Breek ná die week se stadsgedruis weg vir 'n rustige kampnaweek by Oewerzicht.
Foto's Leon Botha
As 'n mens op 'n Vrydagmiddag uit die Moederstad koers kies op die N2, lyk dit by Somerset-Wes rond soos die einde van die maand in 'n mall.
Van vroegmiddag af kruie motors buffer teen buffer om by die see uit te kom. By Sir Lowryspas tel jy weer spoed op en die karrestroom lyk soos 'n passasierstrein wat momentum begin kry. Net voor Caledon wys 'n bordjie die pad links na Greyton aan. As jy hier afdraai, is jy uit die besige naweekverkeer en dis asof jy in 'n rustiger tydsone inry as jy die Sonderendrivier oorsteek met die berge voor jou.
Greyton, aan die voet van die Riviersonderendberg, lyk soos 'n tipiese plattelandse dorpie op 'n duisendstuk-legkaart: 'n Klompie huise, 'n kerk en winkeltjies in die hoofstraat.
Buite die dorp is die Oewerzicht-boerdery met 'n kampplek waar jy langs die rivier jou wa kan afhaak en jou skoene vir die naweek kan uitskop. Dis net twee uur se ry van Kaapstad af en die kampnaweek gaan ook nie jou maand se begroting in duie laat stort nie.
Boorde en kampplekke
Net buite Greyton kronkel 'n netjiese grondpad vir 'n kilometer of wat naby die rivier die stilte in. By die Ouplaas-melkboerdery, waar jerseykoeie van agter die draadheining vir jou staan en loer, vat jy die laaste afdraai vir die laaste entjie pad tot by Oewerzicht.
Die rivier kronkel doer links, maar dan kom jy by 'n netjiese grasperk wat van die pad af tot by die rivier strek. Dis Oewerzicht se kampplek.
'n Bordjie by die hek wys vir jou die kampplek is links af en die kantoor vorentoe. Met 'n lang sleepkombinasie is die pad na die kantoor 'n seëning, want die draai na die kampplek maak 'n haarnaald.
By die kantoor, 450 m reguitaan, aan die regterkant van die pad, is 'n skuins parkeerplek met genoeg draaiplek vir die wa terug kampplek toe.
Oewersicht se mense wys vir jou by die kantoor hulle gasvryheid op 'n besonderse manier: Op die tafel staan 'n mandjie vol varsgeplukte broccoli en blomkool. Tanille van Tonder, die ontvangsdame, lig jou in jy kan kan jouself help aan die kraakvars groente - en ook dat hulle die volgende dag wéér vars produkte pluk. Saam met die groente verbou hulle ook appels en pere op dié plaas.
Jy handel die kantoorsake vinnig af, want 'n staanpleknommer, oordkaart en die oordreëls word per e-pos vir jou gestuur wanneer jy bespreek.
Daardie afdraai...
Ons kamp die naweek met Jurgens se Exclusive. Met die Hilux voor hom kan jy nie kort draaie sommer net so vat nie. Met dié lang kombinasie moet jy eers mooi kyk en beplan.
Terug by die afdraai na Oewerzicht se kampplek hou ons eers voor die hek stil om die kat mooi uit die boom te kyk, want saam met die skerp draai is hier ook 'n afdraande anderkant die hek wat sake verder bemoeilik.
Nog kampeerders vir die naweek, Johan Hattingh-hulle van Kaapstad, kom ook van die kantoor se kant af aangery, maar sy Nissan X-Trail en Caravette is darem 'n korter kombinasie. Ek wys Johan moet solank inry en hy ry so maklik die kampplek in - dit lyk of hy die draai vooraf geoefen het.
Dis nie die laaste sien van Johan nie. Terwyl ek met 'n oog op elke spieël verby die kampbordjie skuur en die hoekpaal aan die ander kant dophou, kom hy van voor af aangehardloop en help met handgebare om my die pad te wys tot die groot wa veilig deur is.
Kry jou plek
Die staanplekke is op 'n lang plat grasperk langs die rivier uitgelê en die staanpleknommers is op plaatjies teen pale aangebring. Dis nie die dood van Katryn nie as jy dalk jou staanpleknommer vergeet en nie jou oordkaart saamgebring het nie. By die badkamergebou, langs die pad in die middel van die oord, is 'n oordkaart, kontaknommers en die gastelys met staanpleknommers teen die muur opgeplak.
Die 26 staanplekke deel ses kragbokse (gewone huissokke) wat kophoogte teen pale vasgesit is. Bring 'n verlengkoord saam sodat jy krag na jou staanplek kan aanlê. Elke sok het sy eie stroombreker en die hoogte daarvan is 'n goeie plan om kinderhande weg te hou. By elke kragbokspaal staan ook 'n kraan.
Buiten 'n ry regop Chinese populiere op die rand van die grasperk is hier nie veel ander koeltebome nie, maar die meeste van die staanplekke het latafdakke vir welkome koelte as die son bak. Die kante van die voorste staanplekke se afdakke is ook met houtlatte bedek. Elke staanplek het 'n losstaande braaidrom op 'n staalraam wat jy en 'n helper kan skuif tot op die regte plek.
Wasplek
Netjiese badkamers is boaan die meeste kampeerders se lys, en Oewerzicht se eenvoudige dog goed beplande en silwerskoon badkamers slaag die toets.
Voor in die ablusiegebou is 'n gesinsbadkamer, 'n vrouebadkamer aan die regterkant en een vir mans links. In die ruim gesinsbadkamer is 'n onafgeskorte stort, toilet, wasbak en 'n spieël.
'n Mens sal dink die water gaan die wêreld vol spat as jy stort, maar die eienaars het eers gedink en toe gebou. Die stortkop sit hoog en spuit direk na onder - en die badkamer is só groot dat die ander helfte droog bly.
Die aparte badkamers vir mans en vroue is ook slim uitgelê. Waar jy instap, is wasbakke met 'n spieël agter dit. Tussen die wasbakke is genoeg spasie dat jy en twee kampbuurmanne nie hoef elmboë te stamp nie. Die gladgepleisterde wasbakblad is lekker groot.
In twee van die drie storthokkies stort jy onder die blou lug of sterrehemel, tussen mure van houtlatte en skadunet sodat niemand jou van buite af kan sien nie. Die droë deel (met 'n betonbankie) en nat deel het nie 'n skeiding tussenin nie, maar die stortkop sit ook reg bo jou kop en die water spat nie tot by jou skoon klere en skoene nie.
Jy was jou skottelgoed in opwasbakke buite die gebou.
Langs die oordkaart en gastelys is 'n "Wanted"-plakkaat met 'n foto van Spottie, die steekhaarbrak. Die eienaars vra dat kampeerders nie vir Spottie sal kos gee nie, want hy raak lastig.
Ry die stroom

