Reis

Luiperdlesse: Witkruisarende vs. kolkatte

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Megan Murgatroyd
Foto: Megan Murgatroyd

In die Wes-Kaap sien luiperdnavorsers ongelukkig basies nooit luiperds nie. Die data bestaan uit foto's van veldkameras, en tekens soos spoor en mis wat deur luiperds in die veld agtergelaat word.

Buiten vir die handvol bevoorregte siele wat af en toe 'n kolkat in die Wes-Kaap sien, is daar tog 'n groepie wat luiperds meer kere onder oog kry as verwag... voëlkykers! Meer spesifiek ornitoloë of entoesiaste wat witkruisarende dophou.

Die rede hiervoor is dat witkruisarende op 'n luiperd sal afduik as hulle een in hulle tuisgebied gewaar. Die roofvoëls swiep af grond toe en duik keer op keer direk op die luiperd af, soms met uitgestrekte kloue.

Só word die voëlkykers bewus van die teenwoordigheid van die luiperd - iets waarvan hulle andersins salig onbewus sou wees!

Daar is twee moontlike verklarings vir hierdie interessante antago-nistiese gedrag: Luiperds en witkruisarende is albei top-roofdiere, en in sommige gebiede ding hulle mee vir dieselfde prooi, naamlik dassies.

Die arende wil dus hulle mededingers verjaag, net soos wat hulle met ander roofvoëls sal doen. Die tweede moontlikheid is selfverdediging. Witkruisarende vang soms dassies wat dieselfde of swaarder as hulle weeg. Hulle kan dus nie die prooi optel en wegvlieg nie, en moet op die grond begin vreet.

Hulle is dan kwesbaar - 'n honger luiperd sal nie skroom om 'n dassie te steel nie, of selfs die arend te probeer vang nie. As die witkruisarende dus 'n luiperd van hulle hoë uitkykpunt af in die lug sien, maak hulle van die geleentheid gebruik om solank die kolkat te verjaag!

Volgens die vertellinge van diegene wat al etlike kere hierdie gedrag waargeneem het, lyk dit nooit asof die luiperd hom/haar vreeslik aan die arende se geduik steur nie, maar dit blyk dat die herhaalde geduik die kat ná 'n tyd irriteer en dan beweeg hulle tog weg.

As jy dus bittergraag 'n luiperd wil sien, hou 'n witkruisarend dop!

Jeannie Hayward

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM