Teks en foto's Helenus Kruger
Ken jy die Thabaledi-wildslodge in die Bosveld? Dan sal jy weet hoekom die naam in Tswana "berg van die sterre" beteken. Die goeie nuus is dat kampeerders nou ook kan kom sterre kyk.
Die Bosveld is 'n voorkeurbestemming vir kampeerders, met talle oorde, wildsplase, private reservate en woonwaparke waar jy kan afhaak en tentpenne inslaan. Die natuurskoon, wildlewe, sonsondergange en matige winters dra alles by tot die gewildheid van dié streek. Boonop is dit sommer om die draai as jy in Johannesburg of Pretoria woon: Jy mik jou kar se neus noord en binne 'n uur of twee kan jy in die koelte van 'n Bosveldboom uitspan en van jou stadsorge vergeet.
Kort voor Kersfees laasjaar het die Thabaledi-lodge, net noord van Brits, sy hekke vir kampeerders oopgegooi. Nog voor Kersvader die takbokke voor sy slee kon inspan, is die eerste tente by Thabaledi opgeslaan.
Neels Beyer en sy vrou, Catheleen, is nou al 'n jaar aan die stuur van sake by die lodge en die kampterrein is onder hulle wakende oog ontwikkel.
Neels sê baie mense het by die lodge aangeklop om te hoor waar in die omgewing hulle kan kamp. Hulle het toe besluit om vir kampeerders 'n stukkie van hulle Bosveld te gee.
Kry jou staan
As jy by die hek inry, lê die kampplek 100 m verder aan jou linkerkant. Jy hoef egter nie verby te ry om eers by die ontvangs te gaan inboek nie, want die hekwag het reeds laat weet jy het aangekom en Neels wag jou sommer by die kampplek in.
As jy nie vooraf 'n spesifieke kampplek bespreek het nie, sal Neels vir jou die beskikbare kampplekke wys waaruit jy kan kies. Daarna is Thabaledi se span helpers byderhand om jou te help kamp opslaan.
Die 32 staanplekke met hulle bokname is weerskante van drie parallelle paaie uitgelê. Jou staanplek het 'n sementblad (3 x 6 m) vir jou wa en langsaan is 'n blok gras vir die tent. As jy net 'n tent opslaan, kan jy die sementblad as 'n stoep en kuierplek gebruik. Tussen die staanplekke is daar net grond, maar Neels sê hulle saai een van die dae kweekgras.

Die staanplekke is slim uitgelê en jy en jou buurman hoef nie vir mekaar te staar nie. Hier en daar sorg boompies en bosse tussen die staanplekke ook vir ekstra privaatheid. Die nadeel van die boompies is dat jy jou wa 'n paar keer vorentoe en agter toe moet stoot en 'n paar fyn draaie moet maak om hom op die sementblad te kry.
Koelte by die staanplekke wissel - by omtrent die helfte van hulle gaan jy iewers deur die dag 'n skadukolletjie kry. Die aanplanting van immergroen bome is ook op Neels-hulle se beplanningslys.
Jy en 'n buurman deel 'n kragboks, lig en kraan. Om krag tot by jou staanplek aan te lê moet jy 'n verlengkoord van so 20 m en jou blou woonwakragsok inpak.
Hier is drombraaiers met roosters as jy nie jou eie braaier saamgebring het nie. Vullisdromme word gedeel.
Seep en water
By Thabaledi hoef jy nie in 'n tou te staan om te stort nie. Jy het jou eie, private badkamer en jy kry die sleutel wanneer jy inboek. Die staanplekke is rondom agt klein ablusiehuisies uitgelê en dis net 'n paar treë se stap tot by jou badkamer.
Elke huisie huisves vier ruim badkamers (2,3 x 2,3 m) - drie met 'n stort en een met 'n bad. Die afwerking binne is duursaam en netjies. Behalwe vir die bad of stort het elke badkamer ook 'n wasbak en toilet. Bo die wasbak is 'n kassie met spieëls in die deurtjies, 'n seepbakkie en hangplek vir 'n gesighanddoek. Langs die stort is 'n handdoekreling en 'n hakie waaraan jy jou skoon jean en T-hemp kan ophang. Elke badkamer het ook 'n sitbankie en vullismandjie.
Die storthokkie (0,86 x 0,86 m), met 'n seepbakkie, is in die hoek van die badkamer en jy stort agter 'n deur en sypaneel van glas. Die ander twee sykante is tot bo geteël, en so ook die hele badkamervloer én die stukkie muur reg bo die wasbak. Die energiebesparende lig het 'n bewegingsensor en skakel vanself aan en af.
Elke ablusiehuisie het 'n gasgeiser en danksy 'n drukvoerstelsel met 'n ingeboude waterpomp kan jy en die bure almal gelyk onder 'n lekker sterk stroom water in die stort staan (Dis nou elkeen in sy eie stort… - Red.)
Buite elke badkamergebou is 'n onderdakopwasplek met 'n vlekvryestaalwasbak vir jou skottelgoed en 'n sementbak vir jou vuil kampklere.

Raak rustig
Aan die suidwestelike punt van die kampplek is 'n swembad met 'n waterval aan die diep kant (1,6 m) waar die kroos kan bommies maak. Teenaan dié swembad is 'n kinderswembad (0,6 m) met 'n muurtjie wat keer dat die kleintjies na die groot bad toe dryf.
Die hoofattraksie is egter sowat 300 m van die kampterrein af: Twee swembaddens wat omring word deur die U-vormige hoofgebou. Hier kan jy jou op die welige kikoejoegras met Chris Carsten se jongste misdaadboek of jou nuwe WegSleep tuismaak. Hier is koeltebome, lêstoele en sonsambrele.

Die twee swembaddens het, net soos die een by die kampterrein, 'n rotstema met 'n waterval by die diep kant. Die groter swembad bestaan uit drie sirkels, met die boonste klein sirkel vir beginnerswemmers (0,4 m diep). Jy moet die kinders maar goed dophou as hulle daar swem, want daar is nie 'n skeidingsmuur tussen hulle poel en die grootmense s'n nie. Die groter gedeelte word geleidelik dieper tot by 1,6 m.
Die kleiner swembad is op sy diepste ook 1,6 m en het 'n afsonderlike kinderpoel van 0,7 m diep.
Regoor die swembaddens, weg van geboue af, is 'n watergat waar die wild gereeld kom keel natmaak. As jy self wil keel natmaak, is die kroeg 'n paar treë weg van die swembaddens af. Hier is rusbanke waarop jy kan ontspan terwyl wildtrofees jou van die mure af dophou. Hier kan jy die dag se sport op 'n grootskerm-TV kyk - en as dit nie te waffers gaan met jou span nie, kan jy oorskuif na die ander platskerm en met behulp van webkameras die wild by die watergate dophou.
Terwyl die kinders swem en baljaar, kan jy in die boma 'n tjop op die kole gooi. Hier is 'n sirkelvuurmaakplek en geboude braaiers met roosters, bankies en tafels waar jy om die vuur kan kuier.
Speel en kyk wild
Diegene wat van buitesport hou, kan tennis en vlugbal speel en die kinders kan op 'n klimraam en trampolien baljaar. En in die speletjieskamer kan jy pool, veerpyltjies en tafeltennis speel terwyl Kleinsus in die speelhoekie 'n kinderboek lees of DVD kyk. Die stokke, rakkette, veerpyltjies en balle kry jy by die kroeg.
Jy kan jou stap- of drafskoene aantrek of op jou bergfiets klim en die wildroetepad vat. Dis 2,4 km se stap tot by die Sunset-dek waar jy kan kyk hoe mooi die son in die Bosveld opkom en sak. Neels-hulle maak ook 'n fietspad deur die bos wat een van die dae klaar behoort te wees.
Vroegoggend en laatmiddag is dit tyd vir 'n wildsrit saam met Neels - iets wat jy nie moet misloop nie. Neels is 'n lopende ensiklopedie as dit by diere en plante kom. Jy kan langs die pad onder meer kameelperde, elande, sebras, koedoes, gemsbokke en wildebeeste sien - en as jy baie gelukkig is, 'n bakoorvos of bruinhiëna. Hier is selfs al luiperdspore opgemerk.

In die kampwinkel kan jy bevrore vleis, basiese kruideniersware, lekkergoed, koeldrank, roomys, ys en toiletgoed koop.
As jy dag te lui is vir braai of kosmaak, kan jy by die restaurant aansit.
Dis hoe jy ry
• Neem die R511 van Brits na Thabazimbi en ry sowat 50 km.
• Draai regs af by die borde vir Leeupoort, Thabaledi en die Assen-polisiekantoor en volg dié pad vir 1 km.
• Draai regs af op die Rashoop-grondpad en volg die grondpad vir 8 km tot by Thabaledi se hek aan jou regterkant.
GPS: S25.230210 E27.647890 (hek)
WegSleep sê: Bring in die somer jou swembroek en sonbrandolie, want hier kan dit warm raak.














