Reis

Groot pret by Klein-Paradys

Ek het by vriende gehoor van Klein-Paradys in Modimolle, en hulle toe op Facebook gaan opsoek. 'n Klompie jaar terug het ek besluit om my gesin hierheen te bring. Ek, my vrou, Hester, en ons 14-jarige drielingseuns, Deon jr., Ruben en J.D., kom kuier sedertdien gereeld hier.

Vertel ons meer van Klein-Paradys.

Dis 'n heerlike kampterrein met grasperke wat goed onderhou word, en daar is meer as genoeg koeltebome. Die ablusiegeriewe is skoon en netjies en hier is 'n kroeg.

Waarmee hou 'n mens jou besig?

Hier is heelwat doendinge om elke lid van die gesin besig te hou. Hier is twee swembaddens om van te kies - 'n verhitte onderdakswembad en 'n groot buiteswembad met koue water naby die woonwastaanplekke. Hier is ook 'n speelparkie, potspeltafels, veerpyltjies, tafeltennis, minigholf en 'n vlugbalbaan.

Jy kan kom voëls kyk, met verfbalgewere skiet, op wildritte gaan en een van die twee staproetes van onderskeidelik 5 km en 14 km aandurf.

Hoe gemaak vir kos en brandstof?

Jy kan jou ryding se brandstoftenk op die dorp volmaak - dis net 13 km van hier af. Hier is ook genoeg winkels as jy iets nodig kry. Ons koop byvoorbeeld altyd ons vleis op die dorp wanneer ons kom kamp. Hier is 'n restaurant by Klein-Paradys waar jy ontbyt of middagete kan kry. Hulle is veral bekend vir hulle Sondagmiddagetes.

Is hier verblyf vir mense wat nie kamp nie?

Ja, hulle het 'n basiese houtchalet waarin twee mense kan slaap, drie chalets met slaapplek vir 'n gesin van vier, twee boschalets vir tot drie mense, en een met slaapplek vir vyf. Dan is hier ook grasdakchalets vir vier, luukse grasdakeenhede waar tot ses mense kan slaap, en 'n plaashuis waar tot 13 mense kan bly.

Hoe ry 'n mens tot hier?

Jy kan Klein-Paradys met enige sleepkombinasie bereik - solank dit wettig is. Ons ry met die N1 noord uit Pretoria en hou links by die Kranskop-tolhek om met die afrit direk daarna van die snelweg af te klim.

Draai links by die T-aansluiting en ry in Modimolle se rigting.

Ná sowat 5 km wys 'n padpredikant jy moet links draai, en 6 km verder draai jy regs af plaas toe. Hou jou oë gespits vir die bord, want hy is klein.

Kontak 012 252 1938; 012 252 4625; kleinparadys.com

GPS S24.785000 E28.402233.

Deon Gerber

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM