Reis

Loop lig vir ranglyste

Loop lig vir ranglyste
Loop lig vir ranglyste

Soms wonder ek of mense wat kampplekke op ranglyste plaas, enigsins hulle huiswerk doen. Dit is dikwels vir my duidelik dat die mense wat hierdie ranglyste saamstel, van die kampplekke nooit eens besoek het nie. Dit verhinder hulle egter nié om vleiende woorde soos waarde vir geld, skoon en netjies, rustiek, elegant en wat nog alles te gebruik nie.

Onlangs het iemand 'n lys van die 50 "beste" gesinsvriendelike kampplekke op 'n bekende webwerf gepubliseer. Dié lys is saamgestel op grond van kommentare wat mense op die webwerwe van kampplekke gelewer het. Om die kommentaar wat op kampplekke se amptelike kuberwerwe gelewer word vir dié doel te gebruik is 'n gevaarlike speletjie, omdat dit iets is wat maklik gemanipuleer kan word.

Dit voel ook vir my die een wat die lys saamgestel het, verstaan nie die fyner beginsels van hoe om 'n klompie menings te evalueer en sin daaruit te maak nie. Nóg minder besef sy dat maatjies vergulde praatjies op hulle vriende se webtuistes plaas.

Bestuurders en eienaars tree ook vriende en familie aan om hulle kampplek se beeld blink te poets, en menings in die kuberruim tel allermins as gesaghebbende inligting.

Ervare navorsers sal jou vertel dat 'n klompie menings nie noodwendig 'n volledige prentjie skets nie.

Ek kry ook die idee daar is baie verveelde mense wat die internet dophou en graag onsinnighede kwytraak. Hulle is ook lief daarvoor om aanlyn byltjies te slyp met kampplekke waar hulle, na hulle mening, 'n slegte ervaring gehad het.

Dan is daar ook die mense wat nie 'n inskrywing behoorlik lees nie en hulle naam krater maak.

Vra iemand waar is 'n lekker kampplek naby Pretoria met iets vir die kinders om te doen, dan is daar 'n magdom kommentare wat sonder skroom sommer die ATKV-Eiland-spa aanbeveel. Dit is mos nie "naby" Pretoria nie. En wanneer iemand vra vir "iets vir die kinders om te doen", skep dit die geleentheid vir suurpruime om te sê "kinders moet gesien en nie gehoor word nie" en "kinders moet hulleself kan besig hou".

'n Mening is bloot dit: 'n mening. Ervare navorsers sal jou vertel dat 'n klompie menings nie noodwendig 'n volledige prentjie skets nie.

Maar terug na die lys van 50 gesinsvriendelike kampplekke... meer as 'n hand vol kampplekke word byvoorbeeld aangeprys omdat daar hulp is om tente op te slaan, en daar word tee en skons bedien. Regtig? Is dit nie eerder die soort kampplekke waar net pensioentrekkers sal tuis voel nie? Is dit werklik die soort kampplek wat op 'n ranglys vir gesinsvriendelike bestemmings hoort?

Die stergradering van hierdie kampplekke word ook deurlopend vermeld, maar min van hulle word op die Toerismegraderingsraad se webwerf genoem.

Die hoofattraksie by twee kampplekke naby Graskop en Sabie is glo dagritte na die Krugerwildtuin. Dis natuurlik onsin. Die Kruger is verder as 100 km weg en dagbesoekers moet douvoordag al by die hekke wees om toegang tot die wildtuin te verkry.

Van al die kampplekke op die lys het een wel my oog getref. Dit is naby Citrusdal en bied, myns insiens, die beste waarde vir jonk en oud. Die kinders kan plaasdiere voer, koeie melk en perdry. En vir die grootmense is daar 'n boetiekbierbrouery, 'n sterrewag en allerlei buitelewe-aktiwiteite soos hengel, stap, bergklim en bergfietsry.

Ek kan egter nie die gevoel afskud dat die kampplekke moontlik betaal het om hulle plekkie op die ranglys te kry nie. En dat een of twee stukkies kommentaar gebruik is om die insluiting te regverdig.

*Hierdie artikel het oorspronklik in Weg Ry & Sleep #21 (April 2019) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het - stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.zaas jy so iets raaksien.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM