In Europa is glanskamering lankal 'n gevestigde kampeerkeuse wat 'n stewige bydrae lewer tot landelike toerisme-inkomste. 'n Verdere pluspunt is dat dit die potensiaal het om 'n jonger mark te laat kamp - mense wat hulle neus optrek vir woonwaparke óf toeriste wat uitgekuier raak met onpersoonlike verblyf in hotelle, selfsorg-chalets, gastehuise en hotelle.
Internasionale toeriste wat gewoond is aan dié soort vakansie, kan na Suid-Afrika gelok word as ons die regte produk aanbied. Wat kan ons dus leer uit die bedryf in Europa? Eerstens is daar verskillende verblyfopsies vir glanskampering wat wissel van uiters bekostigbaar tot baie duur: Joerte ('n mobiele ronde tent wat met huide en velle bedek is en veral in Oos-Europa algemeen is), tipi's en wigwams (die tente van die eerste bewoners van Noord-Amerika), boomhuise, safaritente en statiese woonwaens.
Direkte kontak met die natuur is die belangrikste oorweging wanneer 'n glanskampeerder moet kies tussen byvoorbeeld 'n boomhuis of 'n chalet. Gerief en privaatheid in luukse tentverblyf sorg vir 'n eiesoortige ervaring, en dít is waarna 'n nuwe geslag kampeerder soek. Die aanduidings is reeds daar dat glanskampering gekoppel word aan "wegkruipplekke" wat ver van stede en dorpe af is.
Glansverblyf word luuks ingerig; trouens die afwerking moet grens aan vyfstergehalte. Veral die badkamer, slaapgeriewe en 'n eiesoortige leefruimte is uiters belangrik. 'n Houtdek met 'n luukse braai en mooi uitsig oor 'n vallei of die bos is 'n moet. Glanskampeerders is bereid om te betaal vir die gevoel van algehele lewensvreugde wat 'n hotelkamer eenvoudig nie kan bied nie. Buitelewe-aktiwiteite soos staproetes moet ook beskikbaar wees.
Die onderskeidende kenmerk van glanskampering in 'n woonwa is die geriewe wat op of langs die staanplek beskikbaar moet wees.
Die woonwa-glanssegment word op die oomblik gekenmerk deur die ombouing van bestaande woonwaens om allerhande luukshede te installeer. óf mense voer 'n byderwetse woonwa in met alles wat oop- en toemaak.
Die onderskeidende kenmerk van glanskampering in 'n woonwa is die geriewe wat op of langs die staanplek beskikbaar moet wees. Jou eie (luukse) badkamer, braai, private boma, kragpunte, wi-fi-punte en satelliettelevisie is net 'n begin.
Die staanplek moet boonop uiters ruim, privaat afgeskerm en beskut wees. Jy wil nie jou bure sommer sien of hoor nie. Hout, ys, skoon water en 'n mandjie vars produkte kan daagliks verskaf word. Die kampervaring met jou eie tent, woonwa of ryhuis moet heeltemal anders wees as wat jy by 'n gewone oord of kampplek kry.
Agritoerisme Suid-Afrika (ATSA) se fokus op kampering staan nog in sy kinderskoene en moet volgens my suiwer gerig wees op die daarstel van unieke kampervarings op werkende plase. Dié liggaam moet hande vat met AfriCamps, wat reeds bedrywig is in 'n mark wat hulle as boetiekkampering beskryf (hulle definisie vir glanskampering).
ATSA en AfriCamps het dieselfde oogmerk: om eiesoortige kamperingservarings te skep. AfriCamps bou luukse tentstrukture wat ontwerp kan word om in te pas by die natuurlike omgewing op 'n plaas, in 'n bos of op 'n houtstellasie, én hulle het die kundigheid en ervaring om die kampeerplek rondom die struktuur en die binne-uitleg van die luuksetent na smaak en begroting te ontwerp, uit te lê en op te rig.
Google gerus "Glen Eden Farm Montagu glamping". Op dié plaas is 'n sigeunerwa (met slaapplek vir twee), 'n tipi-tent vir die kinders, en 'n private "pod" met 'n badkamer, kombuis en eetvertrek. Braai- en kuiervuurgeriewe is só ingerig dat dit 'n kuierkring skep.
Die Ngama-tentsafarilodge bied weer 'n luukse tent met 'n koningsgrootte bed, en suite-badkamer met 'n bad én stort, 'n buitestort, tee- en koffiestasie en 'n private houtdek.
My gunsteling, bloot op grond van foto's op hulle webwerf, is die Mahlangeni-boetiekwildreservaat naby Plettenbergbaai. Dit is 'n luukse tentkamp wat vier gaste in twee aparte tente huisves, elk met 'n luukse dubbelbed. 'n Kombuisie, braaiput, badkamer met 'n stort en houtdek met 'n lieflike uitsig oor die vallei (en die see in die verte) skep 'n ervaring soos min - en, wag daarvoor: Jy kan jou hond, kat of papegaai ook saambring.