Die kampplek het nie 'n swembad nie - jy swem in die rivier. Die water is silwerskoon en voor die regterkantste staanplekke is dit vlak - 'n lekker plasen speelplek vir kinders. Stroomop, by die staanplekke verder weg van die hek af, is dit diep genoeg vir groot manne om ook af te koel en rond te dobber.
Net nadat ons in die kampplek ingetrek het, hou nog 'n gesin ook stil. Hulle kar se deure vlieg dadelik oop en vier kinders pyl reguit badkamer se kant toe. Dis egter nie om die badkamer te gebruik nie, maar om binnebande en twee roeiski's te gaan haal wat vir die gebruik van die kampeerders langs die badkamers gesit word.
Stap brug toe
In die kampplek is twee swaaie vir die jong klomp, en by 'n hangbrug nader aan die kantoor 'n enorme grasperk teen die bult af. Hier's ook 'n klimraam waarop die kinders kan klouter.
Die hangbrug strek van die einde van die grasperk af tot aan die ander kant van die rivier. Dit is aan die kante met tou toegevleg en veilig gemaak selfs vir jonger kinders.
Links van die brug is 'n klein pont waarop die groter kinders met behulp van 'n tou-en-katrolstelsel heen en weer oor die rivier kan vaar.

Groet vir Sheila
Langs die badkamer is Sheila Hombile se winkeltjie waar jy enigiets van malvapoeding, boerewors, 2 l Coke tot hout en ys kan koop.
Die winkel is nie heeldag oop nie, en op Vrydae is dit net van 7-8 nm. en Saterdae van 10-11 vm. en weer van 5-6 nm. af oop. Jy kan ook jou wasgoed by Sheila ingee vir 'n was en tuimeldroog.
As jy oor 'n naweek hier kamp, is dit die moeite werd om by Greyton se Saterdagmark te gaan draai. Dis onder in die hoofstraat - mik vir die NG kerktoring met sy weerhaan, want die mark is regoor die kerk. Dis nie jou tipiese stedelike straatmark met 'n swetterjoel helderkleurige plastiekgoed nie.
Dis 'n plaasmark waar jy enigiets van 'n varsgebakte ciabatta van klipgemaalde meel tot eksotiese brandnetel of gemengdekruiekaas vir 'n handgrootte kaaswiel kan uitsoek.
En hier is pannekoek - kies tussen tradisionele pannekoek met kaneelsuiker of pannekoek met suurlemoensmeer. En vir klein Jannie is hier unieke speelgoed.

Dís hoe jy ry
- Draai regs in Ds. Botha-straat waar jy Greyton van die N2 af inry, en ry dan tot waar die pad grondpad word en vurk - hou regs by die vurk.
- Ry 560 m en draai regs by die Oewerzight-bord.
- Volg die pad vir 3,7 km, draai links en ry nog 4,5 km tot by die kampplek (links) en die kantoor 450 m verder aan die regterkant.
- GPS: S34.101198 E19.666357
WegSleep sê: Bring die bergfietse saam. Hier is nie minder nie as 25 km se fietsroetes waar die hele gesin kan kom trap vir 'n vale.














