Reis

Knysna is (steeds) oop!

Knysna pronk trots op die voorblad van ons Junie 2017-uitgawe. In die artikel vertel ons jou van die woude, water en gasvryheid wat dié dorp een van die land se voorste toeristebestemmings gemaak het. Op 7 Junie 2017 het die grootste brand wat Knysna in meer as 'n eeu gesien het egter uitgebreek: Byna 500 huise het afgebrand, en meer as 10 000 hektaar woude en plantasies is verwoes. Mense moes in die middel van die nag uit hulle huise vlug terwyl brandbestryders van reg oor die land gekom het om die vuur te blus. Teen die tyd wat hulle die brand vyf dae later onder beheer gebring het, het die vlamme ook sewe lewens geneem.

Ons het verlede week teruggegaan na Knysna om te kyk watter impak die brande gehad het op die plekke wat ons in ons artikel noem.

Langs die N2 oorkant Witbrug smeul dit nog. Die wind is doodstil en as dit só bly, sal die klein vure 'n stil dood sterf. By die sportterrein oorkant Knysna se kaai is honderde brandbestryders langs markiestente besig om rugbyballe rond te skop - slaggereed vir wanneer die wind die brand weer laat opvlam.

Dit het plek-plek tot teenaan die N2 gebrand, by die afdraai na Ou Kaapseweg het 'n paar huise, insluitende die Knysna Terrace-gastehuis, afgebrand - asook die Idle Monkey B&B 700 m verder. Die dele van Knysna wat die ergste geraak is, is die deftige Knysna Heights, Belvidere, Lake Brenton, Brenton-on-sea, Welbedacht, Wit Lokasie, die Rheenendal- en Buffelsbaai-pad, die westelike deel van The Heads en Knysna se bodorp. Die Pledge-natuurreservaat in die hart van die dorp se hekke is gesluit, en deur die tralies sien 'n mens die verbrande oorblyfsels van die kaartjiekantoor.

Tog het Knysna nie gaan stilstaan nie - die dorp is nog oop vir besigheid. Groot gedeeltes van die gebied en dorp is ongedeerd en behalwe vir Harkerville het nie een van die Tuinroete- nasionale park se woude skade gelei nie. (Selfs die groot boom staan nog!) Uit die 56 plekke wat Weg besoek het vir Junie se hoofartikel, het die vuur net 9 verniel of verwoes. [Sien kaart onder.] Party plekke was gelukkiger as ander: By die Holy Trinity-kerkie in Belvidere en die Elalini-backpackers op die Buffelsbaai-pad, het die vlamme aan die grensdrade gelek maar geen skade aangerig nie.

Wat kan jy dus doen om te help? Kom kuier! Die Knysna Oesterfees gaan steeds voort soos beplan (van 6 tot 17 Julie) en jy hoef nie jou eie oesters te bring nie. Verlede jaar met dié fees het besoekers omtrent R110 miljoen hier spandeer. Dit gaan nog lank vat om om die skade te herbou, maar tot dan is hier steeds woude, water en tonne gasvryheid.

Hierdie kaart sal vir jou die inligting gee oor hoe die brand toerismeplekke in en om Knysna geraak het. Kliek op die ikone om meer oor elke plek te lees. In party gevalle is daar foto's van voor en ná die brand te sien.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM