Reis

Kom vinniger deur Beitbrug

Bang vir Beitbrug? Gebruik ons raad om vinnig en pynloos deur dié grenspos te seil.

Zimbabwe se toerisme-owerheid probeer om een van Suider-Afrika se nagmerriegrensposte - Beitbrug - makliker te maak vir toeriste. Weg se reisredakteur, Toast Coetzer, het dit onlangs beproef en sê dit werk soos 'n bom.

Die owerheid het nou 'n groep beamptes op bystand naby die grens. Jy kontak hulle 'n dag voor jy beplan om deur die grens te gaan, en dan weer wanneer jy daar is. Dan ontmoet een van die beamptes jou en vergesel jou deur.

Skakel die areabestuurder, Bertha Mutowembwa by 00263 286 23640/1, 00263 772 344 317, 00263 712 320 428 of per e-pos berthamuto@gmail.com. Probeer ook die bemarkingskonsultant Lindarose Ntuli 00263 772 409 373; lindarosentuli@gmail.com.

Die diens is gratis, maar daar is 'n paar kansvatters wat maak asof hulle dié diens verskaf teen 'n fooi. Indien enigiemand jou vir geld probeer vra, is dit nie 'n regte beampte nie.

Hou die volgende in jou motor gereed as jy Zimbabwe toe gaan:

• Glimbaadjies

• ZA-plakkers

• 'n Brandblusser

• 'n Paar veiligheidsdriehoeke

• Padbelastingpapiere

• 'n Brief van jou bank as die voertuig nog afbetaal word

• Jou rybewys en paspoort (ja, veral as jou rybewys gewoonlik in jou werksmotor se paneelkissie lê)

Onthou ook dat jy oor die volgende oortredings in Zimbabwe beboet kan word:

• Brandblusser van minder as 1 kg

• Brandblusser verby sy vervaldatum of een waarvan die druk te laag is.

• Geen net oor die bagasie op jou dakrak nie

• Weerkaatsers: In Zimbabwe moet jy twee wit weerkaatsers op die voorste hoeke van jou voertuig én twee rooi weerkaatsers agter hê. En as jy 'n bakkie ry, moet jy 'n lang rooi weerkaatser oor die agterkant van die voertuig hê; 50 mm breed en wat tot 400 mm van die kante van die voertuig strek

• Goedere en passasiers wat saam op die agtersitplek vervoer word ('n boks op die sitplek agter die bestuurder en 'n passasier aan die ander kant kan dus 'n boete beteken)

• Spoeg uit jou voertuig

• Rommel by die vensters uitgooi

• As jou ligte iemand van voor af verblind

• As jy oor 'n oranje verkeerslig ry

• As jy jou toeter "misbruik"

• As die owerhede besluit jy toon "abusive behaviour". Dis ietwat vaag, maar dit beteken jy kan beboet word as jy jou soos 'n kapokhaantjie gedra teenoor wetstoepassers.

Maar onthou ook: Die regulasies maak dit duidelik dat 'n polisiebeampte sy of haar rang, naam en nommer moet gee en dat die boete met die invul van 'n amptelike skuldbekenningsvorm (Vorm Z69j) gepaard moet gaan.

Die maksimum afkoopboete is $20. Enige beampte wat meer as dit vra, vat 'n kans.

Laastens, onthou om die datum op die stempel in jou paspoort na te gaan. Zim is baie streng hieroor!

Charles Thompson

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM