
• 'n Koelboks wat volgepak is, bly langer koud as een wat halfvol is.
• Moenie warm goed in die koelboks sit nie. Vries of verkoel dit vooraf.
• Iets smelt of lek altyd in 'n koelboks. Verpak jou "waardevolle" kos in aparte Ziploc-sakkies.
• Sit bevrore vleis onderin die koelboks met 'n dun laag polistireen of 'n Sondagkoerant bo-op dit. Dan pak jy jou vars goed en koeldrank bo-op dit. As jy die koelboks oopmaak, verloor jy dan nie so baie koue nie.
• Sit 'n laag koerantpapier oor voordat jy die deksel toemaak. Druk dit sommer so effens teen die kante ook in. Op dié manier bly jou kos langer koud.
• Eet die bederfbare kos in jou koelboks eerste. En as dit by vleis kom, probeer altyd eerste die wors en maalvleis eet. Vark los jy liewer by die huis.
• Vries vooraf 'n tweeliter-koeldrankbottel of bokswynsak vol water of koeldrank en sit dit in die koelboks. Dit hou die boks koel, en soos die bottel of sak smelt, het jy koue drinkgoed.
• Die meeste koelbokse ontaard ná 'n dag of twee in 'n gemors omdat dit te veel oopgemaak word. As jy kan, neem twee koelbokse (of 'n koelboks en yskas): een vir goed wat jy elke dag gebruik (soos die botter en bier) en een vir kos wat so lank as moontlik toegemaak moet bly, soos vleis. As jy 'n vrieskas het, roteer die yspakke tussen die vrieskas en koelboks.
• Die geheim van goeie koelboksbestuur lê daarin dat jy jou koelboks so min as moontlik oopmaak - elke keer as jy die deksel oopmaak, ontsnap koue lug en stroom warm lug in. Probeer dit so min as moontlik doen - en maak gou as jy dit wel doen. Haal elke oggend die dag se goed uit en sit dit in 'n aparte koelboks. Pak ook jou vleis só dat jy net jou hand deur 'n skrefie kan druk en die aand se braaivleis kan raakvat.
• Dreineer gereeld die water onderin die koelboks of yskas. Nie net sal jou kos nie meer dryf nie, dis ook meer higiënies.
• Sit 'n bakkie vol koeksoda in jou leë (droë) koelboks om hom vars te hou.













