Dis al meer as twee jaar sedert daardie aand toe ons in die skoffelskuur op Hartenbos die toekennings oorhandig het aan mense soos Swannie (Flippie Swanepoel) van Pretoria en Louis en Anette Zikman van Beaufort-Wes wat al meer as 40 jaar lank elke jaar op Hartenbos kom kamp.
Hulle is deel van die pensioentrekkersgroep wat oor Februarie in Kamp J op Hartenbos saamtrek. Kamp J het bekend geword as die "ouetehuis", en soms praat mense van ons wat "daar onder die dennenaalde kamp". Oor die jare het vriende eindelik familie geword - letterlik. Party families se kinders het oor en weer met mekaar getrou en daardie kinders kamp nou al met húlle kinders daar.
Maar daardie aand in die skoffelskuur het die stories begin loop oor hoe Hartenbos gemoderniseer gaan word. Planne en modelle van hoe die nuwe Hartenbos gaan lyk, is op die tafel gelê en daarmee saam het 'n somber atmosfeer gekom.
Volgens die planne was dit duidelik Kamp J, ons geliefde tuiste van baie jare, sou in die slag bly.
OP J14 HET GERRIE EN MARIETA BOERS van Fochville baie jare gestaan. Gerrie is al aan die verkeerde kant van 80 en steeds kom hy elke jaar al die pad met sy woonwa af. Ons mans het gewoonlik soggens nadat ons kamp skoongemaak het, op die paaltjies langs Paardekraalweg gesit en gesels. Een oggend kom Marieta nader en vra waaroor die gesprek gaan.
Iemand skerts ons beplan om Kaap toe te gaan en 'n strip show te gaan kyk.
Dadelik antwoord Marieta verontwaardig: "Gerrie Boers, verstaan vir my mooi, jy gaan nêrens heen nie! Jy kry die pensioen en jy bestuur die kar! Dit is jou werk en g'n niks se Kaap toe gaan nie."
Langs Gerrie het Nelie en Lina Koen van George gekamp. Een oggend daar op die paaltjies in Paardekraalweg kom 'n vakansieganger verbygeloop. Hy steek vas en kyk ons so deur en vra toe: "Wat doen julle manne heeldag om julle tyd om te kry?" Spontaan antwoord Nelie: "Nie veel nie, maar moenie ons vra om vir jou iets te doen nie, want ons het nie tyd nie."
Bert en Magda Luus van Springs het op J16 gestaan. Bert is bekend as die man met die blou Ford Cortina-bakkie; hy het volgens Bert 'n fabrieksfout, want hy lek nie olie nie. Bert was die amptelike storieverteller in die kamp. Almal kon ure lank aan sy lippe hang. Bert en Swannie was die poetsbakkers. Juis hieroor het hulle dikwels die blaam gedra vir dinge waaraan hulle nie skuldig was nie. Soos die aand toe Henk Schoombie van Jeffreys sy hemp by Bert kom soek. Henk het hoog en laag gesweer iemand het sy hemp gegaps terwyl hy in die stort was en meen dit is net Bert wat die guts het om so iets te doen. Hy't later onthou hy het self sy hemp in die toilethokkie vergeet...
Ou Freddie Basson was die man van Steytlerville met die baard en die groot vuur. Daar tussen ons het hy gekamp terwyl hy ernstig siek was met nierkanker.
Wie sal ooit sy lekker lag en vriendelike "môre Uncle, wat kan ek vanmôre vir julle doen?" vergeet. Drie jaar gelede kom hy vir oulaas met sy woonwa en Stormers-vlag omhoog ingery. Die kanker het toe al sy tol geëis, maar dit was sy wens as hy moes gaan, moes dit daar tussen ons wees. Sy wens is een oggend om vyfuur bewaarheid.
BERTUS BURGER VAN OUDTSHOORN, beter bekend as Krokodil, was die "burgemeester" van Kamp J. As jy iets wou weet, het jy vir Bertus gevra. Bertus het elke week 'n SMS van die Spar gekry waarin hulle hulle Sondagmaal geadverteer het.
Hy het dan vir almal kom sê wat hulle kan bestel en wat dit kos. Bertus was ook saam met Swannie en Barend Bothma van Paradysstrand en Whitey (Martiens Venter) van Sea Park die vissermanne.
Die sukses was nie groot nie, maar hulle koppe het in skaamte gehang toe daar twee jong vroue kom kamp en die een vis ná die ander uittrek. Bertus was oortuig hulle het daai vis iewers gaan koop!
Op J19 het Schalk en Mariaan Walters van die Kaap gestaan. Schalk was 'n groot Stormers-ondersteuner. Hy het eers sy Stormers-vlag gehys en dán het hulle kamp opgeslaan.
Daar was nog baie mense, soos Ewald en Rentia Laas van Onrus, John en Rita Moir van Bellville, Leon en Martie de Vos en Henk en Lorien Schoombie, almal van Jeffreysbaai, en Whitey en Esme Venter van Sea Park. Esme was 'n groot konfytkoker - ek wonder hoeveel botteltjies konfyt sy daar in die kamp gekook het...
Hennie en Mariaan Louw van George het gestaan waar die pad draai badkamer toe. Dit was die halfwegstasie en die halfpadstop op die lang pad badkamer toe.
Ansie Basson, 'n weduwee van die Paarl, het alleen op J2 gekamp. Net sy in haar Penta, en almal wat dorp toe gaan, het na haar omgesien.
Hy't een jaar daar aangekom sonder sy tentpale, en ek wonder of sy vrou hom ooit daarvoor vergewe het.
Dan was daar Jan en Joey Botes van die Kaap. Jan, ook al aan die verkeerde kant van 80, was vol kwinkslae met die aandvergaderings in die badkamer.
Frans en Martha de Vries kom ook van Beaufort-Wes af, en Frans het altyd 'n tuintjie om sy kamp gemaak. Daardie vyfsilinder-Audi van hom was altyd perfek toegemaak onder die afdak langs die woonwa. Ongelukkig het die vergeetsiekte ook vir De Vries, soos ons Frans genoem het, kom haal.
Dan was daar nog Johan en Margaret Wessels van Welkom met die groot Valiant. Hy't een jaar daar aangekom sonder sy tentpale, en ek wonder of sy vrou hom ooit daarvoor vergewe het.
Daar was Breda en Anneline Dreyer van Plettenbergbaai, die fiksste mense van hulle ouderdom wat ek nog gesien het, en Gert en Lizette van Rooyen van Welkom, wat steeds verbete aan die Cheetahs vasklou, al het die vlaggie elke jaar kleiner geword. Dan nog Christo en Marietjie van Greunen van Robertson. Adam Koen van George is 'n motorentoesias, en jaarliks met die George-motorskou het hy die aand se verrigtinge by die stock cars uitgesaai.

DAAR IS NOG ANDER WAT GEKOM EN gegaan het. En dan die personeel. Ou Daniel se groen John Deere met die sleepwa moes mettertyd plek maak vir 'n nuwe sleepwa en 'n rooi trekker. Deon, die terreinbeampte, het altyd vroeg Maandagoggende kom skoorsoek met die verloorders van die naweek se rugby. (Hy was 'n vurige Stormers-ondersteuner en het om duistere redes ook vir die All Blacks geskree.) Ou Roelf van parke was die man met die boererate. Sy boegoebrandewynraad werk baie beter vir slapeloosheid as vir diabetes, maar wie gee om... Lilly in die kantoor het 'n paar jaar gelede iewers gaan aftree, maar Netta Jansen het soos 'n rots bly staan. Sy ken elke kampeerder se lief en leed en staanpleknommer uit haar kop.
Louis en Anette Zikman, wat daai aand in die skoffelskuur 'n toekenning gekry het, kamp saam met hulle dogter Annelize. Met ons laaste kamp kom ek een aand van die badkamer af gestap.
Ou Louis sit voor sy vuurtjie en staar na sy hande, sy rug na my toe. Hy hou hulle in die vorm van die Sanlam-embleem bymekaar, kyk stip daarna. Toe ek sy naam noem, skrik hy.
Toe kom die waarheid rou uit sy gemoed: "Ou Piet, dit is seker die mooiste aand vanaand hier op Hartenbos.
Miskien ook die laaste wat ons groot ou familie hier sal saam wees. Toe vou ek nou maar die ou hande in die vorm van die Sanlam-beeldjie en wonder hoe lank ek hierdie samesyn sal kan vashou. Ek wil nie my hande oopmaak nie."
Verlede Vrydag kry ons die SMS: Die ontwikkeling is goedgekeur.
Ek is oortuig die "nuwe" Hartenbos gaan puik wees. Maar Kamp J soos ons hom ken, is vir altyd weg.











