Walvisbaai, 270 km van Mariental en 340 km van Aus af (en dié afstande is meestal op grondpaaie...).
As jy net wil kom om te sê jy was hier, is twee nagte genoeg. Jy kan die belangrikste plekke by Sesriem en Sossus sien in 'n dag, en dan weer voortry na jou volgende bestemming.
Wil jy mooi foto's neem? Wel, dan het jy meer tyd nodig. Jy sal dalk twee laatmiddae by Dooievlei wil vertoef vir die beste moontlike foto's. Dalk wil jy by Hidden Vlei ook gaan draai vir iets anders. Fotograwe weet geduld is belangrik. Jy sien nie altyd gemsbokke by Sossusvlei nie, nog minder stap hulle goedsmoeds teen 'n rooi duin uit sodat jy daai klassieke foto kan neem. Jy moet weer en weer kom. Fotograwe moet vir minstens drie aande bespreek.
Wat van die gesin? Is hierdie 'n gesinsbestemming? Voorwaar. Maak seker almal drink genoeg water en smeer genoeg sonbeskerming - daarna is die duine julle speelveld. (Ek sou nie kleuters saamsleep oor die 1 km se stap van die parkeerterrein na Dooievlei nie. Jy sal verbaas wees hoe lank dit vat om deur 1 km se woestyn te stap, en hoe warm die sand kan word!)
Drie nagte vir 'n gesin is genoeg rondom Sesriem. Dit gee jou ook 'n dag om uit te ry en iets anders te doen.
Is dit moontlik om nog alleen te wees tussen dié oorgefotografeerde duine? Ja, beslis. Die meerderheid toeriste - veral dié wat in toerbusse hier aanland - is hier om die Namib te sien, Sossusvlei of Duin 45 "af te merk" op hulle lysie en dan weer voort te jaag. Die 1 km se stap oor die sand tot by Dooievlei diskwalifiseer nog 'n klomp toeriste - nie almal is lus of kapabel om dit te stap nie.
Die woestyn is groot en Sossusvlei uitgestrek. Jy kan om 'n lae duin se toon stap en buite sig verdwyn. Selfs naby Sesriem, by die Elimduin, kan jy stoksielalleen sit, en één voel met die golwende rooi sandwoestyn om jou.
Jy kan 'n week hier vertoef en elke dag inkleur met iets besonders: vlei toe ry vir foto's, 'n duin gaan soek vir uitklim, boeklees by jou kampplek...
Die belangrikste is om die deur van jou hart oop te los - net 'n skrefie is genoeg. 'n Bietjie rooi sand sal daar inwaai en nesskop, weldra 'n duin vorm. En dis al wat jy nodig het.

Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #143 (September 2016) verskyn. Feiteen geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jyiets raaksien.
















