Ek en my man, Hannes, het verlede jaar ons 30ste huweliksherdenking gevier by die plek waar ons ons eerste huweliksnag deurgebring het: Assegaaibosch Country Lodge, sowat 7 km buite Kareedouw in die Oos-Kaap.
Ons was aangenaam verras om Assegaaibosch in 'n uitstekende toestand met soveel verbeterings te vind! Ek het sommer dadelik ontspan toe ek die perde en wild in die kamp by die ingang sien.
In die ontvangslokaal is 'n pragtige houttafel met gasteboeke wat oor die jare heen volgeskryf is - Assegaaibosch het reeds in 1866 oopgemaak. En sowaar, daar kry ek ons inskrywing uit 1989 met ons studenteadres en Volla se registrasienommer!
En daar staan ons, betraand oor al die genade en liefde van die afgelope 30 jaar en oor die spesiale oomblik wat vir ons deur totale vreemdelinge bewaar is!













