Reis

‘Halfpad’ op Portugese Camino

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die pelgrims wat tans aan Netwerk24 se Portugese Camino deelneem, is nou omtrent halfpad tussen Porto, Portugal, en die Spaanse stad Santiago de Compostela, waar die pelgrimstog oor sowat 280 km oor 'n week eindig. Sarel van der Walt, 'n redaksielid van Netwerk24 wat saam stap, doen verslag uit Oia langs die Spaanse kus.

Een van die pelgrims wat aan Netwerk24 se Portugese Camino deelneem, stap Maandag in gietende reën langs die see op pad na Oia in Spanje. Foto: Sarel van der Walt
Een van die pelgrims wat aan Netwerk24 se Portugese Camino deelneem, stap Maandag in gietende reën langs die see op pad na Oia in Spanje. Foto: Sarel van der Walt

Soos natgereënde hoenders het ons Maandag se skof oor byna 20 km van A Guarda tot by Oia voltooi.

Vandat ons A Guarda verlaat het, totdat ons die hotel in Oia gehaal het, het dit gereën.

Ondanks reënbaadjies en selfs 'n poncho bo-oor het omtrent alles aan jou lyf nat geword.

By tye was daar ook 'n geniepsige koue wind wat van die see se kant af gewaai het.

Maar pelgrims aanvaar mos die toestande en ons het deurgedruk.

Dit was weer eens 'n baie mooi roete - al langs die see af.

Ná baie reën vroeër in die dag sak die son Maandagaand oor die see. Foto: Sarel van der Walt
Ná baie reën vroeër in die dag sak die son Maandagaand oor die see. Foto: Sarel van der Walt

In 'n stadium het ons die paadjie langs die see verlaat om langs 'n hoofweg te stap.

Om daar te kom moes ons 'n stewige opdraande - soos Tom Jenkins-rylaan in Pretoria wat van Soutpansbergweg oor Meintjeskop na die Uniegebou lei - uitstap. Dit was 'n meneer van 'n opdraande.

Daarna was daar nog 'n lang, geleidelike opdraande.

In 'n stadium het 'n paar van ons by 'n koffiewinkel wat oor die see uitkyk, aangegaan vir koffie en om 'n draai te loop.

Daar binne het ons met twee jong vroue van Oekraïne begin gesels, en ook met 'n Afrikaanssprekende egpaar wat uit Suid-Afrika na Nieu-Seeland geëmigreer het en nou al 15 jaar daar woon.

In 'n stadium het 'n Britse vrou in die koffiewinkel gesê sy kan aan ons aksente hoor ons is Suid-Afrikaners.

"Handré Pollard (die Springboklosskakel) speel vir ons span (Leicester Tigers in Engeland) en hy is ons groot held."

Ek sê toe vir haar Pollard keer aan die einde van die seisoen terug Pretoria toe om weer vir die Bulle te speel.

"Nie net hy nie, Hanro Liebenberg (die losvoorspeler wat ook voorheen vir die Bulle uitgedraf het) verlaat ons ook," het sy sigbaar teleurgesteld gesê.

Dinsdag se skof is 19 km tot by Baiona en dit sal glo tussen vier en ses uur neem om te voltooi. Hopelik bly die reën weg.

'n Pelgrim Maandag met 'n kers in 'n kapel op die roete van Netwerk24 se Portugese Camino tussen A Guarda en Oia in Spanje. Foto: Sarel van der Walt
'n Pelgrim Maandag met 'n kers in 'n kapel op die roete van Netwerk24 se Portugese Camino tussen A Guarda en Oia in Spanje. Foto: Sarel van der Walt

Die kuslyn draai vandag ooswaarts in die rigting van Baiona, wat bekend is omdat een van Christopher Columbus se skepe hiér aangeland het ná sy verkenningstog na die Amerikas.

Ná ontbyt Dinsdagoggend is dit weer 'n geval van: Rig op die linkerflank (die see), voorwaarts mars.

* DROOM JY VAN DIE CAMINO?Lees meer hier as jy wil saamstap.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM