'n Meneer van 'n kampkas
Kyk hierdie slim plan waarmee 'n WegSleep-leser, Gert Venter van Germiston, vorendag gekom het om dinge makliker weg te pak wanneer hulle kamp.
Wanneer ons langs die viswaters met ons tent en gazebo gaan kamp het, was daar altyd 'n probleem met die potte, panne, ketel en ander kombuisgoed wat los of in kratte gepak moet word.
Ek het besluit dit kan nie so aangaan nie en op die internet gaan soek vir oplossings. Dis waar ek op die "Chuck box" afgekom het wat die ouens in Amerika gebruik. Ek het die voorbeeld gebruik en een vir myself aanmekaargeslaan. Dit was nie moeilik om hom te bou nie en ek het hom al 'n klompie kere gebruik en 'n paar goedjies hier en daar in die proses verander. Nou het ek 'n kas wat min plek opneem, maar ook genoeg plek het vir al die potte en panne.
Die kas is 640 mm breed, 480 mm diep en hy staan 480 mm in sy sokkies. Hy pas maklik agter in 'n bakkie of sleepwa en jy laai hom sonder moeite in en uit. Ek het die laaie diep genoeg gemaak vir ons borde en messegoed. Die stofie pas ook knus en die kas en hy haal maklik uit wanneer ons hom wil gebruik. Wanneer die kas oop is, is daar ook 'n werkoppervlak van 1 360 x 480 mm wat altyd welkom is.
Die kas staan op 'n staander wat ek van aluminium gemaak het. Hy is stewig genoeg om die kas te hou, maar nie te swaar nie.











