FOTO'S Leon Botha
In Limpopo se Bosveldstreek, wat tot teen die grense van Botswana en Zimbabwe strek, lê van die land se gewildste oorde bymekaar. As jy nader aan die beskawing in Bosveldstilte wil kamp, kan jy jou wa net buite Vaalwater op die beesplaas Taaibos afhaak.
Plaas toe

By Vaalwater lê die wildplase langs mekaar ingeryg en dit voel amper vreemd om plaasdiere hier te sien. Taaibos - 29 km buite Vaalwater in die rigting van Thabazimbi - is egter nog pure veeplaas.
Christo Pistorius-hulle woon al langer as 45 jaar hier en boer met beeste.
Taaibos lê teen die pad, met die plaashuis aan die linkerkant. Langsaan is die plaashek na die kampplek toe.
Terwyl jy dié hek agter jou toestoot, loer 'n boranbees vir jou uit 'n kraal en jy voel sommer jy's op die plaas. Van die hek af vat jy 'n ordentlike tweespoorpad wat vir 'n halwe kilometer en met 'n lui draai tot by bome langs die rivier loop.
Kamp en bad

Soos jy aangery kom, staan die vierkantige baksteenbadkamergebou voor jou - jy kan maar sê dis die middelpunt van die kampplek. Die Hoofkamp, soos dit gemerk is, lê agter die badkamergebou; die Bokamp is links op teen die bult; en die Hangbrugkamp lê na regs.
Die Bo-kamp is 'n oop stuk aarde onder hoë koeltebome met 'n effense val na die een kant toe. Dis eenkant en twee woonwaens sal maklik hier inpas. Hier is 'n kragpunt en 'n kraan.
Die Hangbrugkamp is 'n langwerpige plat grasperk. Hier is nie afgebakende staanplekke nie en jy kies vir jouself 'n kampkol. Minstens vier woonwaens sal met gemak hier inpas.
Omtrent 100 treë verder is nog 'n paar staanplekke, maar die bome staan taamlik dig opmekaar en jy gaan nie met 'n lang sleepkombinasie hier inkom nie.
Dis beter vir tentkampeerders wat eenkant wil staan. By albei hierdie plekke is ook water en krag.
By die Hoofkamp lyk dit of iemand 'n paar dekades gelede spesiaal koeltebome vir die kampplek geplant het. Hier is skaduwee vir 'n hele kerkbasaar. Jy staan op groen gras en die kampplek strek oor 'n goeie 50 m tot teen die Taaibosrivier.
Hier is ook nie afgebakende staanplekke nie en jy kies self 'n plek om op te slaan.
Naby die badkamers is 'n vuurput en in die boom langsaan hang drie handroosters wat jy vir jou wors en tjops kan gebruik. Jy kan ook uit 'n paar losstaande braaiers kies as jy nie jou eie braaier saamry nie.
Die Hoofkamp het soos die ander kampplekke kragpunte (gewone huissok) en hier is 'n kraan of twee waar jy en jou kampbure koffiewater kan tap.
Die vierkantige badkamergebou met sy grasdak het 'n vertrek op elke hoek.

Op die twee hoeke die verste van die Hoofkamp af is die onderskeie toilette vir mans en vroue. In die twee hoeke die naaste aan die kampplek is twee stortvertrekke, ook onderskeidelik vir mans en vroue.
Die storthokkie, met 'n stewige houtdeur, het nie 'n aantrekgedeelte nie. By die deur is 'n haak vir jou handdoek en jy pak jou saamdragoed op die teëlblad langs die wasbakke.
Tussen die grasdak en muur is 'n opening van 'n goeie 30 cm en in die winter gaan jy weet as die wind hier deurtrek, maar in die somer is dit lekker koel.
'n Mens kan sien Christo-hulle is lief vir die natuur, en veral vir bome. Baie van die bome is gemerk met 'n groen plaatjie met 'n nommer op. In die badkamergang is dan 'n lys met die name van die genommerde bome. So kan jy sien hoe lyk enigiets van 'n skurwerosyntjie, huilboerboon en dopperkiaat tot 'n swartapiesdoringboom.
Spring in die Taaibos

Stroomop langs die Taaibosrivier loop 'n wandelpaadjie. Dit begin digby die kampplek met 'n houtbruggie wat jou oor die water tot op 'n klipplaat bring, en van daar af stap jy al langs die water tot by 'n damwal. Dis 'n maklike stappie van skaars 10 minute tot by die dam en jy hoef nêrens te klim of klouter nie.
Italiaanse krygsgevangenes het die klipdamwal tydens die Tweede Wêreldoorlog gebou. Aan die voet van die wal is groot stukke skoongespoelde rivierbank, en die sand is 'n lekker speelplek vir die kleinspan.
(Die stroom is skaars enkeldiep en dis veilig.)
Jy kan van die wal af in die skoon damwater induik óf van die oorkantste krans van 'n leer af spring. Van die krans af is ook 'n foefieslaaid oor die dam.
Teen die berghang agter die krans staan honderde nabome wat lyk soos 'n skare in 'n volgepakte paviljoen. Naby die wal staan nog 'n gemerkte boom: die laventelkoorsbessie.
Dís hoe jy ry
Ry uit Vaalwater 29 km op die R517 in Lephalale se rigting. Die hek is aan die linkerkant, teenaan die pad.
GPS: S24.187308 E27.861598
WegSleep sê: Taaibos is ver genoeg van die dorp af vir stilte, maar naby genoeg vir vars brood.












