Reis

Fonteintjiesberg: Lieflike kampplek buite Worcester

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Fonteintjiesberg is op Eendracht, 'n werkende plaas waar die eienaars, Anita en Marius de Wet, omsien na hulle wingerde en boorde.

Die kampplek lê aan die voet van die berg anderkant die druiwe en jy kyk uit oor die plaas en Breëriviervallei. Dis 'n gelykgemaakte stuk grond van 1 200 m² met 'n lieflike grasperk.

Jy kry jou staan waar dit jou pas, want hier is nie afgebakende staanplekke nie. Hier is plek vir 12-15 woonwaens, en die wêreld is ook geskik vir gewone padwaens.

Die laaste 1,8 km is wel grondpad, maar as jy 'n ordentlike sleepvoertuig het, is die 200 m-steilte voor die kamp jou enigste hindernis. Marius-hulle het 'n paar nuwe boompies aangeplant en hier is ook verskeie krane en kragpunte (die gewone huissok) aangebring.

Dis dus raadsaam om vir jou eie koelte te sorg, maar omtrent in die middel van die grasperk is 'n skadunet van 5 x 5 m as jy koelte weg van jou staanplek af soek.

Die braaiers staan los en jy kan dit dra tot waar jy dit wil hê.

Die badkamergebou het twee vertrekke met 'n stort, wasbak en toilet elk, plus een aparte toilet. Buite die gebou is die wasplek vir skottelgoed - vir die een wat die kort lootjie getrek het - en 'n gasgeiser sorg vir die warm water.

Hier is 'n plonspoel met koue water en van die nuwerwetse warmbaddens wat jy self stook vir warm water. Vir diegene wat die omgewing wil verken, is hier heelwat wandel- en bergfietspaadjies teen die berg uit.

Troeteldiere is welkom én hier is 'n gronddam waar jy kan hengel.

Kontak 082 871 8745; mailto:info@welgegun.co.zakamp@fonteintjiesberg.co.za; Fonteintjiesberg Kampplek op Facebook

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM