In Oktober 2014 het Erns Grundling op reis vir Weg in Noordwes 'n interessante voorval met sy iPhone beleef.
Ek het al 'n paar flaters op die langpad beleef. Sommige is klein, private oomblikke van frustrasie: soos toe ek taamlik onfiks en met 'n seer enkel die Otter begin stap het, en ná 4 moordende kilometer 'n eerste slukkie water wou neem en besef ek het twee 1,5 liter bottels sparkling water gekoop.
Ander flaters is meer ingrypend en het gevolge. Soos toe ek met Weg se bakkie in 'n ander stilstaande bakkie vas-reverse het in 'n onbewaakte oomblik buite Ceres se Wimpy.
Of die keer toe ek op 'n kano gesit het in die Goukammarivier buite Buffelsbaai, besig om 'n outjie af te neem wat op die wal saam met sy pa visvang. Nugter weet waarom ek so graag nader wou dryf en deur die Canon 20D (dit was jare gelede...) wou korrel: Dit was 'n bewolkte dag en ek was geensins onder druk om met National Geographic-agtige foto's terug te kom kantoor toe nie.
Maar daar sit ek op die kano en die ding slaan om, en ek skryf in een oomblik die volgende items af: Weg se Canon 20D-kamera, die zoemlens, my Samsung-selfoon, my digitale diktafoon en my notaboekie wat toe soos 'n versameling Rorschach-toetse gelyk het.
Hierdie terugblik is egter nie oor enige van die bogenoemde flaters nie. Kom ons verplaas die aksie na 'n klein badkamer by die toerismekantoor op Groot-Marico in Oktober 2014.
Ek wil lesers graag enige ontstellende detail spaar, so my feitestel is effens selektief: Ek was in die badkamer. Ek was besig. Ek was ook besig om op my iPhone te kyk. Ek wou die foon op die toiletbak neersit. Ek het nie aandag gegee nie. Die foon het gegly en geval. Afwaarts, want dis waarheen fone val. Ek het 'n plonsgeluid gehoor... Alles daarna was in stadige aksie, 'n SuperSport-slo-mo van 'n nagmerrie-in-wording.
Want sien, ek was kort voor my besoek aan Groot-Marico in Namibië vir drie weke. Ek het my foon gebruik as diktafoon en het meer as 5 uur se opnames van Weg-onderhoude op die foon gestoor. Wydlopende gesprekke by landbouskoue in Grootfontein en Gobabis, 'n onderhoud met 'n mallemeuleman en nog vele ander kosbare brokkies wat onvervangbaar is. En waarvoor ek geen geskrewe notas had nie.
En natuurlik, moet ek byvoeg, het ek nie die diktafoon-onderhoud ge-backup nie. Want niemand beplan om hulle iPhone in 'n toilet te laat val nie...
Gelukkig het ek nie van pure skok die toilet getrek nie. Ek het die foon met ongekende ratsheid uitgevis, dadelik met my hemp afgedroog en na die stoep van die toerismekantoor gestorm. Die foon was natuurlik morsdood.
Die toerismekantoor is ook die huis van die liewe Egbert en Santa van Bart, twee legendariese Groot-Marico-inwoners en die inspirasie agter die jaarlikse Herman Charles Bosman-fees.
Hulle het voorgestel ek haal die foon so uitmekaar as moontlik en laat alles vir 'n wyle in die sonnetjie bak. Egbert het gaan koffie maak, want dis wat jy doen as jy op sy stoep vertoef.
Ek onthou toe van 'n truuk - seker 'n moderne boereraat? - wat jy glo met rys kan doen om te help met 'n foon se waterskade, omdat rys glo die vogtigheid absorbeer.
Met skreeuende bande het ek daar weggejaag en by 'n kafee buite die dorpie gestop.
"I'm looking for Tastic! Do you have Tastic?!" het ek bulderend op die Bangladeshi agter die toonbank afgestorm. Hy het, duidelik oorbluf, vir my in die rigting van die regte rak gestuur. 'n Halfminuut later het my foontjie in 'n haastig oopgeskeurde Tastic-sak gaan lê, diep begrawe onder ryskorrels wat sekerlik gehoop het hulle is vir groter dinge bestem.
Nouja, soos Paul Simon sing op die Graceland-album: "These are the days of miracle and wonder." Skaars twee ure later kon die foon weer aangeskakel en het dit gewerk!
Maar daar was nóg 'n uitdaging. Ek het nie rekening gehou daarmee dat van die ryskorrels hulle weg kan vind na die gaatjie waar jy jou oorfone kan indruk nie. En wanneer 'n ryskorrel in kontak kom met water, swel dit mos... So het drie astrante ryskorrels hul laaste rusplek presies daar gaan vind.
Dit het 'n verdere reddingsoperasie geverg - wat ons bring by die foto saam met hierdie artikel. Santa het vir my 'n opblaasmatrassie geleen en ek dink haar broer Pieter Bezuidenhout het gehelp met 'n kopliggie. Só het ek na donker op die naat van my rug op 'n stoep in Groot-Marico gelê en forensies probeer om in die lig van 'n kopliggie drie ryskorrels uit my iPhone te krap.
Ná 'n lang gesukkel was die ryskorrels uit en het my foon weer 100% gewerk. Ek kon my diktafoon-onderhoude transkribeer en al die artikels skryf vir Weg se Namibië-tydskrif.
My vriend Le Roux het 'n sêding waarvan ek baie hou: "The lonely places we take ourselves." Dit was beslis eensame oomblikke ná daardie eensame plons - iets wat ek nie my grootste vyand ooit sal toewens nie.
Ek maak ook sedert die iPhone-insident seker dat ek nie weer só onkant betrap word in 'n badkamer nie.
En wanneer ek rys koop in die supermark, hou ek by Tastic.












