Reis

Knak ’n koue

Boetiekbier is die nuwe swart, en 'n besoek aan 'n onafhanklike brouery is 'n lekker daguitstappie vir die hele gesin: Leer hoe bier gebrou word proe 'n paar en smul aan 'n kaasbord terwyl die kinders buite baljaar.

Hier's 5 bierbrouerye, net betyds vir die naweek!

SAGGY STONE-BROUERY, ROBERTSON

Bier uit die berg

Kom tuur hier oor die Langeberg terwyl jy teug aan 'n Dark Horse. Of 'n Big Red Ale. Of dalk 'n California Steam…

Adrian en Phillip Robinson, twee broers, het 'n plaas in die Nuyvallei gekoop om met vrugte te begin boer. Biermaak was 'n stokperdjie, maar kort voor lank in 2007 het hulle dié tydverdryf tot 'n volledige onderneming uitgebrei en begin boetiekbier maak. Saggy Stone gebruik bergwater in die biermaakproses - en dis aan dié vars water wat hulle die sukses van die bier toeskryf.

Die klipgeboutjie waarin die mikrobrouery vandag gehuisves word, was eens 'n kerk. Die locals spot dis steeds 'n plek waar mense sing.

Die naam Saggy Stone is afkomstig van die familie se kuierplek in die berg wat afgebrand het, en toe herbou is met klippe. Naweke het bobbejane daar gekuier en veroorsaak dat die hele klipmuur insak, vandaar die naam.

Die hele gesin kan vir die dag hier kom uitspan - hier is koel sitplek onder die bome en 'n speelplek vir die kinders. Kom eet by die Classy Mountain Pub & Restaurant, tussen die pruimboorde en grasperke. Gaste kan ook van die ryp pruime pluk.

As jy net een bier bestel: Die Big Red Ale is 'n ryk bier met komplekse geure - iets lekkers om stadig aan te teug.

Waar? Op die Amandalia-wyn-en-vrugteplaas teen die Langeberg tussen Worcester en Robertson op die R60.

Oop Vrydag tot Maandag van 11 vm.-4 nm. Saggy Stone is ook op openbare vakansiedae oop, behalwe op Goeie Vrydag en 25 en 26 Desember.

Kontak 083 453 3526; saggystone.co.za

-Vania Jooste

EMERALD VALE-BROUERY, CINTSA

Eie aan die Wildekus

Groen heuwels wat die vertes in rol, skouspelagtige strande en Nguni-beeste se traak-my-nie-agtige houding. Ja, die Wildekus is 'n lekker vakansiekol. én nou kan jy ook goeie bier hier drink.

Die Emerald Vale-brouery lê tussen Cintsa-oos en -wes, net 'n paar kilometer van die N2 af, en dit is híér waar sowat 12 000 liter bier per maand gebrou word.

Die brouery het ook 'n restaurant, met 'n basiese spyskaart, wat pulled pork-slaai en kinderetes insluit.

As jy net een bier bestel: Die ligte, aromatiese Pale Ale is perfek vir 'n somersmiddag, terwyl die Gold Ale iets meer om die lyf het, met 'n effens bitterder smaak. Amber Ale is 'n donkerder bier met 'n toffie-nasmaak, en die Dark Ale is 'n ryk, donker bier met koffie- en sjokolade-geure. Die Gold Pilsner is die nuweling op hulle spyskaart en het 'n tikkie sitrus in. Hulle maak ook ystee.

Waar? Emerald Vale Farm, Oos-Kaap. Dit is 42 kilometer vanaf Oos-Londen.

Oop Woensdag tot Saterdag: 11 vm.-7 nm. Sondae: 11 vm.-5 nm. Gesluit op Maandae en Dinsdae.

Kontak? 043 738 5397; emeraldvale.co.za

-Tertius Kapp

BLACK HORSE-BROUERY, Magaliesburg

Vir luilekker Sondagmiddae...

Die Black Horse-brouery bevredig al jou naweekbehoeftes. Eerstens, dis naby - die voormalige Fries-stoeteryplaas tussen Hekpoort en Magaliesburg is skaars 'n uur se ry van Johannesburg af. Tweedens heers hier 'n ontspanne atmosfeer - perde, hoenders, blouapies en 'n paar honde loop vrylik rond.

Kom sit onder die blaredak van die pekanneutbome en tuur oor die Magaliesrivier terwyl jy bepeins watter een van die sewe biere jy eerste gaan drink.

Hier's ook 'n restaurant (met lywige porsies), snuisterywinkel, blyplek en 'n trouvenue...

As jy net een bier bestel: Die Golden Lager is 'n topverkoper. Ek het egter'n paar IPA's in my kattebak gelaai.

Waar? 32 Seekoeihoek / Bekker Schools pad Magaliesburg, 1793

Oop Woensdae en Donderdae: 8 vm.-8 nm.; Vrydae en Saterdae: 8 vm.-9 nm.; Sondae: 8 vm.-6 nm. Oop op openbarevakansiedae.

Kontak 082 453 5295; blackhorse.co.za

- Marianne Schwankhart

ANVIL ALE-BROUERY, DULLSTROOM

Vergeet die forel, hier's bier!

Hy het dalk die mees gepaste van vir 'n bierbrouer... Theo de Beer was in sy "vorige" lewe 'n natuurbewaarder, maar hy is reeds drie dekades lank besig om die fyn kuns van Europese bier te vervolmaak.

Theo brou sy bier op die perseel - tot soveel as 5 000 liter 'n maand. Jy ruik sommer met die intrapslag die hops en gis.

Hy wys graag vir mense hoe hy te werk gaan om die bier te brou - hy glo in 'n kraakvars produk: Sy bier bevat geen onnatuurlike bymiddels nie en is ongepasteuriseerd. "Dis hier is waar die aksie is," gesels hy terwyl ons tussen die gis- en koelkamers en die tenks, ketels en potte deurloop. "Ek begin soggens vieruur en druk dikwels deur tot negeuur in die aand."

Dit is al die sweet werd - die bier proe besonders. Op die spyskaart is die Blond Ale, Pale Ale, Black Anvil ('n gewilde "girly" bier, volgens Theo), White Anvil (verfrissend vir die somermaande) en die Biere d'Saison, so reg uit Europa. Hy eksperimenteer graag met nuwe biere wat Europese en Suid-Afrikaanse style versoen, soos "Bookoo", 'n Belgiese witbier met boegoe wat by geleentheid beskikbaar is.

Proe, bestel 'n tapbier en sit by die piekniektafels buite of koop 'n bottel of drie vir die huis. Die spyskaart het lekker happies soos Duitse wors, forel en roereiers, 'n kaasbord en selfs 'n "boozy" koek vir nagereg.

As jy net een bier bestel: Die Blond Ale, met 'n sitrus-aroma gemaak met hops uit Nieu-Seeland, is volgens Theo dié verfrissende "intreebier" vir Suid-Afrikaners. "Daar ís lewe ná Castle," reken hy.

Waar? Laaste gebou op linkerkant in Naledistraat, rigting Lydenburg.

Oop Weekdae en Sondae 8 vm. - 4 nm. Vrydae en Saterdae 8 vm. - 5 nm. Gesluit op Dinsdae.

Kontak 013 254 0197; anvilbrewery.com

-Erns Grundling

CLARENS-BROUERY, CLARENS

Die Vrystaat se bierpionier

Stephan Meyer brou al sedert 2006 by dié mikrobrouery - die Vrystaat se eerste. Tot 8 000 liter se bier én appelwyn word elke maand gebrou.

Kom ervaar eerstehands hoe die bier gemaak word en sorg dat jy oorgenoeg tyd oor het om ná die toer hier uit te span en mense te kyk - dit is reg langs die "dorpsplein" se grasperk.

Behalwe vir hul bekende biere soos Clarens Blonde, Clarens IPA, Clarens Stout en Clarens Red, is hier ook verskeie nuwes: Die Clarens 1912 is 'n Amerikaanse pale ale - 'n somerbier met dennepit- en sitrusgeure. Of die speelse Clarens Goes Nuts - 'n bruin ale met 'n haselneutgeur.

Hulle maak ook jenewer, sappe, likeure en appelwyn.

As jy net een bier bestel: Die bekroonde Clarens Red se hops het 'n geurige vrugtekarakter. Dié moutbier herinner glo aan 'n bier gewild aan die VSA se weskus - dit is verfrissend en gly soepel keelwaarts.

Waar? Winkel 1, Rosemarysentrum, Hoofstraat 326.

Oop Maandae tot Saterdae:10 vm.-7 nm. Die kombuis sluit 5 nm. behalwe op Saterdae, wanneer dit eers 6 nm. sluit. Sondae: 10 vm. - 6 nm, kombuis sluit 5 nm.

Kontak 058 256 1193; 082 901 4700; clarensbrewery.co.za

-Erns Grundling

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM