Reis

KAART: Bastervoetpad

Foto: Sam Reinders
Foto: Sam Reinders

Die Bastervoetpad in die Noordoos-Kaap is een van daardie paaie waarvan 'n mens al vergeet het; dis in 'n blinde kol van ons land. Wanneer jy in dié deel van die Drakensberg kom rondry, is die kans groter dat jy die ikoniese Naudésnek (sien Weg #117), verder noord na Rhodes se kant toe, gaan takel as dié grondpadpas. Of as jy haastig is, net vir vyf minute aftrek om te oe en aa wanneer jy teerpadlangs met die nabygeleë Barklypas ry.

Die Bastervoetpad se storie lê ook in die kantlyn van ons geskiedenis. Ná dekades se herwaarts en derwaarts oor grondreg in Griekwaland-Wes en die Suid-Vrystaat, het die Griekwas (oftewel die Basters) in 1862 na Griekwaland-Oos (Kokstad) getrek. Die hooftrek het deur Lesotho geloop, maar toe kry die Griekwas stry en 'n splintergroep is by die Bastervoetpad af.

As jy weet waar om te kyk - dit help om met 'n plaaslike boer vriende te maak sodat hy vir jou kan wys - kan jy nog die erosieslote sien wat die wawiele agtergelaat het toe die waens ál remmend aan rieme teen dié steiltes af is.

Buiten die uitsigte kan jy ook vaalribbokke sien as jy die hange met 'n verkyker fynkam. Wees ook op die uitkyk vir voëls op die roete: bergpatryse, langtoonkliplysters, witkruisarende en dalk selfs Kaapse aasvoëls.

In 1979 is die pas hernoem na die destydse Kaapse provinsiale raadslid vir die Aliwal-Noord-distrik, dr. L.A.P.A. Munnik. Hy het hom bewyer vir die herstel van die pas sodat dit gewone motorverkeer kon dra. Niemand noem egter die pad so nie; in dié geweste is dit maar steeds die Bastervoetpad.

Hoewel die pas 'n openbare pad is, onderhou die plaaslike distriksraad dit glad nie; die distrik se boere doen self van tyd tot tyd herstelwerk. Dis 'n skreiende skande dat dié mooi pad se steiler dele nou slegs vir 4x4's toeganklik is.

Die roete moet liefs van bo na onder (van wes na oos) gery word, en nie wanneer die pad nat is nie.

Hier's jou kaart - klik op die ikone vir meer inligting.

https://drive.google.com/open?id=18ck3yt3Ov2lPIxy_ZQAFJYLlv7c&usp=sharing

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM