Die Stad Kaapstad het van 1 Februarie af selfs strenger waterbeperkings ingestel (vlak 3B) toe damvlakke tot onder 39% gedaal het (lesing op 30 Januarie geneem). Hoewel baie mense by die beperkings hou, het die Moederstad toe steeds 807 miljoen liter per dag gebruik - 7 miljoen liter meer as die teiken.

'n Vol Wemmershoekdam naby Franschhoek (links) lyk heeltemal anders as op dié foto wat in Januarie 2017 geneem is (regs).
Hier is nog waterbesparingswenke.
Doen die voor die hand liggende goed
- Maak enige lekkende kraan in jou huis reg. As die lesing op jou waterleser te hoog lyk, het jy dalk 'n lekplek waarvan jy onbewus is. Toets dit so: Draai al jou krane toe en kyk of jou watermeter steeds loop.
- Hou op om die kraan onnodig te laat loop - dis skoon, drinkwater wat jy by die drein laat afloop.
Laat só elke druppel tel
In die badkamer
- Wanneer 'n mens stort moet jy gewoonlik wag vir die water om warm te word: Sit 'n emmer onder die stroom om die water op te vang. Jy sal verbaas wees om te sien hoeveel water jy versamel voor jy in die stort klim.
- Hou tyd. Probeer om vir net 3 minute te stort. 'n Paar hotelle in Kaapstad het die krane van die baddens afgehaal, sodat mense moet stort, terwyl ander hotelle die gaste aanmoedig om met 'n emmer te stort.
- Sit 'n baksteen in die toiletbak om die watervloei te verminder.
- Of nog beter: Vervang die stelsel met 'n dubbel-spoelstelsel, waar jy die opsie het om net 'n halwe spoel te gee.
- Sit 'n houer in die badkamer- en kombuiswasbak. Só kan jy water opvang wanneer jy jou hande was of groente afspoel.
In die kombuis
- As jy 'n skottelgoedmasjien het, gebruik die ekonomiese verstelling en maak seker die masjien is vol voor jy dit aanskakel. Moenie die skottelgoed vooraf afspoel nie (krap net die kos af). As jy móét afspoel - gebruik die water wat jy in die wasbak opgevang het.
- Spoel groente in 'n houer af en nie onder 'n lopende kraan nie.
Wasgoed
- Party bolaai-wasmasjiene het 'n outomatiese verstelling wat die klere twee keer uitspoel. Kyk in die handleiding of daar'n verstelling is wat die bondel net een keer uitspoel. As jy 'n nuwe wasmasjien moet koop, kies eerder 'n voorlaai-wasmasjien of vermy bolaai-masjiene met dié funksie.
- Bolaai-wasmasjiene gebruik sowat 170 liter water per was, terwyl voorlaai-masjiene net helfte daarvan gebruik. (Jy kan ook die emmer skoon water wat jy voor jou stort opgevang het in jou bolaai-masjien gebruik.)
- Water van jou wasmasjien is gryswater. Heg 'n tuinslang aan die wasmasjien se uitlaatpyp vas. Vang dié water in 'n emmer op of laat dit reguit in jou tuin uitloop. Jy kan dié water ook gebruik om die toilet te spoel. Indien moontlik, gebruik bio-afbreekbare wasmiddels in jou wasmasjien.
Swembad
- Ja, dis somer, en jy wil swem, maar moenie jou swembadwater aanvul nie.
- Kry 'n swembad-oortreksel om te verhoed dat water verdamp. 'n GeoBubble-oortreksel is nie so duur soos ander oortreksels nie (vanaf sowat R90 per vierkante meter).
- Belangrik:'n GeoBubble is nie 'n veiligheidsoortreksel nie en moet nooit gebruik word om te verhoed dat kinders en troeteldiere verdrink nie.
- Laat 'n pyp van jou geute af tot in die swembad loop - só kry jy'n gratis aanvulling wanneer dit reën.
Tuin
- As jy dit kan bekostig, installeer 'n gryswaterstelsel vir julle huishouding. Gryswater bestaan uit bad-, stort-, wasbak- en wasmasjienwater. Moenie kombuiswater gebruik nie - die vetinhoud is skadelik vir jou plante.
- Heg 'n pyp aan die uitlate vas en laat dit reguit in jou tuin uitloop of vang dit in 'n houer op. Dis beter om dié water binne 24 uur te gebruik om bakteriële groei uit te skakel.
- Laat 'n pyp van jou geute af tot in jou tuin loop. Jy kan ook in 'n reënwatertenk belê om water te bêre vir toekomstige gebruik.
Wat behels vlak 3B-waterbeperkings?
- Jy mag jou tuin net voor 9 vm. en ná 6 nm. op Dinsdae en Saterdae met 'n emmer of gieter natlei. Geen tuinslange nie!
- Jy mag nie natlei of enige besproeiing doen binne 48 uur na dit genoegsaam gereën het nie. Dit geld ook vir boorgate, behandelde rioolwate, bronwater en putpunte.
- Moenie jou motor met munisipale drinkwater was nie. Gebruik nie-drinkbare water of gaan na jou plaaslike karwasplek.
Meer inligting:www.capetown.gov.za/thinkwater













