Reis

Leser vertel: Só kamp jy 007-styl

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Joggie was sy tyd vooruit met die daktent op sy Opel. Sy kontrepsie was só vindingryk dat hy selfs vir James Bond beïndruk het.
Joggie was sy tyd vooruit met die daktent op sy Opel. Sy kontrepsie was só vindingryk dat hy selfs vir James Bond beïndruk het.

In Desember 1974 het ek en my vrou, Annette, en ons drie kinders besluit ons gaan aan die Wildekus kamp, siende dat ek versot is op seehengel.

Maar hoe gemaak? 'n Karavaan had ek nie, maar wel 'n sleepwaentjie, 'n tweemantent en 'n sessilinder-Opel. Maar 'n boer maak 'n plan.

'n Viertrekvoertuig was in daardie tyd nog nie eintlik die in ding nie, behalwe in die army. Toer en slaap was die eerste prioriteit, maar om elke dag tent op te slaan en bed op te maak, was uit. Die sitplekke van die Opel kon platslaan om 'n dubbelbed te vorm, so daar was genoeg slaapplek vir die drie kinders - hulle was so tussen drie en sewe jaar oud.

Daarna was dit nog net ek en Ma.

Toe begin ek dink: Ek wil hengel en Ma wil in gerief toer. Ná 'n paar dinkskrums kom ek toe met dié idee vorendag: Ek bou 'n dakrak wat groot genoeg was vir my tweemantent (die beste van alles was dat ons dubbelbedmatras daarin gepas het).

Ek vat toe Ma se werksmasjien en werk die deur van die tent toe en sit 'n rits aan die kant in en ek bou 'n leer om op en af te klim.

Nou moet ek sê, baie mense het gelag en gespot oor die daktent, of "kontrepsie" soos hulle dit genoem het. Die storie het versprei en mense het kom kyk en lag en spot.

Uiteindelik is die kontrepsie voltooi met 'n A-vormige, ronde yster wat voor en agter in die tent geskarnier het, sodat ek net 'n toutjie hoef te getrek en geanker het om die tent staan te maak.

Met die matras binne-in en die bed opgemaak, kon ek die twee A-vormige pale net laat sak en die hele spul met 'n groot stuk plastiek toemaak. Ek het tot 'n liggie ook ingebou.

My sleepwaentjie het ek ingerig met afskortings binne-in en ons het lekker getoer, visgevang en als. Die dakrak het 'n sonskerm ook gehad.

Ons het in baie karavaanparke gekamp en ek het daar ook 'n gespottery verduur.

Toe besluit ek om die ding te patenteer. Dit het só gebeur: Op ons toer kom ons toe by Port St. Johns uit en ek besluit ons het genoeg geld oor en ons boek toe by 'n hotel in.

Daar was net twee hotelle. Die eienaar van die hotel, ou Skipper Hartman, en ek het sommer gou vriende geraak.

In daardie stadium het hulle die fliek van James Bond 007, Shout at the Devil, daar gemaak. Die Saterdagaand is daar 'n boerebraai vleis in die boma gehou en ek en Anette is ook genooi. Dit was net vir die akteurs, aktrises en tegnici.

Ek het vir Ragel (sic) Welch ontmoet en my vrou het vir Roger Moore die sakkie-sakkie geleer.

Naderhand, teen so eenuur die oggend, het ek en van die Amerikaners gaan kyk na my "kontrepsie". Nie een het met my gespot nie; ek is net geprys. Dis toe dat ek besluit om die ding te patenteer, want as hulle dit laaik, is dit mos groot.

Ná die registrasie van die patent, het ek dit probeer verkoop, maar niemand het belang gestel nie. Party het selfs vir my gelag. Ek het die patent toe laat verval.

Vandag sien jy die tente oral en met my pensioen kan ek nie eers een bekostig nie, al wil ek so graag een hê.

  • Joggie het dié artikel opgedra aan sydrie kinders wat hom heeltyd aangespoor het om dit te skryf.

Nota:

Shout at the Devil isnie 'n Bond-fliek nie, maar gebaseer op 'n boek deur Wilbur Smith. Die fliek is wel gemaak in oorlede Roger Moore se tyd as 007.

Hierdie artikel het in die heel eerste WegSleep, nommer 1 van Januarie 2007, verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke weeklekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole injou inboks. Volg ons ook op Tiktok, Instagram en Facebook.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM