JOHAN VISSER van Somerset-Wes skryf: Ek het dié diertjie op Struisbaai se strand raakgeloop. Dit het stil gelê maar toe ek nader kom, het dit weggebeweeg. Is dit 'n soort seester?

Seelewekenner GEORGINA JONES antwoord: Die veerster behoort aan dieselfde familie as seesterre. Ek het nog nooit een op die strand sien "stap" nie. 'n Mens sien hulle onderwater swem met hulle ‘arms'. Ek neem aan dis hoe dit op die sand gestap het. Ek is verras dat dié arms sterk genoeg was om die gewig te dra - veersterre rank gewoonlik vas aan iets met hulle tentakels en wuif met hulle arms deur die water om plankton te vang - sien foto onder. Die arms kan kos vang en nou en dan 'n entjie swem, maar gewoonlik bly veersterre op een plek. Johan het dus iets baie ongewoons raakgesien.













