
Op die dorp, naby die see
Imhoff, 'n groot woonwapark in die middel van Kommetjie, is ook munisipale eiendom, maar word al amper 24 jaar deur Graham en Ann Anderson gehuur en bestuur.
Die Andersons was Johannesburgers wat vroeër jare hier kom kamp het. In 1992 het hulle gehoor die park is te huur en het hulle getender.
Dié park is skaars 650 m se stap van Kommetjie se Langstrand af en nie te ver van die aangrensende Noordhoekstrand - lank en wit en uitgestrek - nie. Dis nie 'n luukse of deftige oord nie, maar dit word netjies gehou en lyk of dit goed bestuur word.
Skrop nes
Hier is altesame 100 staanplekke in dié boomryke woonwapark, maar op 10 van hulle is permanente inwoners. Van die hek af loop die pad in drie sirkels deur die park, en die staanplekke lê min of meer in drie groot sirkels langs en oorkant mekaar. Jy kamp op groen gras met grondkolle hier en daar.
Al is jy in die middel van die dorp en al hoor jy die verkeer op jou staanplek, kwetter en sing die voëls tussen al die park se hoë denne-, palm-, ander bome. Dit voel of jy in die natuur verdwyn.
Van die staanplekke is 'n goeie 12 x15 treë en tussen die meeste staan daar 'n boompie of drie tussen jou en die bure. Van die staanplekke het ook 'n betonblad waarop jy jou wa kan trek.
Vir jou braaivleisvuur het jy 'n vierkantige geboude braaiplek wat so heuphoogte staan. Onthou egter 'n rooster.

Jy prop jou wa in by 'n kragboksie (driepunt) wat net bo die grond staan. Jy het 'n vullisdrom wat so 'n entjie van die grond af teen 'n houtpaal vasgemaak is, en in die kampplek is ook herwinningsdromme vir glas, papier en ander gemors.
Tussen die staanplekke staan 'n paar krane versprei waar jy kan gaan koffiewater tap.
Oud, maar nie koud

Aan die linkerkant van die kampplek en meer na die middel toe staan twee identiese bruinbaksteen-ablusieblokke, albei met aparte badkamers vir mans en vroue. Die badkamers is oud, maar die vlekvryestaalwasbakke is geskuur en geskrop en die groen stoepverf op die vloere blinkgevryf.
Die badkamer is in twee verdeel, met vier wasbakke en ses toilethokkies aan die een kant en nog vier wasbakke, twee badhokkies, vier storthokkies en 'n groter stortvertrek met twee afsonderlike storte aan die ander.
By die wasbakke is spieëls en pakrakkies en in die bad- en storthokkies genoeg hang- en pakplek vir jou badgoed en klere én sitplek om jou sokkies droog aan jou voete te kry.
In die middel van die ablusieblok is 'n opwaskamer met sewe wasbakke en aan die oorkant 'n waskamer met ses klerewasbakke en strykplanke. Jou nat klere kan jy agter die badkamergebou aan 'n lang wasgoeddraad hang.

Speel en ry 'n bietjie

By die kantoor by die hek is 'n speletjieskamer waar jy tafeltennis, veerpyltjies en pool kan speel (deposito R50) en langsaan 'n TV-kamer waar jy die Saterdagwedstryd kan kyk.
Ann gee met jou aankoms ook vir jou 'n nuttige gefotostateerde gids met Kommetjie se geskiedenis plus lyste doendinge en lekker eetplekke in die omgewing.
Sy stel onder meer voor jy probeer die vis by die Camel Rock-restaurant in Scarborough (10 km) en gaan kyk die pikkewynkolonie by Bouldersstrand (15 km).
Kortliks | Imhoff-woonwapark
Beskikbaar: krag, selfoon
Kampplek: 90 staanplekke op gras of grond, almal met krag en van hulle in lekker koelte.
Ablusiegeriewe: Oud, maar silwerskoon en gerieflik.
Aankoms- en vertrektyd: 2 nm. en 10 vm., maar buite seisoen is hulle nie streng hieroor nie.
Kontak: * 021 783 1634; * imhoff.co.za; * anderson@icon.co.za
Naaste dorp: Die kampplek is in Wirelessweg in Kommetjie.
Hoe lyk die pad? Al die pad teerpad.
Dís hoe jy ry
• Draai seewaarts af van die M65-hoofpad (Kommetjieweg) wat deur Kommetjie kronkel in Wirelessweg, en ry 500 m tot by Imhoff se hek aan die regterkant.
GPS: S34.137654 E18.336812










