Reis

Hoefer-waens in SA!

Ingevoerde woonwaens wou tot dusver nie vlam vat in die land nie, maar dié prentjie verander met die Hoefer-groep wat nou in Swaziland waens vir die Suid-Afrikaanse mark begin bou.

Die ander goeie nuus is dié waens is so lig jy kan hulle met bykans enige voertuig sleep en vir die twee ligste modelle hoef jy nie eens 'n sleeplisensie te hê nie, sê die uitvoerende hoof van dié woonwagroep, Charles Hoefer aan WegSleep.

In Amerika is die Hoefer-gesin sinoniem met woonwaens- en ryhuisbou. Charles en sy vrou, Andrea Kine, woon nou in Swaziland, waar sy gebore is, en het hulle eerste aanleg vir waens vir die Suid-Afrikaanse mark hier opgerig.

Charles vertel hy het so te sê in woonwa- en ryhuisfabrieke in Amerika grootgeword. Sy pa, Dave, het diep spore in die bedryf getrap en was onder meer betrokke by Thor Industries wat vandag die grootste ryhuisvervaardiger in Amerika is.

Charles sê hy het self reeds as tiener woonwaens ontwerp en was later die uitvoerende hoof van twee Amerikaanse wa-vervaardigers.

Hy het 'n geleentheid in die Suid-Afrikaanse woonwamark gesien en het antwoorde vir twee van die groot kwessies: woonwagewig en die EB-rybewyskwessie.

Hy het die afgelope twee jaar daarop gefokus om ligte waens vir die Suid-Afrikaanse mark te ontwerp en ontwikkel.

"Vir my waens se grootte en toerusting is dit die ligste wa in die wêreld. Die ontwerpe is 'n kombinasie van die Amerikaanse- en Europese styl, maar die groot geheim lê in die boumateriaal."

Charles sê hy bou sy waens met hoogs verfynde veselglas wat tien keer sterker is as gewone veselglas. Die wa se veselglaspanele word met spesiale aluminiumstroke geheg en die bakwerk lyk uiteindelik soos 'n enkele gietsel.

Hoefer bou vier modelle en die twee duurder modelle het twee uitlegte waaruit jy kan kies. Die hele reeks is beskikbaar as konvensionele waens, maar elk van die modelle het ook 'n grondpadmodel.

Die gewone woonwaens kos vanaf R259 000 tot R415 988 wat die helfte van die prys is sou dit ingevoer word uit Amerika, sê Charles.

Elk van die vier goedkoper waens kom standaard met 'n eilandbed, en die duurder twee elk met 'n kantbed en badkamer. Afhangend van die model, het die waens vir van twee mense met 'n kind tot vier mense en alma het 'n buitekombuis.

Die twee ligter modelle, die Superlite en die Corsa Special, het 'n BVM van slegs 750 kg wat beteken jy kan hulle bykans met enige voertuig op die mark sleep, én jy het nie 'n EB-rybewys nodig nie, maar kan hulle met jou gewone ligtevoertuigrybewys (kode B) sleep.

Die Hoefer-groep se eerste tak open in Junie in Johannesburg en in Julie open hulle die tak in Witbank.

Kontak: info@hoefergroup.com; hoefergroup.com

Kry jou Mei 2017-uitgawe van WegSleep om meer oor Hoefer se planne te lees.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM